Boek van die maand: ‘Die troebel tyd’ deur Ingrid Winterbach

Dit is ʼn troebel tyd waardeur Magrieta Prinsloo, hoofkarakter in Ingrid Winterbach se jongste roman, gaan.

Troebel in dié opsig dat sy ʼn suksesvolle loopbaan as wetenskaplike – sy het navorsing gedoen oor die evolusionêre ontwikkeling van die filum Annelida uit die Ordovisium; op die erdwurm, om presies te wees – eiehandig in sy maai gestuur het toe sy haar departementshoof beledig het (volgens haar ʼn stiksienige outokraat en ʼn middelmatige wetenskaplike).

Sy is werkloos en boonop kry haar huwelik ʼn knou. Die psigiater wat sy besoek skryf ʼn nuwe middel voor wat haar laat bedaar en temper, maar sy ervaar nietemin nie die diep innerlike vrede waarop sy gehoop het nie. Sy aanvaar ʼn pos by die Buro vir Voortgesette Onderrig, wat ene Markus Potsdam soos ʼn spioenasie-eenheid bestuur.

Soos die leser kom Magrieta nooit heeltemal agter die kap van die byl van die werkinge van dié organisasie nie. “Vir al wat sy weet, is sy nou ʼn geheime agent,” mymer sy by geleentheid (10). Maar die omstandighede wat vir haar dalk onhelder is en waarmee sy verlief moet neem, word vir die leser ʼn bron van ontdekking in die tyd (seisoene) en leefwêreld van dr. Magrieta Prinsloo – wat beskryf word in terme van “onstabiele tyd” (61) en “bose tye” (64). Distopies met apokaliptiese trekke.

Maar moenie troebel met donker verwar nie. Die manier waarop Winterbach ironie hanteer in Die troebel tyd maak die leeservaring allermins ʼn somber affêre. Die boek is heerlik aweregs, polities onkorrek, sinies snaaks en boonop meesleurend.

Magrieta is die noukeurige waarnemer – “…sy  kan inligting vinnig verwerk, sy’t ʼn breë belangstellingsveld…” (10) – wat die leser met mening blootstel aan die mense wat sy teëkom en daarmee saam die spesifieke omstandighede waarin sy met hulle te doene kry. Dit is deurgaans mense en omstandighede wat ʼn mens ʼn blik gee op haar eie binnewêreld.

Vlietend is daar byvoorbeeld die man en vrou wat haar by haar aankoms in Port Elizabeth ontmoet (en later weer opduik) en die man in die rolstoel op die sypaadjie in dieselfde stad. Onbelangrike karakters, maar die noukeurigheid waarmee na hulle gekyk word kan ʼn mens kwalik mis.

Daar is die vrou wat in die Stellenbosse wingerd in ʼn tentjie woon en wat haar voorstedelike lewe formeel gegroet het die dag toe sy haar slimfoon, “ʼn triomf van die tegnologie”, in die rivier gegooi het. Dit is veral dié vrou se siening van moederskap wat naklink in Magrieta se gemoed.

Daar is Alta Meyer, die vrou wat ʼn Uber bestuur “net vir haar plesier” (113) en omdat die Uber-ding  haar uit die huis neem, wat sy haat en verag: “Die huis cramp haar style…”. As sy nie bestuur nie, lees sy die jongste Michel Houellebecq wat op die sitplek langs haar lê. In Houellebecq-styl kom Magrieta en die Uber-vrou ʼn ent verder ʼn protesoptog van prostitute teë – met U eie keuse as die klankbaan in die motor.

Dit is die einste Alta wat in slapelose nagte aan “eindtyd-scenario’s” lê en dink. Terwyl die vrou in die wingerd suf was van “apokalips-fatigue”.

Soos dit moet, is die keuse wat voorgespeel word in die motor “Een skone dag” uit Madama Butterfly….

En net soos musiek daartoe bydra om ʼn verdere dimensie aan spesifieke omstandighede te gee, word ʼn magdom literêre verwysings en tekste van wye omvang gebruik, en graffiti, en ʼn soort taal (argot) wat noukeurig en bedag anglisismes aktiveer: “desolaat”, “argot”, “illegaal”, “moroos” en die onvermydelik heerlike “obstakel” waaroor ʼn mens in die teks nie net struikel nie, maar waaraan jy jou ook verkneukel.

En so dra die visuele wêreld ook by in die vorm van kleurbeskrywings die getekende werklikheid te in te vul: “Agter haar word die berge ʼn vreemde nier-, of lewer-, of bloedpienk in die laaste strale van die ondergaande son” (54). Grys word in diverse skakerings beskryf en so ook geel, soos in “swawelgeel”. En so ook die reuksintuig, wat “iets skerps soos ammoniak” registreer.

In minder as 200 bladsye is daar aan die boek as dié enkele opmerkings.

As jy bo-oor teksverwysings wil lees en nie noodwendig al wat ʼn literêre afdraaipaadjie is wil neem nie, loon dit ʼn mens in elk geval om Die troebel tyd te lees. Dit is Winterbach on a role.

Ingrid Winterbach se Die troebel tyd word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R287.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.