Hans van Kraaienburg se Sherlock-speurtog

Hiermee hoofstuk een uit Hans hou sy lyf Sherlock wat deur Rudie van Rensburg geskryf is.

Hans beskou die kêreltjie van kroontjie tot toontjie. Hy het nog poeier tussen sy lieste, dink Hans. ʼn Bogkind van in sy veertigs.

Maar sy mondwerk is goed, moet Hans toegee. Die klein groepie aanwesiges hang aan sy lippe soos pasiënte aan ʼn drup. Hy weet ook hoe om kwistig met die heuningkwas te werk.

“Ek het julle met die hand uitgekies om te deel in hierdie wonderlike beleggingsgeleentheid, my oompies en tantetjies,” sê hy terwyl hy wittandjies wys. “Ek keur my kliënte met dieselfde sorg as wat ek hulle kosbare spaargeldjies belê.”

Hy kry goedkeurende knikke van die groepie in die klein saaltjie van die posduifklub in Parow: Senter Venter, befaamde oud-rugbyspeler en die ondervoorsitter van Huis Madeliefie se beheerraad; Wieletjies Weyers, gewese motorband-magnaat van Brakpan wie se spaarvarkie glo bult van die geld; en ou Nella Vos, wat in die grendeltyd met haar topverkoper-kookboek, Frikkadelle, begrafnisrys en kaboemielies, oornag sterstatus bereik het en intussen al op Kwêla, Bravo! en Toks & Tjops verskyn het. Net soos duidelik op dié drie se gesigte gesien kan word, lyk ook twee van Hans se boesemvriende, Vasie en Liesbet, hoogs ingenome met dié mannetjie se vleitaal.

Dis net Hans en vriend Maatjie, ʼn voormalige boekhouer, wat hulle gesigte in die plooi sit.

“Meneer Davel, maar jy wil mos nou water opdraand laat loop,” gee Hans sy eerlike mening.

“Ek sekondeer,” sê Maatjie.

Davel grinnik en trek vlugtig ʼn hand deur sy bos blonde krulhare. “Los maar die formele aanspreekvorm, oom. Onder my vriende is ek bekend as Javel, ʼn bynaam van skooldae af.”

Iemand met ʼn naam soos Javel Davel boesem nog minder vertroue by Hans in. Hy wil dit sommer hardop sê, maar lê hom net betyds die swye op. Dit sou onvanpas wees.

Davel rek sy oë, pluk-pluk aan sy worteloranje das, stap nader en kom staan voor Hans. “Wat presies bedoel oom met die water wat ek opdraand wil laat loop?”

“Hoe kan jy ʼn maandelikse rentekoers van minstens twintig persent op ʼn belegging waarborg as die banke en ander finansiële instellings nie eens naby dit kom nie?”

Davel lag so hartlik dat Hans sy kleintongetjie sien tril.

“My oompie, om Davel Investments te wil vergelyk met daardie verstokte instellings, is om ʼn ooreenkoms te soek tussen ʼn splinternuwe Rolls-Royce en ʼn afgeleefde Opel Kadett. Die argaïese beleggingsmetodes van groot finansiële instellings is lankal uitgedien. By Davel Investments belê ons kliënte se geld op verskeie platforms waarvan finansiële instellings nog nie eens gehoor het nie.”

“En wat sal dit nogal wees?” vra Maatjie.

Davel grinnik weer. “Ek is natuurlik nie bereid om al ons beleggingsgeheime te verklap nie, my oompie, maar kriptogeld, verskeie wêreldwye eiendomsontwikkelings en ʼn paar opwindende en winsgewende kernkragprojekte vorm onder meer deel van ons portefeulje om hoë rentekoerse vir ons kliënte te waarborg.”

Hy swaai sy vinger driftig. “En Davel Investments het boonop oor die wêreld heen sy vinger op die pols. Ons het beleggingskundiges in New York, Londen, Berlyn, Moskou en Parys, asook in verskeie stede in Australië, die Bahamas, Bermuda, Brasilië, Bulgarye, Costa Rica, Egipte, Finland, Groenland, Hongarye, Indië, Italië, Kanada, Mauritius, Oostenryk, Saoedi-Arabië, Spanje, Thailand en Viëtnam.”

“By my siel, ek maak sommer ʼn wawiel!” roep Wieletjies uit, duidelik beïndruk met al dié vingers op soveel polse.

“Dis nie almiskie nie,” eggo Vasie haar geesdrif.

Davel knik ingenome. “Ja, my oompie en tantetjie, as daar ʼn goue beleggingsgeleentheid iewers in die wêreld opduik, is my kundiges so vinnig soos ʼn mamba se pik op hom.”

Hans kan goed sien dat Javel Davel hom so slim hou soos ʼn boom vol uile. Hy gaan nie maklik ʼn swakplek in sy mondering blootlê nie. Maar daar is nog iets wat hom pla.

“Waarom het jy juis óns spesifieke groepie by Huis Madeliefie uitgekies as potensiële beleggers?”

Davel wys glimlaggend na Senter Venter. “Oom Senter het julle name vir my gegee as mense wat welaf genoeg is om die minimum bedrag van vyftigduisend rand te belê wat Davel Investments vereis. Ons werk ongelukkig nie met kleingeld nie.”

Hans kyk met geligte wenkbroue na Senter.

Dié kom met ʼn boksprong orent uit sy stoel en doen sy gebruiklike strekoefeninge voor hy die woord voer. “Spoedvraat Swart, my Bok-sentermaat in die 1968-toetsreeks teen die Britse Leeus, het my onlangs gebel en gevra of ek ook ʼn gaping wil slaan op die opwindende speelveld van hoë opbrengste.” Senter voer ʼn denkbeeldige skêrbeweging uit voor hy voortgaan. “Hy en ʼn paar vriende van hom in Huis Westergloor in die Paarl belê al etlike maande hulle geld by Davel Investments. Die hoë rentekoerse wat hulle maandeliks verdien, kan volgens hom elke keer vergelyk word met ʼn oorstootdrie in beseringstyd.” Senter beduie met ʼn agteropskop en ʼn swaai van die hand, identies aan die legendariese fopbeweging waarmee hy die Leeus se agterlyn destyds uitoorlê het, na Davel. “En toe Spoedvraat ook meld dat Javel sy graad in beleggingskunde aan die Oxford-universiteit met lof behaal het, het ek dadelik geweet dis nou ʼn geldkaptein onder wie ek graag wil speel.”

Daardie stelling laat ʼn paar mense hulle asems intrek. “Dis ʼn uitsonderlike prestôsie!” roep Liesbet uit. Hans is self gestonk oor dié onthulling. Om jou graad met lof by Oxford te behaal, wil gedoen wees. Dalk moet hy die mannetjie nié op sy smal voorkoppie en pap mondjie takseer nie.

Senter voer met verblindende spoed ʼn skepskopaksie uit.

“Ek het Javel toe gebel. Hy het my gevra of ek eerbare mense in Huis Madeliefie ken wat nie net die finansiële vermoë het om te belê nie, maar ook verdien om die telbord aan hulle kant te kry.” Hy wys na die aanwesiges. “En dis hoe julle name op die Davel-spanlys verskyn het.”

“Dis dierbôr vôn jou, Senter,” sê Liesbet gevoelvol.

Die ander knik geesdriftig. Hans merk dat selfs Maatjie sy voorkop ontplooi het en saamknik.

Davel lek sy lippe af. “Nou kom, my oompies en tantetjies, laat ons die papierwerk gou afhandel.” Hy gaan sit agter die lessenaar en trek ʼn lêer nader. Die ander vorm dadelik ʼn tou, kennelik gretig om afstand van hulle geld te doen.

Hans weet nie wat met hom skort dat hy nog nie soos Senter bokspronge kan uitvoer oor Davel se beleggingsbeloftes nie.

Hy gaan nié nou sy hand op papier sit nie.

Hy stap na Vasie en trek hom liggies aan die arm. “Moet ons nie eers met mekaar te rade gaan voor jy belê nie?” fluister hy.

Vasie skud sy kop. Sy ou mater se onderkaak tril liggies van die opwinding. “Nee, Hans, sê ek vir myselwers só ʼn geleentheid kom net een keer in mens se lewe. Ek wil nou inkoop voor dit te laat is.”

Hans weet Vasie laat hom niks sê nie. Hy gaan hom nie van sy planne laat afsien nie. Sy vriend was nog altyd agter geld aan soos die duiwel agter ʼn siel.

Hy verskoon homself, maar Davel hou sy hand omhoog.

“Net ʼn versoekie dat my oompie nie by Huis Madeliefie rond en bont praat oor vandag se gesprek nie. Ek wil nie hê ʼn klomp mense wat nie kan bekostig om te belê, moet my uit die bloute nader nie.”

Hans knik en loop uit. Hy het geen behoefte om hieroor uit te praat nie. Hy sal maar wag en kyk of daar dalk ʼn angel agter die by sit voor hy van sy swaarverdiende spaargeld by Davel belê.

Hy wil in elk geval ook eers goed deur die mannetjie se boeke blaai…

***

Die uittreksel is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf. Klik hier om Hans hou sy lyf Sherlock aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.