Koöperasiestories: ‘Doepa’

Hiermee PG du Plessis se kortverhaal “Doepa” wat in die bundel Koöperasiestories verskyn.

Nee, o allemintig, o aarde, sowat is onmoontlik, nee, wil jou nou wragtag, as my eie paar oë dit nie gesien het nie, wil jou nou op dees aarde meer, en dit sien jy net een keer, en dit wys jou die wêreld is boos en vol van wee, nee kyk.

Ons staan een more so voor die koöperasie en praat, en dis Genis en Veldsman van die plotte wat mekaar so staan en o wêreld o allemintig en so tussenin ʼn hele klomp ander goed wat ʼn mens met permissie nie in geselskap sê nie.

Dit was ek en Genis en Veldsman van die plotte, en ek wil nie lieg nie, maar ek dink die Griekie wat dié tyd probeer groente verkoop het tussen die plotte, en as hy kool het, het almal kool. Bankrot hier weg – skuld Genis nog twee sak mielies.

Wonderlik, sê Veldsman my later toe ons oor die ding praat, dat jy die sonde se wortel altyd so diep moet gaan haal. Seker dié dat ons nie moet oordeel nie.

Kyk, sê Veldsman, as Josef Scheepers nie daardie klein Griek se agterryer geword het nie, sou die ding nooit gebeur het nie.

Was ook so. Die Griekie het skaars hier aangeland, of hy en Josef is baie dik.

Kan ook nie anders nie, want Josef is een van die mense wat lyk of hulle skeef uitgekom het. Veldsman sê hulle is ook gemaak en ʼn mens moenie oordeel nie, maar Genis sê ’n mens hoef ook nie te staan en lieg oor ander mense se aansienlikheid nie.

Josef was seker die lelikste jongetjie wat nog in die distrik aangekom het. Klein koppie, ʼn neus wat jy waar kan sien, lang nek dat jy kan sweer daar’s nie genoeg rugstring om die ding reguit te hou nie, hangskouers, hoenderbors.

ʼn Mens wil nie oordeel nie, maar jou oë is darem in jou kop.

Nou met permissie, so ʼn mens leer seker na’and om harder te probeer, maar die meisies hier rond het hom net so gekyk.

Genis sê nog daardie selfde oggend toe hulle mekaar so staan en o allemintig, ʼn meisiemens sal nie na Josef kyk nie, want al is hulle hoe hoog op die rak, om aan sulke aanteel te dink, is genoeg om enige vrou en moeder te laat sidder. Al was Josef se ma danig met hom.

Die Griekie kom toe hier aan met net so ʼn bietjie Engels. Verstaan knaend verkeerd, hou hom maar eenkant.

Maar nie onaardig nie. Netjiese gesiggie op hom. Krulhare en ʼn vag aan die bors en so. Oormekaarkyk-boudjies. Nou broekies.

Nou van die Engels-gesindheid van die Scheeperse, is Josef toe na’and daar, en toe begin die saamvryery.

Josef ken die mense, en hulle is te aardig om hom weg te jaag, en die Griekie is mooi, al gaan die pratery maar sukkel-sukkel.

So kry Josef nou toegang by die meisies en die Griekie by die ouers.

Maar Josef kan maar nie regkom nie. Kerslig ofte nie, lelik bly hy lelik.

Nou toe die Griekie by Lena van Deventer vashaak, kuier die twee knaend daar, en ou Sarel laat die Griekie blo hy sal sy Roomsgeit los en ordentlik leer praat, en hy begin rondskimp oor die Griekie se geld, en dat dit darem nie ʼn Libanees of ʼn Engelsman is nie. Toe raak Josef so oorhoeks oor die ander Van Deventer-dogter.

Die Griekie sê Josef maak versies en hy speel kitaar in sy buitekamer dat jy hom wie weet waar kan hoor.

Dis dié, sê die Griekie, dat hy hom maar naderhand wou help. Uit jammerte. Want hy wat die Griekie is, was ʼn rukkie in die Kaap, en daar het hy die adres van die doepa gekry.

Hy’t ons nog gewys, want daar was ʼn bietjie in die botteltjie oor, en hy wou dit nie aan Genis verkoop nie. Wys jou.

So ʼn vaal poeiertjie, amper soos jalap sou ek sê, maar aan jou maag doen hy niks, sê die Griekie.

Nou om die doepa in die Van Deventer-dogter in te kry, gee toe ʼn bietjie moeilikheid, want die plek wat die goed verkoop, die stuur ʼn briefie saam om te sê jy moet versigtig wees met die goed, want dit werk nie altyd nie, maar as dit die slag kom werk, dan is dit sterk kos.

Koop toe sjokolade, die twee, en met ʼn groot gesukkel het hulle naderhand die goed gaatjies in gemaak, die doepa ingesit, en die lekkergoed weer met ʼn lou soldeerbout toegesmelt.

Met dié onder die arm toe die aand weer na die Van Deventers toe en daar toe ʼn hele ding aan die gang gesit om te sorg dat die regte meisie die goed inkry. Want op die botteltjie het gestaan ʼn mens moet duidelik weet dis die man wat die goed insit wat die liefde gaan trek.

Na die oumense gaan slaap het, is die Griekie en Lena in die eetkamer aan’t vrye, en Josef het die teensinnige suster op die stoep uit en daar presenteer hy toe die meisie met die sjokolade.

Maar meisiekinders is mos snaakse goed. Hou hulle van ʼn man, dan kan hy hulle pap gee en alles is reg, maar laat hom nou ʼn oorlas van hom maak, dan kan hy aandra wat hy wil.

Die Van Deventer-dogter het later gesê sy’t die een lekkergoed uitgehaal, maar sy’t hom nie geëet nie − dis seker dié dat haar ma die volgende dag die ding ingekry het − en die ander het sy sommer so deur die gesukkel van Josef om tot soene te kom, oor die stoepmuurtjie gegooi.

Ou Van Deventer het my later self gesê hy sal tot vandag toe nie kon sê hoe die vark in die tuin gekom het nie, seker die vryers wat die hek laat ooplê het.

Maar die volgende môre, sê Josef, as jy hom kan kry om te praat, toe begin die ding.

Die vark staan voor die buitekamerdeur, en Josef sê dit was vir hom al of die dier vir hom kyk soos hy nie gewoond is ʼn vark kyk vir ʼn mens nie.

En toe hy nou wil werk toe, het die vark geen rus of duurte nie, maar dit moet saam.

Dis dié dat Genis en Veldsman so staan en oe en o wêreld by die koöperasie, want hier kom Josef met sy lang nek aan, en of hy nou skree en doen, die vark is agterna, en so kom die twee daar aangestap.

Veldsman vra hom nog of hy nou die ding oorgeneem het by ou Van Deventer, want hy’s al een wat landrasse aanhou.

Nee, sê Genis, só ken hy ʼn vark nie, want jy sou sweer die ding is verlief op Josef. Kyk net hoe kyk die ding vir hom.

Ja, sê Veldsman, kompleet soos Genis die tyd vir Flora gekyk het; hy hoop net nie die vark het dieselfde gedagtes as wat Genis gehad het nie.

Twee weke het Josef uitgehou, en die drade wat daardie vark gebreek het om by hom uit te kom, sal jy nie glo nie.

Maar toe tannie Van Deventer skielik harder na Josef begin vry as die dogter, toe kry ou Van Deventer dinge agter mekaar en hy sê vir Josef hy kan die vark vat en loop slag, enigiets.

Josef toe te aardig. Ook die enigste ding wat hom kon liefkry, seker.

Vark weggestuur. Ou Van Deventer sê hy gee nie om waarheen nie, ouetehuis toe ook, want doepa of nie doepa nie, ʼn vark moet haar nie aanmatig nie, en wat sou die dier aan Josef sien?

Genis sê nog vir Josef vir ʼn vark is sy nie onaardig nie. Maar ons het Josef gekeer.

Tot vandag toe sal jy nie hoor dat die Van Deventer-vrou ʼn skewe woord van Josef sê nie.

Vir hom aardig, sê Veldsman, dat ou Van Deventer, ʼn ou getroude man, so moet sleg slaap oor die lelikste jongetjie wat die distrik nog gebore gesien het.

***

Die kortverhaal is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf. Klik hier om Koöperasiestories aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.