Foto’s: Karakters kry lewe vir Wêreldboekedag

‘n Leerder van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in haar Feetjie-uitrusting. (Foto: Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool/Facebook)

Laerskoolonderwysers en -leerders het Vrydag vrye teuels aan karakters uit die boekewêreld gegee toe hulle as hul gunstelingkarakters aangetrek en by die skool opgedaag het.

Dit is ter viering van Wêreldboekedag wat jaarliks op 23 April gevier word. Vanjaar bied Lapa Uitgewers en Penguin Random House in samewerking met Klaskameraad ook ʼn skolekompetisie aan om hierdie geleentheid te vier.

Skole van reg oor die land het foto’s op sosiale media gedeel.

By Laerskool Kenton-on-Sea het elke graad gesamentlik ʼn storie of karakter gekies. Peter Pan, Alice in Wonderland, Aspoestertjie en Dumbo was van die kinderstories wat Vrydag opnuut lewe by dié Oos-Kaapse skool gekry het.

Die Gereformeerde Laerskool Bellville het ook ʼn skouspel van karakters opgelewer met Aspoestertjie, Asterix, Dorothy van The Wizard of Oz, Pippie Langkous en Huckleberry Finn wat hulle verskyning gemaak het.

Ander skole wat ook deelgeneem het sluit in Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgopong (Naboomspruit) en Laerskool Durbanville Primary in die Wes-Kaap.

Wat wen jy

Die skool wie se leerders die beste kostuums aantrek kan R3 000 se boeke vir hulle biblioteek wen, en die kind met die oulikste kostuum wen R1 000 se boeke, asook prysgeld van R1 000.

Hoe skryf jy in

Nooi die leerders om soos hulle gunstelingboekkarakter aan te trek, neem foto’s en laai dit op Instagram of Facebook. “Tag” Klaskameraad, Lapa Uitgewers en Penguin Random House SA Kids op sosiale media en stuur ʼn e-pos met die skakel van jou plasing na [email protected]. Inskrywings sluit op 29 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.