Boekresensie: Stiltetyd vir die jongspan

Argieffoto (Foto: Jenny Friedrichs/Pixabay)

Dit kan nogal ’n uitdaging wees om in vandag se tyd die gewoonte by jou kind te kweek om stiltetyd te hou. Talle ouers en kinders se lewens is so besig dat daar maar min kans is om Bybel te lees en bid. Boonop moet die Bybel ook toenemend kompeteer met tydverdrywe soos TV-kyk en videospeletjies speel.

Dave Strehler se My Eie Klein Belofte-Bybel en My Eie Klein Gebede-Boek is spesiaal geskryf om kinders tussen ses en tien jaar oud te help om sinvol tot God te nader. Die leersame temas is kompak saamgestel met die doel om kinders te leer om dit te geniet om Bybel te lees en met God te praat.

Strehler het meer as 25 jaar ondervinding in kinderbediening. Sy gewilde webblad vir kinderbediening getuig van sy passie om kinders en jongmense te lei om die Bybel te verstaan en geniet. Besoek gerus sy gewilde webwerf.

My Eie Klein Belofte-Bybel (Christian Art Kids)

In hierdie stewige hardebandboek van 128 bladsye leer kinders dat hulle op God se beloftes in die Bybel kan staatmaak. God beloof onder meer sy beskerming, seën, sorg, leiding en liefde aan sy kinders.

My Own Little Promise Bible is in Afrikaans vertaal deur Lorina van der Westhuizen. Marlaine Michie het gesorg vir die pragtige waterverf-illustrasies. Daar is ’n spesiale plek voor in die boek waar die kind sy naam kan skryf. Die hoofstukke is ingedeel in Beloftes uit die Bybel, Beloftes wat vir ons wys hoe God is, Soorte beloftes, Beloftes wat waar geword het in die Bybel se tyd, Beloftes vir elke dag en Nog ’n paar dinge oor beloftes.

Die skrywer gebruik praktiese voorbeelde uit die Ou en die Nuwe Testamente om die volgende te illustreer: “Wanneer God sê dat Hy iets sal doen of dat iets sal gebeur, is dit ’n belofte. God hoef net te praat, en dinge gebeur.” Elke afdeling word afgesluit deur ’n gebed.

Skrifaanhalings is uit die Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011 en ook Die Boodskap © 2006.

My Eie Klein Gebede-Boek (Christian Art Kids)

In hierdie duursame hardebandboek van 104 bladsye leer kinders meer oor die verskillende soorte gebede en ook hoe om uit hulle eie te bid en met God te praat.

My Own Little Prayer Book is in Afrikaans vertaal deur Christina van der Bijl. Marlaine Michie het die boek ryklik versier met kleurvolle waterverf-illustrasies. Die kind se naam en ’n datum kan op ’n spesiale plek voor in die boek aangebring word. Die hoofstukke is ingedeel in Lofprys-gebede, Vra-gebede, Dankgebede, Gesels-gebede, Dringende gebede en Gebede uit die hart. Die boek sluit af met ’n bladsy waarop die kind sy eie gebed kan neerskryf.

Kinders word gewys hoe om, aan die hand van praktiese voorbeelde, sy of haar behoeftes aan God bekend te maak en te vra. Hulle leer ook om dankie te sê en God te loof en aanbid. Elke afdeling word afgesluit met ’n gebed en ’n aanmoediging om iets prakties te doen, bv. “Vind ’n stil plekkie om te bid oor dit wat in jou gedagtes is. Skryf ’n woord of teken ’n prentjie om jou te herinner aan jou gebed en bêre dit op ’n veilige plek.”

Skrifaanhalings is uit die Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011 en ook Die Boodskap © 2006.

My Eie Klein Belofte-Bybel en My Eie Klein Gebede-Boek is by CUM Books beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.