Joha van Dyk: Bloedjonk, maar sy ryg jeugromans uit

Joha van Dyk (Foto verskaf)

Joha van Dyk is skaars 25 jaar oud, maar sy het al drie dik boeke vir haar gewilde Branderjaer Sage-reeks geskryf, bestaande uit die eerste boek getiteld Branderjaer, daarna Vuurvreter en toe Kanniedood.

Kanniedood wat deur die skrywer en jeugpastoor Ivor Swartz as “geloofwaardig en incredible” beskryf word, gaan oor die branderjaers se matriekjaar. Hoewel Ben Palmer van plan is om sy kop laag te hou, loop alles skeef. ʼn Ou bendeleier is terug in Breekwater en Ben en sy suster, Kalla, word met ʼn nalatenskap gekonfronteer waarvoor hulle nie gevra het nie.

ʼn Palmer is egter ʼn kanniedood wat enigiets kan oorleef.

Is Joha dalk die jongste skrywer in die land?

“Jong, ek weet nie. Ek kon dit nog nie lekker bepaal nie. Ek was 23 toe Branderjaer  uitgekom het. Ek dink ek is moontlik die jongste jeugskrywer in die land, of die jongste met so ʼn lekker lang boek as debuut.”

Sy wou egter nog altyd jonk begin skryf – om die waarheid te sê wou sy reeds vanaf graad 2 al ʼn skrywer word.

“Ons moes ʼn mondeling doen oor ons talent en ek het besef ek het nie ʼn opvallende talent nie – ek kon nie die mooiste dans of sing of die vinnigste hardloop nie, maar ek kon vinnig lees en ek kon stories op droom.

“So ek het my Word-dokument op ʼn ou oorgeboude rekenaar van my broer oopgemaak en begin skryf.

“My ouers en broer was nog altyd ondersteunend, sowel as my neef, Werner van Dyk. My hele familie asook my hoërskoolvriende het nog altyd in my skryfloopbaan belang gestel. My vriend, Darren, het tydens drama-klas altyd die hoofstukke van my stories gelees en terugvoer gegee – nou is hy ʼn inspirasie vir menigte van my karakters.

“Ek het ook goeie Afrikaanse onderwysers gehad op skool – juffrou Krause, Peterson, Erasmus en ʼn geskiedenis onderwyser, juffrou Otto – wat my gemotiveer het rondom lees en stories. Juffrou Otto se klasse was nooit vervelig nie, want sy het die geskiedenis oorgedra soos ʼn storie wat vertel word.”

(Foto verskaf)

Oor haar grootwordjare op ʼn plaas in Namakwaland-Wes – ʼn streek bekend vir sy storievertellers – reken sy dit het beslis ʼn invloed op haar as skrywer gehad.

“Ek het grootgeword met my pa en ooms wat stories vertel rondom ʼn braaivleisvuur. Ek het ook baie gelees omdat ek grootgeword het op die plaas, wat natuurlik, soos meestal die geval in Namakwaland is, baie afgeleë is. Maar die isolasie het half vir my die vryheid gegee om ʼn baie aktiewe verbeelding te hê.

“Ek is baie trots op die Namakwalandse vermoë om stories te kan vertel – ek fokus selfs daarop vir my PhD-tesis.”

Op ʼn vraag hoekom sy vir die jeug skryf en of sy dink jeugromans verskil van romans vir volwassenes, sê sy dit het organies gebeur.

“Ek is gelukkig dat die meeste van my skryf-ervaringe en idees redelik lukraak plaasvind. Toe ek die idee vir die Branderjaers kry en hulle begin as individue ontwikkel, was hulle tieners. Dit gee ook vir my ruimte om hulle te laat groei en grootword voor die leser se oë of, in tieners se geval, saam met die leser groot te word.

“Toe ek ʼn tiener was, was ek baie lief vir lees, maar ek het hoofsaaklik Engelse boeke gelees want die Afrikaanse boeke was te dun. Ek kon nie wegsink in die karakters of by hulle betrokke raak nie, want daar was nie genoeg vir my om hulle te leer ken, of om vir hulle om te gee nie.

“Ek het die Reënboogrant-reeks baie geniet, juis omdat dit ʼn reeks was en ek stukkie vir stukkie die karakters só goed kon leer ken.

“Dus hou ek daarvan om vir die tiener-Joha te skryf. Daar is tieners wat nog nie hul liefde vir lees ontdek het nie, en elke keer as ʼn tiener my boek optel en dit nie kan neersit nie, voel ek geëerd om deel van so ʼn positiewe ervaring te wees. Ek kan hopelik dan vir hulle ook iets bied – lesse sonder om te preek, maar ek sal ook graag wil hê tieners moet my boeke lees en minder alleen voel. Hulle is nie alleen nie, daar is ander mense wat dieselfde ervaar, ongeag gewildheid en status.”

Hoe voel sy oor die positiewe beskrywings van haar werk, naamlik dat dit ʼn “edge” gebring het, “vars en vernuwend” is maar ook “onstuimig, onvoorspelbaar, onbevange en vreesloos” is?

“Baie trots. Ek wil bydra tot hierdie genre, ek wil hê my boeke moet uitdaag en opvoed en steeds ʼn avontuur wees wat jy nie wil verlaat nie. Dis hoe my gunstelingboeke my altyd laat voel het.

“Die genre kan uitbrei, daar kan ʼn lekker verskeidenheid wees van opsies vir tieners en as ek kan bydra tot dit, nog beter.”

Oor haar navorsing oor bendes, vertel sy dat Don Pinnock se boek Gangtown die eerste nie-fiksie, Afrikaanse boek was wat sy opgetel het.

“Dit het my heeltemal meegesleur. Ek kon dit nie neersit nie en het aanhoudend met almal daaroor gepraat terwyl ek gelees het, juis omdat alles in die boek eintlik algemene kennis in Suid-Afrika behoort te wees sodat ons ons omstandighede beter kan verstaan.

“Ek het ook na die Wide Awake Podcast op YouTube gekyk, hulle doen onderhoude met oud-bendelede, spesifiek die onderhoud met Welcome Witbooi het ʼn groot indruk op my gehad.

“Ek het natuurlik ook ander boeke en artikels gelees, en na video’s en onderhoude oor bendes op die Kaapse vlakte gekyk. Dan het ek ook met mense soos Ivor gesels en vir sy insae gevra rondom bendekultuur.

“Ek dink die bendekultuur manifesteer dalk op ʼn subtieler manier op die platteland. Op die Kaapse vlakte kom dit meer blatant voor.

“Dis eintlik verskriklik dat dit so naby aan ons is en tog gaan ons net met ons lewens voort asof daar nie trauma op trauma reg langs ons plaasvind nie. Ek dink dit sê beslis iets oor hoe gedesensitiseer ons teenoor geweld is. Ek dink bendes bestaan oral, net op verskillende maniere en in verskillende grade.”

(Foto verskaf)

Sy is verheug oor die reaksie van lesers en resensente tot dusver. Joha skroom dan ook nie om oor moeilike onderwerpe soos geestesversteurings, dieetsiektes en boelies te skryf nie.

“Ek dink dit is belangrik om oor hierdie moeilike onderwerpe te praat, juis sodat tieners weet:

1) Indien hulle daarmee sukkel, dat hulle nie alleen of vreemd is nie.

2) Dit is nie so eenvoudig nie. Daar is nie ʼn vinnige oplossing nie. Dis dinge waaraan jy voortdurend moet werk om beter en gesonder te word.

3) As hulle nie self daarmee sukkel nie, moet hulle weet daar is wel mense wat met hierdie uitdagings worstel. So, be kind.

“Ek verf en speel met klei en skryf liedjies op ʼn kitaar wat niemand waarskynlik ooit gaan hoor nie, maar ek geniet kreatiwiteit. My vriende en familie is verskriklik belangrik en ek probeer altyd my bes vir hulle doen.

“As skrywer wil ek lesers uitdaag, hulle iets laat voel en hulle hopelik inspireer.”

Oor haar skryfpatroon sê sy dit verskil van boek tot boek omdat sy nog elke keer in ʼn ander woonstel gewoon het, maar sy moet haarself soms dwing om, met musiek in haar ore, by haar lessenaar te sit en net te skryf.

“As ek vashaak, moet ek gewoonlik draf of stap, die skrywersblok verdamp gewoonlik as ek my uitsig verander. Ek skryf lekker by die see, by die huis, op die stoep met ʼn koppie koffie. Aand-oggend-middag, dit maak nie eintlik saak nie.

“Ek skryf ook nie chronologies nie, maar spring rond soos wat die inspirasie my tref.

“Nou dat ek daaraan dink is daar nie eintlik ʼn vaste patroon vir my nie. Ek is skynbaar ʼn mood-writer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.