Boek van die maand: ‘Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey’

Met Charl-Pierre Naudé se poësie in gedagte het ek gewonder hoe sy prosa sal lyk. Moontlik omdat sy koerantrubrieke in die verlede woordryk en soms minder samehangend voorgekom het. Ek was en is mateloos verras deur Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, Naudé se prosadebuut wat einde verlede jaar verskyn het. Die woordegevoeligheid en poëtiese inslag wat ʼn mens sou kon vermoed, is ruimskoots daar. Dis ʼn boek wat jou op verbeeldingsvlugte neem. Vasklou moet jy, want dié Pegasus is uitbundig.

Dit is ʼn roman wat aandag getrek het – die UJ-prys vir letterkunde is onlangs aan die boek toegeken – maar benewens al die literêre kwaliteite is dit in die eerste plek iets van ʼn speurverhaal wat op verskeie vlakke ontrafel kan word.

Gebruik ʼn mens die titel as sleutel tot die roman is Dirkie Verwey (gebore in 1952 en as vermis aangemeld in 1984) die hoofkarakter. Hoewel sy onskuld (lees kinderlike opregtheid) as “ongelooflik” getipeer word, strek die ongelooflike ook verder om die bonatuurlike in te sluit. Dit is juis in die domein van die ongelooflike waar dié verhaal hom afspeel. Die Lyksovlakte, iewers in die Karoo, om meer presies te wees.

Die verhaal van Dirkie Verwey en Anna Bandjies, wat begin waar dié twee in ʼn vurige omhelsing een weeksaand in die kerk op die dorp deur die koster aangetref word, word vertel deur ʼn joernalis, ene Hermanus Verdomp. Verdomp het die gebeure van die 1970’s en 1980’s (die tyd waartydens die boek afspeel) op die Lyksovlakte nagevors en opgeteken en besluit hy wil niks verder met die saak of die manuskrip te doen hê nie. Hy het intussen na Australië verkas en die manuskrip het met ʼn ompad langs Naudé bereik. Dit alles aldus die voorwoord. Naudé verkies om homself te sien as óf die skrywer van die boek (sy naam pryk minstens op die buiteblad) óf die annoteerder wat die manuskrip uiteindelik persklaar gekry het en dit laat uitgee het (die leser kan sy of haar keuse maak).

Die verhaal voltrek hom in die konteks van ewelewens en dié gegewe word op só ʼn manier aangebied dat die leser nie onverskillig staan teenoor dié moontlikheid nie. ʼn Mens kry trouens self dikwels ʼn gevoel van herkenning, van déjà vu, wat aangevul word deur historiese gebeure en verwysings. Boonop is daar liggings wat voortdurend van die landkaart (en terug-) glip. Op die Lyksovlakte word die “lyk so”-parallelle met die sewentigs, die era van gewaande optimisme en bravade in Suid-Afrika, nommerpas verdiskonteer – na buite, maar eweso ten opsigte van die binnewêreld(e) wat ʼn mens versin.

Die lywigheid van die roman (en ʼn mens sou kon dink dat redigering moontlik kon wees) dra by tot die verwikkeldheid van die bestaan wat voorgestel word. Niks is immer voor die hand liggend nie. En niks is eenduidend nie. Niks is nét fiktief of nét waarheid nie. ʼn Voorbeeld wat ʼn mens as leser in jou leesspore laat vassteek is Altus, “die majoor van Staatsveiligheid, die man van die Buro” wat konsuis ʼn gevoelige oor vir Beethoven-sonates het, se stelligheid dat Beethoven “b-blínd” was. Die meerduidigheid van dinge, wat ook ónwaarheid, verdigsel en politieke pypdroom insluit, word deel van die “ongelooflike onskuld” (of geloofbare skuld) wat deel was van die 1970’s en 1980’s, die jare van eindelose vergissing.

In die hoeveel parallelle wêrelde waardeur ʼn mens ook al in dié roman beweeg, is dit Naudé (of dan Verdomp) se verbeelding en humorsin wat die standhoudende vaste punt bly.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R297.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GBlitz ·

Verhale wat afspeel tydens die apartheidsjare is als goed en wel; ons mense sal seker nooit uitgepraat raak oor daardie tydperk nie. Maar dit is nou 25 jaar van “demokrasie”. Ons leef in n gans ander Suid-Afrika. Wanneer gaan daar belangrike romans oor hierdie tydperk geskryf word?
Dit voel vir my al asof te veel skrywers nog hul swaarde wil steek in n draak wat lankal reeds dood is, terwyl nuwe drake uit die bosse vir ons grom…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.