Dierefabel uit 12de eeu pas vandag soos handskoen

‘Reinaard die vos’ is deur Henning Pieterse in Afrikaans vertaal. (Foto: Maroela Media)

Magsmisbruik, korrupsie, onderduimsheid, gierigheid en verraad is van die temas in Van den vos Reynaerde, een van die grootste literêre tekste van die Middeleeue, wat in die 21ste eeu net so relevant soos byna 900 jaar gelede is.

“Lesers gaan dadelik sekere goed raaksien wat in die Suid-Afrikaanse samelewing van toepassing is,” verduidelik Henning Pieterse, wat dié klassieke werk onlangs in Afrikaans met die titel Reinaard die Vos vertaal het.

“Die leeu, koning Nobel, laat ʼn mens aan leiersfigure in gesagsposisies dink en hoe hulle maklik deur listige karakters – soos Reinaard – mislei kan word. By Reinaard gaan lesers onder meer die slinksheid van politici raaksien en hoe hulle dit gebruik om hulle eie belange te bevorder,” voeg hy by.

Van den vos Reynaerde is in die 12de eeu deur ene Willem geskryf, oor wie daar betreklik min inligting beskikbaar is.

Dit is ʼn dierefabel wat die verhaal vertel van Reinaard, ʼn sluwe en bedrieglike karakter wat verskeie ander diere vir sy eie gewin mislei en manipuleer. Hoewel Reinaard ʼn klomp misdrywe pleeg, waaronder bedrog, diefstal, en selfs moord, slaag hy daarin om telkens aan straf te ontkom deur sy intelligensie en welsprekendheid.

Die verhaal begin wanneer koning Nobel ʼn hofsaak hou waar die diere vir Reinaard van misdade teen hulle aankla. Ten spyte van die swaar aanklagte, gebruik Reinaard sy slinksheid om die koning en die hof te oortuig om hom vry te laat. Hy beloof om op ʼn pelgrimstog te gaan as boetedoening vir sy sondes, maar dit is net nog ʼn rookskerm om sy vervolgers te ontduik.

Pieters het in die 1980’s, toe hy ʼn honneursstudent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria was, deur prof. Heinrich Ohlhoff met dié fabel kennis gemaak en toe reeds die behoefte gehad om dit te vertaal. Ohlhoff het die uitgebreide inleiding tot Pieterse se boek geskryf.

“Ek het Reinaard die eerste keer gelees en bloot gedink dit is een van die snaaksste boeke wat ek nog ooit in my lewe gelees het. Ek wou my destyds doodlag, en dit het oor die jare geensins verander nie. Elke keer dat ek die teks lees, of dit nou in Middelnederlands of Afrikaans is, besef ek opnuut hoe fyn die humor is.”

Gedurende die eerste Covid-19-inperkings in Mei 2020 het Pieterse besluit dit is ʼn goeie tyd om dié vertaalprojek wat hy sedert sy studentedae wou aanpak, te begin. “Ek het iets gesoek wat vir my ʼn daaglikse roetine en dissiplinêre ritme sou gee.”

Hy het begin deur die nagenoeg 3 500 reëls per hand te vertaal, en daarna het die maande lange proses gevolg om elemente soos die beryming en ritme af te rond.

“As Willem dit met ʼn gansveer en ink op perkament kon doen, kan ek dit sekerlik met ʼn potlood en ʼn boek doen. Ek wou voel hoe vloei die storie. Eers daarna het ek dit oorgetik en weergawe ná weergawe op die rekenaar afgerond. Dié deel van die proses het omtrent ʼn jaar en ʼn half geduur.”

Hoewel Pieterse byna nooit tevrede met ʼn boek is nadat hy dit klaar geskryf het nie, is hy min of meer gelukkig met hierdie een.

“Ek lees nie weer ʼn boek as ek dit eers voltooi het nie. Ek sal dit dalk deurblaai om te kyk of daar setfoute is, maar dan is dit klaar. Ek voel min of meer gelukkig oor Reinaard die Vos, maar ek sou maklik nog ʼn leeftyd daarop kon sit.”

  • Reinaard die vos kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.