Jy moet oopkop vir stomende ‘Oop deure’ wees

Analize Viljoen en Trisa Hugo is die skrywers van “Oop deure”. (Foto verskaf)

Hulle is twee heeltemal uiteenlopende persoonlikhede maar hulle het heerlik saam aan hul nuwe verhoudingsroman Oop deure geskryf.

Trisa Hugo en Analize Viljoen, beide ook boekresensente wat ʼn aanlyn platform Boekemakranka bedryf waar hulle gesprekke met skrywers voer, se eerste titel saam was Oor en weer.

Oop deure is ʼn nuwe verhoudingsroman wat oor vriendskappe sowel as verwikkelde familieverhoudings gaan. Dit speel tydens die pandemie op ʼn plaas af waar mense met uiteenlopende persoonlikhede in ongewone omstandighede woon.

Dan spat die vonke!

ʼn Mens wonder wie van die twee skrywers skryf wat, en of hulle nie soms gestry het nie. Maar ag nee wat, dit het sommer van nature gebeur. Net soos met hul vorige boek, vertel Analize.

“Toe het ons elkeen oor ʼn karakter geskryf maar in Oop deure het ons elkeen sommer net aangegaan waar die vorige een opgehou het. Ek dink ons het wel elkeen stukke klaargemaak waarmee ons die storie in ʼn sekere rigting wou stuur, en dan kon die ander een weer van daar af aangaan. Al wat ek eintlik kan sê is dat ek en Trisa elkeen twee karakters uitgedink het.”

Daar was wel dele van die storie waaroor hulle verskillende idees gehad het, maar sy dink hulle is albei heel gemaklik daarmee om te dink aan wat die beste gaan werk, eerder as aan wie se idee dit is.

Trisa beaam dit. Sy sê mense het dikwels verkeerd geraai oor wie wat geskryf het.

“Gelukkig verskil die karakters net so veel van aard as ons, dus kon mense ons nie in boksies plaas nie. Dit het gou ʼn kwessie geword van die een wat tyd het, skryf verder.”

Analize sê ook hul persoonlikhede as skrywers en mense is uiteenlopend.

“Ek is verstrooid en in my eie kop, en Trisa is meer georganiseerd en gestruktureerd. Tog is ons albei waaghalsig met wat ons in die storie ingegooi het, alhoewel realisme vir ons albei belangrik is.

“Trisa is die een wat my taalfoute optel, en ek tel weer dinge op soos dat ʼn karakter ʼn rooi japon aanhet maar tien bladsye gelede was die japon pienk.”

Trisa vertel dat haar gewone persoonlikheid nie met haar persoonlikheid as skrywer ooreenstem nie.

“Ek is pedanties en analities, die swart-wit-tipe, tog is Analize die beste redigeerder wat betref kontinuïteit, al is sy die een wat meer impulsief, avontuurlustig en voortvarend is. Persoonlik dink ek dis die groot geheim van die sukses van ons saamskrywery.”

Analize sê hulle hou daarvan om te skryf oor gewone mense, vir gewone mense wat enigiemand se bure kon wees.

“Daarom skryf ons ook oor die goed wat mense doen, maar nie noodwendig altyd oor praat nie – en dis die lewe. Meer mans as wat ons verwag het, lees ons boeke.”

“Oop deure” is deur Naledi uitgegee. (Foto verskaf)

Dit is interessant dat hulle in die boek van hul eie ervarings as skrywers gebruik maak (een van die karakters is inderdaad ʼn skrywer) en selfs van hul aanlyn geselsies op Boekemakranka melding maak.

Daaroor sê Analize hul boekgesprekke was so deel van die pandemietyd dat dit nie eintlik anders kon nie.

Trisa en Analize dink albei daar word nie genoeg geskryf oor seksuele vloeibaarheid nie.

“Ek beskou nie my taak as skrywer as een van opvoeding nie, eerder die afbreek van vooroordele en die strikke lostrek wat mense se oogklappe vashou. Om mense die geleentheid te bied om self hulle siening te verander oor wat hulle as minderheidsgroepe beskou,” sê Trisa.

Sy is verheug dat hul informele terugvoer op die boek sover gunstig is.

“Hopelik kry ons binnekort ʼn paar formele resensies. Een leser het sommer vir ʼn tweede keer na ʼn bekendstelling toe gekom.

Beplan hulle om weer so ʼn projek aan te pak?

“Baie mense vra ons vir ʼn opvolg op Oor en weer, maar ek moet nog Trisa se arm draai. Ek is ook besig met twee ander manuskripte. Ek skryf aktief aan een, en die ander een is eers op ys,” sê Analize.

Vir Trisa is daar ook “meer stories as tyd”, alhoewel daar beslis ʼn nuwe manuskrip of twee is waaraan sy skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.