Jaco Jacobs: 21 jaar en 220 boeke later

Jaco Jacobs kuier by Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die kinderboekkoning Jaco Jacobs het onlangs weer ʼn pluimpie vir sy skryfwerk ontvang. Dié keer ʼn ATKV-Kinderboektoekenning vir Krok en Dil, ʼn grafiese roman vir beginnerlesers wat drie skreeusnaakse stories bevat.

Krokodille in Jaco se kop

So gepraat van krokodille. Met stories oor krokkies en wurms met tamatiesous is Jaco die afgelope 21 jaar alewigdeur besig om die allersnaaksste stories en reekse te skep.

Die einste krokkies sorg ook vir groot pret in Jaco se droomwêreld. Trouens, as hy ʼn greep uit sy verbeelding met lesers kan deel, sal dit ʼn mengelmoes van karakters bevat.

“Ek dink altyd aan die wêreld in my kop as ʼn sirkustent waarin ek kan gaan speel. Daar is krokodille, narre, en goed wat jou ʼn bietjie bangmaak, soos mense wat vuur blaas en leeus,” verklap Jaco.

Hy het van kleins af ʼn fassinasie met krokodille. “Ek onthou die eerste keer toe ek vir my ouers gesê het watter werk ek eendag gaan doen. Ek wou ʼn krokodiltemmer in die sirkus wees.”

Vir die eerste vyf jaar van Jaco se lewe het hulle gesin permanent op ʼn Karooplaas in die Carnarvon-omgewing gebly voor hulle dorp toe getrek en sy pa heeltyds geboer het.

Op die plaas was Jaco as kind al besig met groot avonture, danksy sy vermoë om ʼn hele fantasiewêreld vir homself te skep.

“My pa-hulle vertel my op die plaaswerf in ons erf het daar ʼn telefoonpaal gestaan. Nou moet ek ook net byvoeg dat wanneer die wind erg in die Karoo waai, dan maak die telefoonpale so ʼn vibrasiegeluid.

“Ek het my dan verbeel dit is ʼn telefoonoproep wat ek kry en vir ure met my oor teen die paal gestaan. Agterna het ek vir my pa-hulle gaan vertel watter stories alles met my gebeur het,” gaan Jaco voort.

Hoewel Jaco homself as ʼn introvert en “vreemde seuntjie” beskou, onthou sy ouers dat hy van kleins af tog ʼn entoesiastiese storieverteller by familiegeleenthede was.

“Dit is vreemd, ja, want ek was ʼn skaam kind. Op laerskool was ek regtig baie teruggetrokke, en eintlik ʼn tipiese bleeksiel wat eenkant sit met ʼn boek.

“Tog vertel my pa, wat die jongste van ʼn klomp kinders is, dat die ouer niggies en neefs by familiekuiers om my gesit en luister het na stories. Ek kan my dit beswaarlik indink as ʼn mens in ag neem hoe skaam ek was.”

Kinderstories gee nuwe asem

Jaco het sy matriek aan Hoërskool Carnarvon voltooi. Ná skool het hy BA Kommunikasiekunde en sy honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Daarna het hy by die Volksblad in Bloemfontein begin werk en later as uitgewer by ʼn bekende uitgewery.

Jaco Jacobs met een van sy Dr. Seuss-vertalings. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Op ʼn jong ouderdom het Jaco begin om volwasse literatuur te skryf, maar te danke aan Francois Bloemhof se insette het Jaco gou besef dat kinderstories eerder sy forte is.

Dit het gekom toe Jaco ʼn skryfskool bygewoon het waar Francois, wat in daardie stadium ʼn verhaalredakteur by ʼn tydskrif was, ʼn praatjie oor voorleggings vir tydskrifte gelewer het.

Agterna het Jaco ʼn paar van sy verhale vir Francois gestuur en toe het Francois voorgestel dat Jaco probeer om kinder- en jeugstories te skryf.

“Hy het vir my gesê hy kan die dinge sien waarin ek belangstel, soos spookstories, en dit is perfek vir daardie genre. Dit was asof daardie brief wat hy vir my geskryf het, iets in my wakker gemaak het,” vertel Jaco.

Hy het teruggegaan biblioteek toe en weer sy kleintyd boeke, Nancy Drew en The Hardy Boys, gelees. Aan die einde van matriek het Jaco sy pen opgetel en ʼn tienerboek geskryf.

“Toe ek daar gaan sit en die storie begin beplan, het ek opnuut asemgehaal. Dit het vir my gevoel ek is besig om te doen wat vir my natuurlik kom, en ek het net van daar af nooit weer terug gekyk nie.”

Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 verskyn toe hy 21 was. Tot op hede het ongeveer 220 boeke en ʼn honderdtal vertalings vir kleuters, kinders en jong volwassenes uit Jaco se pen gevloei, en hy is met talle pryse vir sy pennevrug bekroon.

Benewens ʼn hele rits ATKV-Kinderboekpryse, het Jaco ook al verskeie keer die Alba Bouwerprys gewen, asook die Tienie Holloway-medalje, Scheepersprys vir jeugliteratuur en die Elsabe Steenbergprys vir vertaalde kinderliteratuur.

Kop in die wolke

ʼn Gunstelingstorie uit sy stal kan Jaco nie uitsonder nie, maar hy kan wel aan een boek dink wat hom besonder na aan die hart lê. “Dit is ʼn verskriklike vraag, want om een boek uit te sonder is soos om tussen jou kinders te moet kies,” skerts Jaco.

Tog noem hy dat Die boekwinkel tussen die wolke, wat vroeër vanjaar by Pan Macmillan verskyn het, ʼn spesiale plek in sy hart en op die boekrak het.

Jaco dink terug aan ʼn dag tydens die Covid-19-pandemie toe hy deur ʼn winkelsentrum in Bloemfontein gestap, voor een van sy gunstelingboekwinkels gaan staan en deur die venster gekyk het. Dit het sy verstand te bowe gegaan dat die regering besluit het boekwinkels is nie noodsaaklike items nie.

“Nietemin, ek het gestaan en kyk na die rakke en rakke vol boeke wat daar binne vasgekeer was. Die boeke het in my verbeelding so gesidder van opwinding om te ontsnap en by lesers uit te kom.

“Ek het in daardie oomblik ʼn gevoel van hartseer ervaar, maar ek het huis toe gegaan en ʼn storie oor hierdie fantastiese boekwinkel, die boekwinkel van my drome, geskryf.”

Dié boek lê Jaco na aan die hart omdat dit vir hom nogal ʼn persoonlike verhaal is oor sy eie liefde vir lees, boekwinkels, ʼn leeskultuur en skryf.

Jaco skryf doelgerig, konstant

“Ek het die voordeel dat ek deesdae ʼn voltydse skrywer is, wat beteken dat ek nie meer ʼn dagtaak het waar ek ʼn salaris verdien nie. Dit is aan die eenkant skrikwekkend, maar aan die anderkant gee dit my die vryheid om meer te kan skryf en publiseer,” sê Jaco.

“Om die vraag oor volume te antwoord: Dit het baie met reekse te doen. Om ʼn boekreeks aan die lewe te hou moet jy ten minste twee titels per jaar uitgee.”

Voorheen toe Jaco nauurs aan sy skryfwerk bestee het, was sy dag baie meer gestruktureerd. Tog handhaaf hy steeds ʼn roetine om seker te maak dat hy sy tyd optimaal benut.

Jaco Jacobs en sy kroos met die heruitagwe van Pippie Langkous se verhale. (Foto: Verskaf)

Douvoordag staan Jaco op om te gaan draf of oefen en teen 06:00, wanneer sy kinders moet opstaan en klaarmaak vir skool, is hy terug by die huis. Dan help hy sy vrou met die gesin se oggendroetine en wanneer hulle almal weg is, spring Jaco aan die werk.

“Ek probeer om die kreatiewe deel van my werk in die oggend te doen, want ek is ʼn oggendmens. So ek kan vroeg skryf en stories uitdink, maar in die middag begin my energievlakke daal en dan hanteer ek administratiewe take.”

Wanneer Jaco by sy rekenaar gaan sit om te skryf, skuif hy alle moontlike gedagtes oor sy rol as skrywer in die literêre stelsel of dat hy eintlik besig is om ʼn leeskultuur oor generasies heen te kweek, opsy.

In daardie oomblik probeer hy om die vyfjarige of 13-jarige wat hy self eens op ʼn tyd was, te vermaak.

“ʼn Mens is verskriklik dankbaar vir dit wat jou boeke gaan regkry, maar vir my voel dit nie asof dit ek is wat dit doen nie. Dit is my stories. Hierdie denkwyse is miskien ʼn manier om my voete op die grond te hou.

“Dit is wel so dat ek deesdae by skole kom en onderwysers vir my sê hulle het met my boeke grootgeword en dat dit so lekker is om dit nou vir hulle kinders te lees. Dan besef jy jy is al ʼn rukkie in die bedryf.”

Boeke uit Jaco se pen vloei konstant. Hy skep ʼn ruimte vir sy kreatiwiteit om te floreer, hy volg ʼn streng roetine en hy skryf doelgerig. Maar te midde van ʼn skynbaar resepmatige benadering, is Jaco nog steeds gek daaroor om stories oor monsterpizzas, spaghetti tussen jou tone en rock-ster oumas te skep.

Het Jaco Jacobs enige skryfgewoontes en wat is die vreemdste ding wat ʼn leser al vir hom gesê het? In hierdie video antwoord Jaco ʼn paar van Maroela Media se vrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.