Inspirerende dagbeplanner vir 2022 nou beskikbaar

(Foto: Verskaf)

2022 is besig om nader te kruip, en dit is nou die ideale tyd om ʼn dagbeplanner vir jou of ʼn vriendin aan te skaf, veral een wat jou daagliks inspireer en terselfdertyd hulpbehoewende vroue bemagtig.

Die FroueVonds*, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, se dagbeplanner vir 2022 is nou beskikbaar.

Dié A5-grootte hardebandbeplanner word deur Finesse Voelgoed Tydskrif uitgegee en bevat daaglikse inspirasiestukkies deur Lynette Beer, ʼn lewensverrykingspesialis.

Benette Welman, die FroueVonds se projekorganiseerder, sê die FroueVonds-dagbeplanner vir 2022 kombineer styl en inspirasie, met ʼn bladsy per dag vir afsprake om ʼn vrou in staat te stel om elke dag haarfyn te beplan en seker te maak dat sy haar tyd optimaal benut. Daar is ook genoeg skryfplek vir notas en joernaalinskrywings.

“Aan die begin is daar ʼn jaarkalender, en voor elke maand is daar ook ʼn maandkalender, sodat jy met ʼn oogopslag kan sien wat alles moet gebeur. Die dagbeplanner bevat ook inligting oor openbare vakansiedae, skoolkwartale, ʼn 2023-kalender en méér,” sê Welman.

“Deur die FroueVonds-dagbeplanner vir 2022 aan te koop, verseker jy dat die #HelpHetta-projek aan 3 000 skoolgaande meisies sanitêre ware en higiëniese produkte op ʼn kwartaallikse basis kan verskaf. Hierdie meisies sal tot 52 skooldae per jaar misloop indien hulle nie hierdie noodsaaklike produkte ontvang nie. Dan praat ons nog nie eers van die invloed wat ʼn gebrek aan hierdie produkte op hul waardigheid en selfvertroue het nie. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in hierdie projek. Vir ons gaan dit nie net oor sanitêre produkte nie, maar oor ’n meisie se opleiding en haar menswaardigheid,” sê sy.

Beer sê sy is opgewonde om vanjaar weer deel van die dagbeplanner te wees.

“My 2021-FroueVonds-dagbeplanner was beter as my beste vriendin. Sy was elke dag getrou aan my sy; óf op my lessenaar of bedkassie, óf in my handsak. My beplanning en emosies is veilig tussen haar bladsye. Ek kan gereeld deur haar bladsye blaai en notas van afsprake, herinneringe en lesse herroep,” vertel Beer.

“Op aandrang van laasjaar se gebruikers, het ons hierdie uitgawe se daaglikse bydraes van hoop en wysheid na meer as 30 woorde per dag uitgebrei. Hierdie nuttige dagboek is nou ook ʼn gids vir jou stiltetyd. Dit sal jou daagliks herinner aan jou afsprake, maar ook aan jou groter doel op aarde. Die wyse Salomo het gesê: ‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd’. Hierdie woorde van hoop sal elke oggend in jou oor fluister en jou moed gee om deur die dag te kom,” voeg Beer by.

Die FroueVonds-dagbeplanner is van ʼn goeie gehalte, asook mooi en prakties om te gebruik. Dit is tot die einde van Oktober teen ʼn spesiale aanbod van R169 per boek beskikbaar – daarna is die boek die gewone prys van R229.

Besoek www.frouevonds.co.za vir meer inligting en om bestellings te plaas.

*FroueVonds word doelbewus verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.