Boekoorsig: Die Rietrotte-reeks

Nerina Ahlers se Die Rietrotte-reeks word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Ek het baie lekker gelees aan hierdie byderwetse koshuisreeks in Afrikaans. Nerine Ahlers, ’n bekroonde jeugboekskrywer, skryf slim en onderhoudend. Sy verweef aktuele kwessies soos misdaad en gesinsprobleme met die doen en late van ’n groepie seuns in graad 8. Die sewe boeke in Die Rietrotte-reeks wat beskikbaar is, is propvol aksie, avontuur en humor. Die interaksie tussen die karakters is heerlik en die dialoog eweneens oortuigend. Dis duidelik dat die skrywer, ’n onderwyser, die leefwêreld en taalgebruik van kinders goed ken.

Boek 1: Die Rietrotte van Rietvallei Hoër

Daniël du Randt en sy vriende gaan hoërskool toe. Hulle besef gou daar is ’n definitiewe rangorde en graad 8 is héél onder op die lys. Die matrieks slyp hulle tande om die groentjies te oriënteer oftewel te ontgroen. Boonop loop Daniël en Malebo hulle een aand in ’n skelm vas toe hulle uit die koshuis glip.

Uittreksel: Hy lê op sy maag op die grond. Met ’n kreun probeer hy omdraai, maar ’n harde hand druk sy gesig diep in die gras in. “Ek hoor jy en jou maatjie hét toe met die polisie gepraat,” fluister ’n stem by sy oor. “En ek het jou so mooi gevra” (99).

Boek 2: Die Rietrotte en die rowers

Graad agt is beslis nie vir sissies nie! Daniël-hulle moet fyntrap om uit Peet Pretorius se kloue te bly wanneer dit by oriëntering kom. Hulle pas boonop ’n baie kwaai juffrou se papegaai op. Tussendeur oefen hulle vir ’n atletiekbyeenkoms in Johannesburg en moet ’n sindikaat rowers trotseer.

Uittreksel: Peet is in matriek. Vir Daniël lyk hy soos ’n reus. Met sulke plat skrefie-oë wat klaar besluit het jy is in die moeilikheid. Daniël bly maar uit Peet se pad as hy kan, want Peet het ’n ding oor graad 8’s. Hy kan hulle nie uitlos nie. Sal hulle verslind. Een vir een. Sonder om ’n oog te knip (18).

Boek 3: Die Rietrotte en die raaisel

Dis oop naweek, maar Daniël en sy vriende is gehok en juffrou Faure het haar mes in vir hulle. Hulle glip uit die koshuis om ’n partytjie by te woon. Maar o wee, ’n vliegtuig val teen die rantjie en toe is die gort behóórlik gaar!

Uittreksel: “Ek wil julle net waarsku, as julle die geringste, die heel, heel kleinste oortredinkie begaan, dan is ek op julle. En dan moet julle nie kla nie. Dan het julle wat ook al gebeur oor julleself gebring” (53).

Boek 4: Die Rietrotte en die stropers

Daniël en sy maat gaan vir die naweek kamp langs die rivier. Hulle sien vreeslik daarna uit om bietjie uit die matrieks se visier te wees. Maar dan hoor hulle in die middel van die nag vreemde geluide aan die oorkant van die rivier.

Uittreksel: Helder ligte soek deur die bosse en plante op die oewer en van die brug af oor die stil water van die rivier in die rigting waaruit hulle gekom het. As hulle nou nog in die water besig was om te swem, kon hulle hulle soos voëls op ’n draad een vir een geskiet het. En hulle vier so hulpeloos gewees het. Net mooi niks kon doen nie (74).

Boek 5: Die Rietrotte lê laag

Daniël het uiteindelik ’n nuwe kamermaat, maar dié verdwyn elke nag iewers heen. Ten spyte van die Rietrotte se voorneme om onder die radar te beweeg sodat hulle volgende jaar weer in die koshuis mag wees, bevind hulle hul spoedig weer in ’n adrenalienbelaaide avontuur.

Uittreksel: Daniël skiet uit sy bed uit, druk vinnig sy kussing onder die duvet in sodat iemand wat vinnig inkyk, sal dink dat hy in sy bed is, en storm uit gang toe (84).

Boek 6: Die Rietrotte weet te veel

Daniël-hulle sien uit om ’n naweek in Johannesburg deur te bring. Maar dan merk hulle hoe twee motorfietse teen ’n laaispoor opry en in ’n vragmotor se agterkant verdwyn. Daniël vang dit alles op video vas. En so beland hulle weer midde-in ’n gevaarlike avontuur.

Uittreksel: Daniël voel sy hart ál vinniger klop. Hy wens hy het geweet wat om te doen. Moet hy probeer uitspring en hardloop? Of moet hy maak asof hy bang en alleen en deurmekaar is en hier bly? Nie dat hy nié bang en alleen en deurmekaar is nie! Maar wat gaan die beste werk? (118)

Boek 7: Die Rietrotte en die rotsgrot

Daniël-hulle kan nie wag om ’n salige naweek by die see deur te bring weg van hulle aartsvyande nie. Maar moeilikheid bly warm op hulle spoor. Daar gaan snaakse dinge aan by die rotsgrot in die baai langsaan. Hulle besluit om ondersoek in te stel. Was dit ’n verkeerde besluit?

Uittreksel: “Dis óf jy wat gepraat het óf ons het moeilikheid. Dan soek jy net doodeenvoudig vir my daardie ou wat gepraat het tot jy hom kry. Ons kan nie bekostig dat iemand hier weggaan wat iets van hierdie saak af weet nie” (109).

Die Rietrotte-reeks in beskikbaar by boekwinkels, maar jy kan dit ook hier bestel:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.