Boekresensie: Raaiselklip

Raaiselklip deur Troula Goosen word uitgegee deur Human & Rousseau.

Troula Goosen verras met Raaiselklip. Hierdie opwindende historiese jeugverhaal wil nie in ’n genre-boksie gedruk word nie. Dis ’n anderste avontuurverhaal vir jong lesers (seuns en meisies van 12 – 14 jaar) wat hou van stories wat hulle uitdaag om uit die gemaksone van ’n bekende milieu te beweeg. Dis ’n Gotiese spanningsverhaal wat in die 1800’s in Kaapstad afspeel, ’n kreatiewe fantasieverhaal én spookstorie wat die drade van gister en nou behendig saamknoop tot ’n soomlose leeservaring wat beïndruk.

Die kleurvolle karakters en verbeeldingryke storielyn dra daartoe by dat die leser nie kan wag om die bladsye om te blaai om te sien wat volgende gaan gebeur nie. Goosen het haar huiswerk deeglik gedoen en beeld die Kaapse lewe van toeka so goed uit dat die moderne leser nie sukkel om daarmee te identifiseer nie. Die skitterende taalgebruik sorg vir vele prettige oomblikke, veral as jy van die ouderwetse woorde so lekker oor jou tong laat rol, woorde soos ‘verdorie’ en ‘verdomme’. Die verwysings na spoke, dwaalgeeste en wandelende dooies laat mens naderhand erg grillerig oor jou skouer loer.

Verbeel jou jy word in ’n donker kelder in ’n vreemde land wakker en jy kan glad nie onthou hoe jy daar gekom het nie – dís die aaklige dilemma waarin die veertienjarige Gabriel hom bevind. Hy was die een oomblik nog in ’n berkebos in Amsterdam en die volgende oomblik ontwaak hy duisende seemyle daarvandaan in die Kaap van Storms, die Hollandse verversingspos aan die suidpunt van Afrika. Gelukkig ontmoet hy drie akteurs wat soms nog in Die Schouwburg-teater hulle rolle repeteer. Hulle en die mooie Zytia, ’n slawemeisie met ’n weerwolfkat, probeer Gabriel help om uit te vind wat met hom gebeur het. Nie net is daar ’n graf met Gabriel se naam en geboortedatum op in die kerkhof nie, maar ’n jong Khoi-Khoi met die naam, Rooikat, wat dringend na ’n vreemde Dhouw-klip soek, verskyn wanneer hy skets. Boonop is Regina, Zytia se bloeddorstige meesteres wat nie skroom om Gabriel te laat martel nie, ook agter sy bloed aan, en oorlede Grootjie-Gabriel het ook ’n vinger in die pastei.

’n Belangrike les uit die boek is: “Niemand kan die geskiedenis verander nie, maar die toekoms is ’n ander saak.” Die onregte wat in die verlede gepleeg is, “sal altyd weer opstaan en dit sal baie verskillende gesigte hê.” Mens kan nie “gister se verkeerd regmaak nie”, maar daar sal altyd mense wees “wat hande sal vat en daarteen sal baklei. Enigeen kan ’n verskil maak, elkeen moet net die beste doen wat hy kan.” ’n Hoogtepunt in die boek is wanneer die nuus bekend gemaak word dat die Engelse parlement die wet goedgekeur het wat slawe vrystel. Daar is diepte in die verhaal en die leser sal dit geniet om bietjie na te dink oor al die fasette.

Meer oor die outeur:
Troula Goosen het ’n ATKV-Kinderboektoekenning ontvang vir haar jeugroman, Spooksoene, wat by Protea Boekhuis verskyn het. Sy is ook die skrywer van die gewilde Maanlig-meermin wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word.

Raaiselklip is beskikbaar by toonaangewende handelaars.
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R155-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.