Vyf SA’ners vanjaar op ‘Forbes’ se miljardêr-lys

Forbes het pas sy nuutste lys van die wêreld se rykstes bekend gemaak. (Argieffoto: Unsplash)

Forbes, die Amerikaanse saketydskrif, het die oud-Suid-Afrikaner Elon Musk pas boaan sy lys van die wêreld se rykste mense geplaas – en daar is verskeie Suid-Afrikaners op dié lys wat nie soos die res van die gepeupel hul sente hoef om te draai nie.

Volgens Forbes kon nie eens ʼn oorlog, ʼn pandemie of power markte die wêreld se altesame 2 668 miljardêrs onderkry nie, al is daar vanjaar heelwat minder miljardêrs as ʼn jaar gelede.

Die groep het ʼn gesamentlike waarde van $12,7 biljoen, maar dit is nietemin $400 miljard minder as in 2021.

Onder hulle is Suid-Afrikaners soos die mynmagnaat Nicky Oppenheimer en Naspers-hoof Koos Bekker.

Elon Musk. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Elon Musk is danksy sy bankbalans van $219 miljard vir die heel eerste keer boaan die lys van rykstes. Musk is ʼn oud-Suid-Afrikaner en werk aan die revolusionering van vervoer – nie net op aarde deur die elektriesemotorvervaardiger Tesla nie, maar ook in die ruimte deur die vuurpylvervaardiger SpaceX.

Hy word gevolg deur Jeff Bezos (met ʼn fortuin van $171 miljard), wat die e-handelsreus Amazon in 1994 in sy motorhuis in Seattle op die been gebring het. Bezos het in Julie verlede jaar as uitvoerende hoof bedank om die uitvoerende voorsitter van Amazon te word.

Derde op die lys is Bernard Arnault en sy familie. Arnault is verantwoordelik vir die LVMH-sakeryk en naastenby 70 mode- en kosmetiekhandelsmerke, waaronder Louis Vuitton en Sephora. Arnault se fortuin staan op $158 miljard.

Bill Gates, wat al etlike kere deur Forbes as die wêreld se rykste mens aangewys is, is in die vyfde plek met ʼn fortuin van $129 miljard. Gates het sy miljarde uit die sagtewaremaatskappy Microsoft in ʼn gediversifiseerde fortuin omskep.

Die mynmagnaat, Patrice Motsepe. (Argieffoto: Werner Beukes/SAPA)

Die skerpste dalings was in Rusland, waar daar nou 34 minder miljardêrs is as verlede jaar, ná pres. Wladimir Poetin se oorlog in Oekraïne. Ook in China, waar die regering toegeslaan het op tegno-maatskappye, is daar nou 87 minder miljardêrs.

Almal het egter nie agteruit geboer nie. Volgens Forbes is iets soos ʼn duisend miljardêrs nou selfs ryker as ʼn jaar gelede en daar is nou ook 236 nuweling-miljardêrs in plekke soos Barbados, Bulgarye, Estland en Uruguay op die lys.

Die VSA het steeds die wêreld se meeste miljardêrs en altesame 735 van hulle is ʼn allemintige $4,7 biljoen werd.

Forbes gebruik aandeelpryse en wisselkoerse (soos op 11 Maart) om die rykes se nettowaarde te bepaal.

Húlle is die wêreld se 15 rykstes:

NaamNetto- waardeOuderdomLandBronBedryf
1.      Elon Musk$219 miljard50VSATesla, SpaceXMotorvervaardiging
2.      Jeff Bezos$171 miljard58VSAAmazonTegnologie
3.      Bernard Arnault & familie$158 miljard73FrankrykLVMHMode & kleinhandel
4.      Bill Gates$129 miljard66VSAMicrosoftTegnologie
5.      Warren Buffet$118 miljard91VSABerkshire HathawayFinansies & beleggings
6.      Larry Page$111 miljard49VSAGoogleTegnologie
7.      Sergey Brin$107 miljard48VSAGoogleTegnologie
8.      Larry Ellison$106 miljard77VSASagtewareTegnologie
9.      Steve Ballmer$91,4 miljard66VSAMicrosoftTegnologie
10.   Mukesh Ambani$90,7 miljard64IndiëGediversifiseerGediversifiseer
11.   Gautam Adani & familie$90 miljard59IndiëInfrastruktuur, kommoditeiteGediversifiseer
12.   Michael Bloomberg$82 miljard80VSABloomberg LPMedia & vermaak
13.   Carlos Slim Helu & familie$81,2 miljard82MexikoTelekommunikasieTelekommunikasie
14.   Francoise Bettencourt Meyers & familie$74,8 miljard68FrankrykL’OréalMode & kleinhandel
15.   Mark Zuckerberg$67,3 miljard37VSAFacebookTegnologie

Daar pronk oudergewoonte ook verskeie Suid-Afrikaners op die lys van rykes.

  • Johann Rupert en familie: Die 71-jarige Rupert is die voorsitter van die Switserse luuksegoederemaatskappy Compagnie Financiere Richemont en sy nettowaarde staan op $8,9 miljard. Let wel, Forbes gee die syfer in dollarwaarde – en nie rand nie. Sy fortuin plaas hom 230ste op die lys van die wêreld se superrykes.
  • Nicky Oppenheimer & familie: Met ʼn fortuin van $8,7 miljard, is Oppenheimer (76) in die 241ste plek op die Forbes-lys. Hy is die erfgenaam van die De Beers-diamantfortuin en het in 2012 altesame 40% van die firma aan die myngroep Anglo American verkoop – vir ʼn superkoel $5,1 miljard in kontant.
  • Patrice Motsepe: Die stigter en voorsitter van Africa Rainbow Minerals het volgens Forbes in 2008 vir die eerste keer ʼn dollar-miljardêr geword en hy was die eerste swart man in Afrika op Forbes se lys. Hy is tans 913de op dié lys.
  • Koos Bekker: Die 69-jarige Bekker se fortuin staan op $2,3 miljard en dít plaas hom 1 341ste op Forbes se lys van rykes. Bekker het die Suid-Afrikaanse mediahuis Naspers getransformeer tot ʼn e-handel-belegger en betaal-TV-krag om mee rekening te hou.
  • Michiel le Roux: Le Roux het Capitec in 2001 op die been gebring en besit ʼn 11%-aandeel in die bank. Dit het sy fortuin op $2,1 miljard te staan gebring en hy is 1 645ste plek op Forbes se lys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

krodedil ·

Dit gaan lekker hier is Suid Afrika en ons weet waarom word mense super ryk.

Frank ·

Jaloersie en afguns is ‘n lelike ding en baie van daardie mense het meer geleer en gewerk in 1 jaar as wat jy in 20 jaar. Werklike sukses is soos ‘n ysberg waar mensies net die glans punt wat bo uitsteek sien en nie idee het van die yslike hoeveelheid werk en opofferings daaragter nie

Misky ·

Daai SA’ners moet pasop en die comrades sal julle opsoek en geld demand. Juis vandag is die rooi petters by Oppenheimer se landgoed.

Jannie van Niekerk ·

Hulle moet ‘n lys van die armste mense in die wereld ookm maak. Ejk sal beslis in die top tien wees….

Helene ·

As jy ‘n selfoon en/of rekenaar het waarop jy kan Facebook, is jy beslis nie onder die wêreld se armste top 10 nie.

Johann ·

As jy die 4 blanke mans vat is Koos Bekker die jongste op 69

Blom ·

MM, die feite klink nie reg nie. Daar vanjaar 87 minder miljardêrs as ʼn jaar gelede. Rusland het nou 34 miljarders minder en China 87 minder. Dit is in totaal 121??

Wondermaarnet ·

LOL die rykes se eie nasie dooi van siektes, peste en armoede en wat doen hulle om te help? NIKS! CR is mos getroud met Patrice Motsepe se suster. Wonder of daar ook ‘n paar tenders toegeken is aan familie.

Toy ·

Wel hulle het gewerk om daar te kom en het verseker ‘n besigheidsbrein. Welgedaan aan hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.