Boekresensie: Pieksel

Pieksel deur Fanie Viljoen word uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Hierdie moderne sprokie van 96 bladsye is besonder verbeeldingryk en is geskik vir kinders nege jaar en ouer. Albei Vossie de Vos se ouers beoefen uitdagende beroepe wat hulle aandag van vroeg soggens tot laat saans eis.

Vossie is grootliks aangewese op homself vir geselskap en vermaak – hy mag nie eens ’n troeteldier hê nie! Hy het wel toegang tot die internet en het ook baie leesmateriaal en duur speelgoed. Tog verlang Vossie na ’n spesiale maat om saam met hom te speel. Hy is so bedruk dat sy knorrige tuisskoolonnie, mev. Moerdyk (wat my laat dink het aan Heidi se juffrou Rottenmeier), naderhand reken daar sit ’n swart kraai op sy skouers.

Op ’n dag besluit Vossie om ’n robot genaamd Pieksel te bou uit allerhande planne, goeters en katoeters. Toe hy dit nie onmiddellik regkry nie, hou hy aan probeer totdat die robot uiteindelik werk. Hy en die briljante Pieksel word beste maats en beleef die wonderlikste avonture. Meteens is die lang, eensaam ure op ’n einde en lê die dae oop voor Vossie.

Hy kan vir die eerste keer soos die seuntjie wat hy is, onbevange lag en speel en die wêreld ontdek. Selfs mev. Moerdyk ontdooi teenoor die behulpsame robot wat graag vir haar tee maak.

Maar o wee, Vossie se ouers wil niks weet dat hy met ’n gevaarlike, monsteragtige masjien speel nie! Vossie se pa neem vir Pieksel weg. Gaan Vossie ooit weer sy geliefde robotmaatjie sien? Hy wonder darem hoekom grootmense nie vir kinders luister nie.

Die skrywer, Fanie Viljoen, is self verantwoordelik vir die talle kleurvolle en atmosfeerryke illustrasies. Sy gereelde verwysings na die weersomstandighede dra ook by om atmosfeer te skep. Dit reën byvoorbeeld wanneer Vossie alleen voel, maar dan kom Pieksel en leer hom om met nuwe oë na die motreën te kyk. Dit is interessant dat dit juis die robot is wat vir Vossie leer om sy omgewing te waardeer en al die mooi om hom raak te sien.

Die dinamika tussen Vossie en Pieksel word uitgebeeld as ’n baie hegte vriendskap. Vossie kry meer ‘menslike’ interaksie by die robot as wat hy by die grootmense in sy lewe kry – beslis ’n aanklag op die moderne samelewing! Hierdie lieflike storie sal tot menige alleenkind se hart spreek.

Uittreksel: Pieksel glimlag. “Ek?” Van jou vergeet? Nooit nie! Ek het ’n kopie van my geheue op ’n datawolk gemaak. Ek onthou alles. Jy is my vriend. Jy het my gemaak. Ek het vir jou stories gelees. Jy het my laat vlieg. Ons het met papierbootjies gespeel.”

Meer oor die skrywer: Fanie Viljoen is ’n geliefde en baie produktiewe skrywer in Afrikaans. Daar het onder meer al dosyne boeke (fiksie en niefiksie) uit sy pen verskyn. Hy skryf ook radiodramas, kortverhale, gedigte en rympies. Sy TV-enkeldrama Môre as ons groot is het in 2016 op TV verskyn. Fanie skilder graag en het al verskeie boeke se illustrasies gedoen.

Skaf Pieksel gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.