Boek van die maand: Michèle Meyer se ‘Moer’

As daar een rede is waarom ek Michèle Meyer se debuutroman moet uitsonder as ʼn boek wat my altyd sal bybly, sal dit oor haar gebruik van kleur wees. Veral groen.

Die boek is grootliks geplaas in die noorde van die land, in ʼn geil deel, sover dit plantegroei en klimaat betref, en wat heeljaar deur ʼn sweem van groen het. In die somer soveel te meer. Dit is ʼn ruie en dalk wilde omgewing, een waarin slange in die gras nie ongewoon is nie. Maar dit is nie dié malse groen alleen wat Meyer registreer nie – groen wat, sê die mense wat kleure bestudeer, iets van oorvloed en vrede, van rus en veiligheid vergestalt (glo die rede waarom dokters se spreekkamers en hospitale so ʼn voorliefde vir groen het). Sy speel met skakerings van groen – van “kraamsaalgroen” (!) tot “diepseegroen”, van die “giftige groen” van Sunlight Liquid tot “seegroen”, wat Kylie se ma opsluit “turkoois” noem. En soos jy lees, word jy ook voorberei op verstikkend groen en siek groen.

Kylie is die een wat dié kleure benoem. Sy is aan die woord in die roman, in twee tydgleuwe: die een beginnende in 1994, die jaar waarin sy die eerste keer swanger was, en die ander een in die 1970’s, toe sy ʼn klein dogtertjie was. Die verhaal, dit moet die leser self ervaar.

In onderhoude wat Meyer sedert die verskyning van Moer gehad het, het “outofiksie” ter sprake gekom – iewers tussen ʼn outobiografiese en ʼn suiwer fiktiewe aanpak. Dié gegewe dien eintlik meer as bevestiging, want die inhoud, aanbod en tegniek laat die leser se kop in elke geval in dié rigting staan. Een leidraad is byvoorbeeld die afstandelikheid in die verteltrant. Meyer gebruik die tweedepersoon om Kylie se verhaal aan die orde te kry. So blyk dit reeds uit die eerste paar sinne: “Om ʼn ma te wees is nie so moeilik wanneer jy vir jou eerste sonar gaan en die gynae ʼn afdruk van grys spikkels in die hoek van ʼn flerts glyerige papier in jou hand prop nie. Jy gaan huis toe en kyk en kyk en glo dit lyk soos ʼn baba – jou baba. Jy wys vir die baba se pa en knyp die sonarfoto agter ʼn magneet teen die yskas vas of dit lê in jou bedkassielaai” (6).

In dié paar sinne sit reeds die kiem van die afstand wat Meyer bewerkstellig vir die vertel van haar verhaal: Sy kyk na en beskryf asof deur die oë van iemand, ʼn bekende (in hierdie geval dan Kylie), die gegewe van moederskap, huwelik en vrou. Baie soos wat ʼn mens deur iemand wat jy goed ken se fotoalbum sou blaai. Die filmiese manier van kyk manifesteer vroeg reeds waar die swanger Kylie sprietnakend op die bed lê (in versengende hitte) en haarself as’t ware van bo (waar die dakwaaier klakkend draai) dophou. Swart-wit films word ook genoem as ʼn manier van dokumenteer en kyk, en teen die einde van die boek takseer Kylie (bra afgeransel) haarself weer van bo (167).

Maar die openingsparagraaf gee sy ook blyke van ʼn verdere vlak van afwesigheid – dié van die ongebore baba se pa, en die moontlikheid van spanning – so alomteenwoordig soos mangovlieë in dié subtropiese streek.

Hoewel die titel van die boek op meer as moeder dui, kry ʼn mens eers op bladsy 68 terugskouend te make met ander betekenisse van “moer”: “Eintlik was jy bemoerd, maar jy’t nog nie sulke taal geken, laat staan nog gebruik nie.”

Benewens die waarde van selfrefleksie (wat ʼn belangrike element van die boek is en vir lesers dalk op ʼn terapeutiese vlak betekenisvol kan wees) kry Meyer dit deurgaans reg om met dieselfde afstandelikheid ook humor (soms wrang) in te vleg. Wat ook daartoe bydra dat sy met empatie na haar karakters kyk en hulle as mense, met al hulle foute en vratte, beskryf.

Met vaardigheid maak Meyer gebruik van ironie. Soos die verwysing na “die een lewensmaat wat aan jou ma trou gebly het” (35), of die spel met sampioene, wat “tjoepstil en fantasties” blom (30) om later “ʼn beenwit rakswam teen ʼn gevalle boomstomp” (82) te word. En daarby natuurlik die ironiese omgang met alles wat groen is. Terwyl dit hoegenaamd nie dui op oorvloed en vrede, rus en veiligheid nie.

Moer deur Michèle Meyer word uitgegee deur Protea. Die boek kos R226. Koop die boek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.