Carina Stander reik tweede boek in trilogie uit

Carina Stander (Foto: Verskaf)

“Hierdie boek is nie soos Star Wars met ʼn Yoda of ʼn Jedi nie. Dis ook nie soos The Lord of the Rings met trolle of elwe nie,” sê Carina Stander, skrywer van Die Wonderwese wat onlangs bekendgestel is. “Die enigste ongewone, bomenslike karakter wat daar in die hele trilogie is, ís die Wonderwese.”

Stander het van kindsbeen af haar verbeeldingswêreld verwoord en verbeeld – ongeag die emosionele en fisieke toestand van haar wese. “Ek het my eerste gedig op agtjarige ouderdom geskryf en daarna begin om elke gedig wat ek skryf te illustreer.” Dít wat sy nie in woorde kon uitdruk nie, het sy geskets.

“Toe ek 11 jaar oud was, het ek vir myself ʼn reël gemaak om elke tweede Sondag ʼn gedig te skryf,” vertel Stander van die selfopgelegde taak wat sy pligsgetrou tot in haar matriekjaar nagekom het. Hierdeur het sy vroeg reeds die vaardigheid gekweek om gefokus en getrou te skryf.

Stander se hartstog vir die beeldende en die woordkuns het parallel ontwikkel, “Ek het besef dat ek nie die een sonder die ander een kan doen nie. Ek het albei nodig.”

Sy het ná skool gaan studeer en ʼn honneursgraad in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf, waarna sy vir ʼn paar jaar in Cambridge en die Skotse Hoogland vir afgetrede beeldhouers gaan werk het. Sy het later óók haar meestersgraad, met lof, in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Sedertdien maak sy kuns in die vorm van beeldhouwerk, inksketse, poësie, kortverhale en rubrieke.

Stander se reisavonture vorm ʼn onlosmaaklike deel van haar kunstenaarskap. Dit is immers die bron waaruit haar trilogie voortvloei.

“Die eerste dag toe ons die Skotse Hoogland binnery, het ek my man gevra om stil te hou,” vertel Stander van die dag in Januarie 2002 toe haar geesteskind gebore is. “Ek het my skryfgoed uitgehaal in die middel van ʼn verlate sneeulandskap en ek het bo-aan geskryf “Die Bergengel”. Dít was die begin van haar moeilikste taak wat sy tot op hede aangepak het.

‘n Skets deur Carina Stander (Foto: Verskaf)

“Wat dit deels moeilik maak is dat ek nog nooit so getrou was aan my binnestem nie,” erken Stander. “Dis asof ek myself uiteindelik toegelaat het om te klink hoe ek klink as ek met myself praat. En dit voel vir my asof ek mense toelaat om my te sien waar ek soos ʼn kind onder ʼn struik sit en speel.” Hierdie trilogie vorm as’t ware ʼn venster wat haar siel ontbloot vir lesers.

“Ek skryf baie beslis nie vir myself nie,” erken Stander. “As ek vir myself geskryf het sou ek nie soveel moeite gedoen het om elke sin te skaaf totdat dit blink nie. Dan sou my storie in ʼn laai bly lê het.”

Stander meen sy skryf ook nie met ʼn spesifieke leser in gedagte nie, maar beskryf haar ideale leser as “iemand wat bereid is om hulle siel en verbeelding oop te maak” vir dit wat sy bied.

“Dit is wel nie ʼn jeugboek nie,” meen Stander. “Al is die hoofkarakter jonk is daar te veel geweld en skokkende gebeure wat jong lesers moontlik kan ontstel.” Oor die genre van haar trilogie is daar al heelwat menings gelug.

Sommige resensente meen dis ʼn fantasieverhaal, terwyl ander dit weer beskryf as magiese realisme, liriese prosa of spekulatiewe fiksie. “Ek is gewillig om enigeen van hierdie kategorieë met ope arms te aanvaar indien dit mense sal help om ʼn vashouplek aan die vreemde te kry,” en sy voeg by, “na my mening is dit eintlik net ʼn reisavontuur.”

“Dit is ook ʼn allegorie,” verduidelik Stander verder. “Ons elkeen se geestelike reis is ʼn pad wat ons stap na ons eie binnelandskap: om dít te word wat ons gebore is om te wees en sodoende ons innerlike Bergengel te ontdek.” Stander vertel dat die bergpredikasie in Matteus 5 vir haar ʼn wonderlike en interessante stuk is wat deurgaans in haar skryfwerk vervleg is. En oor die magiese Wonderwese verklap sy nie veel nie.

“Al die ander karakters is gewone mense en diere. Wie en wat die Wonderwese presies is gaan ek nie verklap nie. Mense moet die boek lees om dit werklik te kan geniet,” voeg sy skertsend by.

“Mense kan verwag dat Eron geweldig gegroei het in gees, siel en liggaam. En dat hy ʼn al hoe sterker en aangenamer en meer assosieerbare jong man is as wat hy was in Die Bergengel,” vertel Stander oor wat lesers in die tweede boek van die trilogie kan verwag. “Ek is sommer trots op hom oor hoeveel hy ontwikkel het in die laaste 17 jaar wat ons hom volg.”

Die Wonderwese is die tweede boek in Stander se trilogie en word voorafgegaan deur Die Bergengel wat in 2017 uitgereik is.

Stander se enigste boekpartytjie (soos wat sy daarna verwys) in Gauteng vind op 7 November by die Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion plaas. Boekliefhebbers en leesgieriges word genooi om soos een van die karakters in Die Bergengel of Die Wonderwese aan te trek wanneer hulle dié geleentheid bywoon. Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.