Boekresensie: 365 Stories, gebede en beloftes

365 Stories, gebede en beloftes deur Bethan James (en illustreerder Frank Endersby) word uitgegee deur Christian Art Kids.

365 Stories, gebede en beloftes is ’n kleurvolle, hardeband publikasie tjok en blok vol kort Bybelstories, gebede en beloftes. Dit is ’n ideale slaaptyd-storieboek vir kinders tussen vyf en agt jaar oud wat die dissipline wil aanleer om daagliks stiltetyd te hou en ook hulle Bybelkennis wil uitbrei. Die teks is maklik om te verstaan en die illustrasies is werklik baie mooi. Daar is ’n gunstelingstorie vir elke dag van die jaar.

Voor in die pragboek is ’n plekkie gemaak om die kind se naam en ’n spesiale boodskap in te skryf. Die leesstukkies is genommer en die Skrifverwysings word gegee sodat die kind (of die ouer) die betrokke gedeeltes maklik in die Bybel kan opspoor. Hierdie kosbare versameling Bybelstories, beloftes en gebede sal die kind daagliks herinner aan God se liefde en trou.

Van die verhale in dié lekker dik boek van 253 bladsye se opskrifte is onder meer Die kraai en die duif, Jakob se droom, Josef se broers beraam ’n plan, Die Tien Gebooie, Simson se geheim, Elia se boodskap vir die koning, Die Here praat deur Daniël, Die geskenk van Jesus, Jaïrus se dogtertjie, Die blinde Bartimeus, Tomas twyfel en Paulus se boodskap. Die kort oordenkings word in ’n gerieflike grootskrif formaat weergegee en beloof om aan die kind ’n heerlike selflees- of luisterervaring te bied wanneer Mamma of Pappa saans aan hulle voorlees. Dink net aan die kosbare lewenslesse en ook mooi herinneringe waarmee kinders grootword wanneer hulle die voorreg het om saans saam met hulle ouers vir ’n paar oomblikke stil te kan word sodat hulle kan boekevat.

Kinders sal voorwaar baie trots wees daarop om hierdie pragboek op hulle bedkassies te hou en ook aan hulle maats te wys. Dis voorwaar ’n bedagsame geskenk wat die hele jaar sal hou. Die skatkis vol stories, gebede en beloftes gee aan die kind ’n breë oorsig oor die Ou en die Nuwe Testament se bekende verhale. Die gebed (nommer 138) “Help my om nie bang te wees nie,” lui só: Here, U kan enigiets doen. Niks is te moeilik vir U nie. U kan meer doen as wat ek my selfs kan verbeel. Help my om nie bang te wees om te vra nie. Efesiërs 3:20

Amelia de Vaal het die boek in Afrikaans vertaal. Skrifaanhalings is uit die Bybel Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011 CUM, tensy anders vermeld. Die boek is oorspronklik in Engels gepubliseer deur Anno Domini Publishing LTD onder die titel 365 Stories, Prayers & Promises.

Meer oor die outeur: Bethan James, voormalige onderwyser en jeugwerker, woon saam met haar gesin op die Engelse platteland. Sy het al verskeie kinderboeke geskryf.

Meer oor die illustreerder: Frank Endersby woon saam met sy gesin in die Cotswolds in Engeland. Hy het al heelwat kinderboeke vir bekende uitgewers geïllustreer.

Skaf gerus 365 Stories, gebede en beloftes hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.