‘Daar is geen taal soos Afrikaans nie’

Kobus Galloway (Foto verskaf aan Maroela Media)

Kobus Galloway, bekend vir sy Idees Vol Vrees-tekenprente, meen daar is geen ander taal soos Afrikaans nie.

“Daar is geen taal soos Afrikaans nie. Ek dink nie mens kan só lekker speel met enige ander taal nie!” verduidelik Kobus oor sy liefde vir die taal in ʼn gesprek met Maroela Media oor sy jongste tekenprentboek, ʼn Wolf in skaapsklere en ander idiome.

Kobus verduidelik sy ouers het hom as sesjarige al vir kunsklasse gestuur toe die gesin in Bredasdorp in die Wes-Kaap gewoon het. “Toe ons Hermanus toe verhuis het, was kuns ʼn laerskoolvak en ek het dit ook as ekstra vak geneem op hoërskool. Ek het van kleins af ʼn liefde gehad vir teken en ek raak elke dag net meer verlief!”

Hy weet nie waar sy liefde vir Afrikaans vandaan kom nie. “Ek het geen idee nie. Ek was maar altyd die ‘class clown’ op skool en het altyd grappies en humor in Afrikaans uitgebeeld, alhoewel ek ook soms Engelse spotprente doen.”

Hy skerts en sê Idees Vol Vrees is sy “11 jaar oornag sukses”. “Ek het in Graad 8 dubbelsinnige strokiesprente, baie soos Idees Vol Vrees vandag is, met pen en inkleurpotlood geteken en onder my vriende versprei. Baie van dié reekse was suksesvol en ander nie só suksesvol nie…”

Kobus verduidelik die begin van die amptelike reeks was in 2010 toe een van sy reekse in ʼn animasiereeks verander is en hy intussen iets gesoek het om hom mee besig te hou. “Ek het besluit om die humor van my vorige reekse in eenpaneelspotprente digitaal te illustreer. En só is Idees Vol Vrees gebore.”

Hy bewonder tekenprentkunstenaars soos Fred Mouton (“hy is darem maar goed!”) en digitale illustreerders soos Anton Emdin, Luigi Lucarelli en Mike Jacobson. “Verder speel ek maar rond en illustreer verskillende style en kyk wat werk en wat nie werk nie. Soos hulle sê, ‘beproef alles en behou die goeie’.”

Grafika: Kobus Galloway, Idees Vol Vrees

Kobus het gereeld navrae van skole, onderwysers en samestellers van skoolhandboeke gekry om van sy Idees Vol Vrees-illustrasies te gebruik. “Meeste van die tyd was dit die idiome wat geïllustreer is. Ek het toe eers besef dat daar nie só boek of hulpbron bestaan nie en het die boek aan my uitgewers voorgestel.”

Hy reken Afrikaanssprekendes gebruik definitief nog idiome en gesegdes – sonder dat hulle eers bewus is daarvan!

ʼn Wolf in Skaapsklere is lekker vir leerders om idiome te leer, want baie keer vind ʼn kind dit bietjie vervelig om net woorde te lees sonder enige visuele prentjies by. Onderwysers en ouers geniet ook die boek, want dit is humoristies geteken en sorg ook vir ‘n lekker giggel. En ouers kan dit ook vir hul kinders lees, en selfs die ouer mense leer soms ‘n nuwe idioom of twee.”

“Grappies op ‘n stokkie” is Kobus se gunstelingidioom, “omdat mense dit altyd so baie vir my gesê het”.

Daar is reeds tussen 1 000 en 1 500 Idees Vol Vrees-spotprente, maar Kobus meen hy is veral trots op die voorblad die nuwe boek, ʼn Wolf in skaapsklere en ander Afrikaanse idiome. En sy gunstelinggrappies? “Elke keer as ek by KFC instap, kry ek hoendervleis” en “Om taai biltong te eet is nie ‘n straf nie, dis ‘n sening!”

ʼn Wolf in skaapsklere en ander Afrikaanse idiome was boonop verlede week nr. 8 op die topverkoperlys in Suid-Afrika en nr.4 by Exclusive books.

Leer lag-lag nuwe idiome met Kobus se boek, ʼn Wolf in skaapsklere en ander Afrikaanse idiome.
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R160-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by
 Graffiti Boeke teen ʼn afslagbedrag van R128-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Paul ·

Hoeveel ander tale kan jy praat?

Mens kan woordspelings maak in elke taal. Dis egter moeilik vir iemand wat nie ‘n moedertaalspreker van ‘n taal is nie, om woordspelings in so taal te maak. Derhalwe dink mense wat Afrikaans as moedertaal praat en geen ander taal uiters goed kan besig nie, dikwels dat slegs Afrikaans sulke lekker woordspelings het. Dieselfde geld vir mense wat ander tale as moedertaal het.

In der waarheid het Afrikaans waarskynlik veel minder woorspelingspotensiaal as talle ander tale, weens Afrikaans se vereenvoudigde grammatika vergeleke met tale soos Nederlands en Duits en Engels.
Engels veral het die verdere “voordeel” in hierdie verband dat daardie taal ‘n Germaanse taal met sterk Romaanse invloed in die woordeskat is. Dit beteken dat Engels dikwels dubbeld die hoeveelheid sinonieme vir ‘n term het as wat meeste ander tale het.
En dan is daar natuurlik sommige van die tale uit die Ooste, soos Mandaryns en Kantonees wat weens die tonale aard daarvan grappige potensiaal vanuit homofone vir bykans elke liewe woord bevat – inderdaad soms selfs onmoontlik om te vermy! Plus die skryfwyse daarvan wat (saam met Japannees) baie meer vatbaar is daarvoor. Dis deel van wat die haikoe-gedigte in die oorspronklike Japannees so kragtig maak – daar is dikwels dubbele betekenis daarin wat dan uiters moeilik, of onmoontlik, is om in ‘n vertaling te behou.

Dis nie om iets weg te vat van Afrikaans nie, maar net om dalk ‘n insulêre beeld van die wêreld bietjie te deurbreek.

Pieter ·

Paul, “mens kan woordspeling in enige taal maak…”
Wow, regtig!?? Ek dog dis net Afrikaans. Verbaas jy ‘n man nou!

Hoekom sal iemand wat een taal praat, dink dat SLEGS Afrikaans lekker woordspeling het?
Natuurlik kan jy in enige taal. Dis ook nie ‘n kompetisie tussen tale om te kyk wie het die beste woordspeling nie. Maar jy lyk na iemand wat dink hy weet alles van alles, so dalk is ek verkeerd.

Paul ·

Pieter, my kommentaar is ‘n direkte reaksie op Kobus Galloway se stelling waar hy sê: “Ek dink nie mens kan so lekker speel met enige ander taal nie!”

My kommentaar het ten doel om uit te lig dat mens, onemosioneel beskou, in werklikheid lekkerder kan “speel” in talle ander tale as in Afrikaans. Vergeleke met talle ander Indo-Europese tale het Afrikaans ‘n beperkte woordeskat, wat die moontlikhede vir woorspelings aan bande lê.

Vergeleke met talle Oosterse tale het Indo-Europese tale ook ‘n agterstand wanneer dit kom by woordspelings, weens die skryfwyse en die nuanses van uitspraak van die Oosterse tale.

Dis nie nodig om venynig en sarkasties te wees nie, maar ek dink ek verstaan. As ek uitwys dat Afrikaans nie so spesiaal en wonderlik is soos wat Afrikaanssprekendes dink nie, is dit so bietjie soos as iemand vir ‘n ouer sê dat sy kind baie oulik is, ten spyte van die kind se groot ore en krom neus – die ouer gaan dit nie waardeer nie, selfs al is dit letterlik die waarheid.

Lol ·

Paul, ek is baie oningelig op die gebied maar jou opmerkings maak sin en is oortuigend. Ter interessantheid hoeveel tale is jy magtig en is jy betrokke in die taalbedryf? “Excuse the pun, but am I robbing Peter (Pieter) to pay Paul?”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.