Koos Bekker: Entrepreneur, magnaat, miljardêr

Hy het in sy leeftyd ʼn fortuin gemaak – van die meeste geld nóg wat ʼn Suid-Afrikaner kon bymekaarmaak – maar hy het ook die medialandskap in Suid-Afrika gehelp transformeer, het ʼn tasbare uitwerking op die land se kultuur gehad en beskik oor ʼn sake-instink wat haas verstommend is.

“Man, ek was bang niemand skryf ʼn boek oor Koos Bekker nie,” sê Theunis Strydom, skrywer van die boek Koos Bekker’s Billions (onder die skrywersnaam TJ Strydom) wat pas verskyn het.

Bekker was die baasbrein agter die betaalkanaal M-Net, het die Suid-Afrikaanse uitgewer Naspers in ʼn e-handelbelegger omskep en was verantwoordelik vir Naspers se uiters suksesvolle belegging (of wat Forbes noem, “dalk die grootste waagbelegging ooit”) in die Chinese internetmaatskappy Tencent Holdings. In 2014 het hy as uitvoerende hoof van Naspers afgetree en ʼn jaar later was hy terug as voorsitter van die maatskappy as opvolger vir Ton Vosloo. Bekker beklee vandag steeds die pos.

“Hy is ʼn baie interessante entrepreneur en ʼn baie groot gees in die Suid-Afrikaanse sakewêreld. En om een of ander rede is daar net nog nie genoeg oor hom geskryf nie.”

Dat daar al heelwat oor hom geskryf is, is só, maar dit is dalk sy invloedryke posisie in die media, of miskien omdat hy al só lank aan die hoof van Naspers staan, wat beteken dat dit steeds onvoldoende is.

“Een of ander tyd gaan hy te oud raak om oor te skryf, of dit gaan nie meer belangrik wees nie of daar gaan iets anders wees wat meer dringend is,” sê Strydom. “Ek het gedink nou is ʼn goeie tyd om dit te doen.”

As bedrewe en ervare sakejoernalis delf Strydom diep in Bekker se lewe, sy loopbaan en sy sakekop. Sommige van Bekker se beleggingsbesluite was dalk sleg, ʼn paar was maar betreklik middelmatig en dan was daar die uitsonderlike besluite wat van hom ʼn sakemagnaat gemaak het.

Hoewel Koos Bekker’s Billions as sakebiografie ʼn bepaalde plek op die boekwinkelrak sal kry, is dit veel meer as net ʼn boek oor ʼn vernuftige sakeman. Dit is ook ʼn lewensverhaal en gee konteks oor waar Bekker vandaan kom, die dinge wat hom gedryf het en die mense wat hy in sy uiters private binnekring toegelaat het.

“Dit is nie sonder staaltjies of gebeure uit sy persoonlike lewe nie. Jy moet ʼn volle storie skryf, want niemand wil ʼn handboek lees nie.”

Die boek is opgedeel in 15 hoofstukke; 15 dinge wat Bekker volgens Strydom in sy sakelewe toegepas het, wat van hom ʼn uitskieter gehelp maak het. Daar is talle mense wat wonder presies hoe kry ʼn mens dit reg om soveel geld te maak.

Forbes het sy fortuin vroeër vanjaar op $2,3 miljard (sowat R41 miljard) geplaas en hy was 1 341ste op die tydskrif se lys van rykes wêreldwyd. Indien jy dus wonder hoe om jou eie miljard te maak, is Bekker se voorbeeld waarskynlik ʼn goeie een om na te doen.

Ongemagtigde biografie

Die skrywer T.J. Strydom. (Foto: Verskaf)

As daar nou een ding is wat almal wil weet, sê Strydom, is dit of Bekker van die boek weet.

“Hy is bewus hiervan, maar …” sê Strydom. Hy keur dit nie goed nie.

“Ek het hom genader vir ʼn gemagtigde biografie en hy het dit van die hand gewys.

“Dan gebruik ek ander metodes en gewoonlik is dit dan maar waar die gesprek ophou.

“Of dit vrees is en of dit lojaliteit is … Koos het definitief mense wat nie oor hom wil praat as hulle nie sy toestemming het nie. Of dit nou ʼn bevel van sy kant af is, of dat mense dalk net bang is om sy gramskap op die hals te haal, dit weet ek nou nie.

“Daar was baie toe deure, maar daar was ook baie oop deure,” sê Strydom oor diegene wat hy genader het om oor Bekker te gesels.

Ja, dit sou makliker gewees het as Bekker ingestem het om sy samewerking te gee, maar Strydom sê hy kon steeds ʼn omvattende storie vertel. Dit is boonop ʼn verhaal wat hy glo vertel moet word. Hy beoog later nog ʼn boek oor Bekker, dié keer in Afrikaans.

Dit is moeilik om te sê hoekom Bekker die aanbod om sy samewerking met die boek van die hand gewys het. Dalk omdat hy niks gehad het om daarmee te wen nie. Hy het klaar ʼn fortuin gemaak. Hy is voorsitter van Naspers. Hy het groot aansien in die sakegemeenskap. Hy besit ʼn wynplaas en ʼn hele paar huise op ʼn hele paar wonderlike plekke. Hy het genoeg bereik.

“Ongelukkig is sy storie só goed, dat dit móét vertel word,” sê Strydom. Baie Suid-Afrikaners, hedendaagse entrepreneurs veral, kan heelwat leer by sy besluite en sy storie. ʼn Storie oor ʼn Afrikaanse seun wat in sy leeftyd ʼn fortuin gemaak het, ʼn sakeryk opgebou het. Omstredenheid is daar altyd, en dit word ook in Strydom se boek ingesluit.

Was Bekker nie maar net op die regte plek op die regte tyd met net die regte netwerk nie? Al daai dinge kon seker nie skade gedoen het nie, maar Strydom sê Bekker is ʼn man wat geleentheid ten volle benut het.

“Wat ek in die boek probeer doen het, was om hierdie groot goed te vereenvoudig en die storie duidelik te maak,” sê Strydom.

Die boek bevat heelwat staaltjies oor Bekker: Hoe hy op ʼn keer ʼn Huisgenoot‑redakteur gevra het om ʼn redaksievergadering van die tydskrif by te woon. Sy regstreekse betrokkenheid by News24. Hoe talle inisiatiewe van stapel gestuur is want “Koos sê so”. Hierdie frase is glo só dikwels gehoor, dat dit later sommer na “KSS” afgekort is.

Uit die boek:

Early in 2020, I pop Bekker an email, telling him that I am certainly going to write about him. No reply. I let it lie for few months. Pandemics happen.

Then I give him a call. Bekker hears me out and says, ja, he’s known plenty of people who have become famous, one way or the other. Didn’t do them much good.

Hy het belang gestel in dinge wat nie noodwendig vir aandeelhouers so belangrik was nie, maar wat Bekker na aan die hart gelê het.

“Miskien was hy ʼn gefrustreerde joernalis wat besluit het om eerder ryk te word,” skerts Strydom.

Hy het Bekker ʼn paar keer self ontmoet en beskryf hom as ʼn “hoflike ou”, maar ook een wat waarskynlik nie maklik teenoor vreemdelinge oopmaak nie; dalk ʼn goeie strategie vir ʼn sakeman.

Strydom is ook die skrywer van die boek Christo Wiese: Risk and Riches, wat in Afrikaans beskikbaar as Christo Wiese: Risiko en Rykdom, en sê hy het reeds begin voelers uitsteek vir ʼn boek oor nog ʼn bekende sakemens. Wie dit is, wil hy nie nou verklap nie.

“Ek is bang dat daardie stories nie vertel gaan word nie. Ek is bereid om dit te doen. Afrikaanse miljardêrs of Afrikaanse ouens wat suksesvol is, wat dit reggekry het om nie te veel in die openbare oog te wees nie, wat hul sukses nie eintlik op ʼn openbare profiel oor die jare gebou het nie, maar eerder omdat hulle ʼn besigheid aan die gang gesit het, of reg belê het of ʼn goeie onderneming gebou het, is ongelukkig redelik beskeie.

“Dikwels is hulle te nederig om ʼn boek oor hulself te skryf of te laat skryf.

“Ek voel dit is my plig om daardie boeke te skryf voor die stories vergaan.”

  • Koos Bekker’s Billions, deur TJ Strydom, word deur Penguin Random House uitgegee en is aanlyn en by die voorste boekwinkels landwyd beskikbaar. Jy kan die boek ook by Graffiti Boeke opspoor.
  • Luister bo-aan die artikel na uittreksels uit die onderhoud met Strydom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Braam ·

TJ, ek het nog nie jou boek gelees nie, maar glo jy het ook heelwat ‘ingezoom’ op Ton se groei in die SA media omgewing. Ton en Koos loop saam, hand aan hand. Naspers is oor n tydperk ‘ge-ailienate’ en die sterk media arm van die Afrikaner is vervreem. As ek reg is nou internationaal genoteer, waar dit wat ons opgebou het, nou geld maak vir beleggers en vennote buite suid afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.