De Wet Hugo lees voor uit ‘Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde’

de-wet-hugo-skrywer

Die skrywer De Wet Hugo het met Maroela Media gesels oor sy ‘Kies-jou-avontuur’-reeks vir jong tieners (Foto: De Wet Hugo/Facebook.com)

Kan jy glo De Wet Hugo se kies-jou-eie-avontuur-storie kan op 30 verskillende maniere eindig?

Ja, sowaar! In Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde het lesers die geleentheid om self te kies hoe Mario, die hoofkarakter, se storiereis en avontuur afspeel. Dit beteken ook dat jy dié boek oor en oor kan lees en elke keer op ʼn ander manier deel van die storie is.

“Dit werk net soos ‘n rekenaarspeletjie wat game over kan wees en dan weer gespeel kan word,” verduidelik De Wet.

“My inspirasie was juis kinders se wêreldwye obsessie met YouTube en rekenaar- of TV-speletjies. Johann Strauss, die illustreerder wat saam met my aan die reeks werk, het ook puik werk gedoen en daarin geslaag om illustrasies in ʼn moderne rekenaarspeletjie-styl te doen.”

Maroela Media het by De Wet aangeklop om meer oor sy reeks te wete te kom.

Hoe het hy die name van karakters in Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde gekies?

De Wet verduidelik dat Mario Bros een van die gewildste TV-speletjies tydens sy kinderjare was. Dit was beslis ook sy gunstelingspeletjie. Daarom het De Wet besluit om die hoofkarakter, Mario, en sy boetie, Luigi, se name te kies as ’n oogknip aan daardie tyd van sy lewe.

Mario Bros, een van die gewildste TV-speletjies tydens De Wet Hugo, kinderjare was beslis ook sy gunstelingspeletjie (Foto: De Wet Hugo Skrywersblad/Facebook)

Waarom help sy onderwyservaring met die skryf van stories vir jong lesers?

De Wet is ʼn laerskoolonderwyser en werk al die afgelope sewe jaar by ʼn Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië. Kleinmond is sy Suid-Afrikaanse tuiste.

As laerskoolonderwyser bestee hy die meeste ure van sy dag in die geselskap van 10-jariges en daarom ken hy kinders baie goed.

“Ek weet presies wat hulle opgewonde, bang of gespanne maak. Ek weet ook wat hulle omkrap en waarvoor hulle lag. Daarom glo ek my onderwyservaring vul my loopbaan as kinderboekskrywer baie goed aan,” vertel hy.

De Wet sê dit help natuurlik ook om te sien watter boeke hulle graag lees, watter flieks gewild is en na watter musiek hulle luister.

As hy een vraag vir Roald Dahl kon vra, wat sou dit wees?

De Wet sê hy bewonder Roald Dahl vir sy kreatiewe en tydlose verhale, maar of hy werklik vir Roald iets daaroor sou vra, is hy nie seker nie. Die antwoord op waar hy aan sy wonderlike idees gekom het, het natuurlik met sy talent en kreatiwiteit te doen, meen De Wet. Maar hy sou beslis een dag in sy geselskap wou wees.

“Ek dink ek sou eerder net doodstil wou sit en hom vir ‘n dag lank wou dophou om sy werkwyse waar te neem en te sien hoe alledaagse dinge idees by hom prikkel.”

Het De Wet ʼn interessante skryfgewoonte of ritueel wat hy met lesers wil deel?

“Gelukkig nie!,” skerts hy. De Wet was wel verlig toe hy onlangs besef dat hy sy skryfwerk maar net so doodgewoon soos die meeste ander skrywers benader.

As deeltydse skrywer kan De Wet slegs naure en oor naweke skryf. Soms loop hy lank met ‘n idee voor hy begin om die storielyn uit te werk.

“My beplanning word baie deeglik gedoen voor ek met die eerste hoofstuk begin. Ek moet egter erken dat dit gereeld aangepas en verander word soos ek met die storie vorder en nuwe idees begin ontwikkel.”

De Wet verklap dat nog twee boeke in die Kies-jou-avontuur-reeks in 2021 verskyn. As jy dus nog nie die eerste storie gelees het nie, is dié vakansie ʼn goeie geleentheid om jou in Mario se avonture te verlustig.

Oor die boek

Mario is die skool se rekenaarspeletjiekampioen. Maar wanneer hy deur ʼn eienaardige nuwe speletjie na die kuberruim weggevoer word, moet hy vir sy lewe veg. ʼn Geheimsinnige wese genaamd Gigabyte verduidelik dat hy na die sewe wonders van die antieke wêreld moet reis om ses goue muntstukke te vind voordat hy kan terugkeer huis toe. Lewensgevaarlike uitdagings wag dan op hom…

Oor die illustreerder

Johann Strauss het al vier ATKV-veertjies vir sy werk ontvang. Hy is ook in 2014 met die Media24-boekeprys vir In die land van Pamperlang bekroon. Strauss woon in Pretoria.

Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde deur De Wet Hugo.

Prys: R140,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.