Boekuittreksel: Bygelowe oor linkerringvinger

Argieffoto

Argieffoto

Die enigste positiewe nuus oor die linkerhand wat ons deur die eeue bereik het, is dié in verband met die vinger waaraan die trouring gewoonlik gedra word – en dit is ongelukkig ʼn versinsel.

Dié ring is vroeër eeue aan verskillende vingers gedra – eers teen die 16de eeu het dit op vandag se ringvinger beland. Mense het geglo dat ʼn spesiale aar van dié vinger af na die hart geloop het – die setel van die liefde.

Macrobius, ʼn Latynse grammatikus van die laat 4de eeu, het gesê die duim is te besig om ʼn ring te kan dra; die voorvinger en pinkie is net half beskerm; die middelvinger se naam is medikus en moet vir ondersoeke gebruik word: en dít is darem te aards, selfs fundamenteel, vir die heiligheid van die huwelik, en dus bly net die ringvinger oor.

Die flater dat die senuwee van die ringvinger na die hart loop, geld net in ons kultuur. Onder die Berbervolke van Noord-Afrika is die lewer die setel van liefde. As ʼn jong man dus sy liefde vir ʼn meisie moes verklaar, moes hy sy lewer aan haar openbaar deur dit op sy mou te speld.

Uittreksel uit Bygelowe en waar hul vandaan kom
Outeur: Dr. Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Pharos
Prys: R355-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae