Boekvoorlesing: Stories uit ʼn Mammahart

Stories uit ‘n Mammahart (Foto: Verskaf)

En van daardie dag af het Sandra besef dat om anders te wees nie altyd sleg is nie.

Daar is min dinge wat ʼn mens weer soos ʼn kind laat voel soos kinderstories wat jou na opwindende plekke en op verbeeldingsreise neem.

“Kinders word deesdae hoofsaaklik met televisiemateriaal, selfone en tablette gestimuleer,” vertel Anjez Colyn, skepper van Stories uit ʼn Mammahart. “Die kinders se luistervaardighede is besig om af te neem. Die vermoë om hul verbeelding te gebruik, word ook belemmer omdat visuele materiaal klaar die prentjies skets.”

Colyn vertel dat sy Stories uit ʼn Mammahart begin het in ʼn poging om nuwe Afrikaanse inhoud te skep. Sy is self ʼn ma en meen die gebrek aan stimulerende inhoud was ook een van die groot motiverings om self stories te begin skryf.

“Dis wonderlik om te sien en te hoor hoe ander kinders saam met my op die avonture gaan,” sê sy.

Elke storie bevat ʼn lewensles, sommige stories is snaaks, terwyl ander ʼn ernstiger boodskap het.

Colyn is opgewonde en meen dat die versameling stories beloof om ure lange genot te verskaf – selfs ouers wat daarvan hou om na stories te luister, sal dit geniet.

Ontmoet vir Sandra Slang (Illustrasie: Stories uit ‘n Mammahart/Facebook)

Die stories is in samewerking met Du Preez Stoltz Produksies opgeneem. Colyn se oudste dogter het die illustrasies van die karakters gedoen en die finale omslag is deur Christo Norton van Speech Bubble Creative ontwerp.

“Daar is so baie mense wat ingespring en gehelp het om uiteindelik my visie vir ons kinders te verwesenlik,” sê Colyn opgewonde.

Stories uit ʼn Mammahart se album bevat 12 unieke kinderstories oor “Sandra slang en die orkes”, “Kerneels, die stoute kabouter”, “Harige Harry Wurm” en dan is daar die storie van “Die Draak met ʼn monsterverkoue”.

Die album is R80 en word landwyd afgelewer. Stuur ʼn e-pos aan Anjez Colyn na [email protected] of skakel 083 287 9871 vir meer inligting.

  • Luister hierbo na “Sandra Slang en die orkes” wat op Stories uit ʼn Mammahart Dit is goedgunstig deur die skrywer verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.