Die Soenoffer

Isa Konrad

Wat maak dat kinders moord pleeg?
Die storie van ’n negejarige reeksmoordenaar.

Isa Konrad vul ’n belangrike gaping in die mark, want sielkundige rillers in Afrikaans is besonder skaars. Die soenoffer vergelyk goed met die bestes in hierdie genre en herinner veral aan boeke soos Perfume en We need to talk about Kevin.

’n Joernalis, Wessel Janke, laat hom vir geld ompraat om ’n reeks onderhoude te voer met ’n vrou wat op negejarige ouderdom vir die eerste keer moord gepleeg het. Op tien was sy ’n reeksmoordenaar in wording.

Hy verwag om ’n monster te leer ken, maar Isobel Swart is ’n doodgewone vrou, self nou ’n ma, en sy is op soek na die waarheid. Hoekom het sy gedoen wat sy gedoen het? Sy wil hê mense moet verstaan. Sy wil self probeer verstaan. En sy wil hê hý moet verstaan. Wessel is ook iemand sonder ’n verlede, sonder ’n identiteit en hoe meer hulle oor haar verlede praat, hoe meer raak hy deel daarvan. Haar waarheid word sy waarheid, en dis hier waar nagmerries duisend dode sterf.

Oor die outeur:
Isa Konrad het in Namibië grootgeword. Op skool was sy enige onderwyser se nagmerrie – sy was allergies vir boeke en skoolwerk, en sy het slegs twee ambisies gehad: sy was heilig oortuig dat sy bestem was om die toekomstige mevrou Harrison Ford te word, en sy wou die wye wêreld invaar. Ná skool het sy Switserland toe geëmigreer. Sy het jare lank in Zürich gewoon, getrou, met ’n gesin begin en na hartsbegeerte gereis. Isa het kunsgeskiedenis en daarna voltyds regte gestudeer. In 2001 het die gesin Suid-Afrika toe geïmmigreer en in Pretoria gewoon. Isa het ingeskryf vir ’n kreatiewe skryfkursus, want sy wou leer waar stories vandaan kom. Sy het sedertdien sewe romanses en ’n spanningsroman geskryf. Tussendeur het sy kinders grootgemaak, in ’n jazz-trio gesing en haar aan boeke, opera en skoenekoop vergryp.

Die ondenkbare was Isa se eerste spanningsroman en is gunstig ontvang toe dit bekend gestel is in 2010.

Uitgewer: Lapa
Prys: R165-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.