Lewensdossier van speurbaas ontvou in nuwe boek

Genl.maj. Karel “Suiker” Britz (Foto: Facebook)

Toe Karel Johannes Britz tydens ʼn skole-rugbywedstryd op die doellyn afgepyl en die wendrie vir sy span gedruk het, sou ʼn mens nie kon dink dat een toeskouer se verwysing na hom as “Suiker” en die res van die skare se spontane nabootsing hiervan jare later deel sou word van dié geharde polisieman se identiteit as speurder en hoof van die polisie se moord-en-roofeenheid nie.

In Suiker Britz: Dossier van ʼn speurbaas onderneem Anemari Jansen en Stefaans Coetzee om ʼn beeld van die man agter die legende te kry deur die kollig op sake waarby hy betrokke was te laat val.

“ʼn Jaar of wat voor sy dood het Suiker en Annatjie Britz my genader om  ʼn boek oor sy veelbewoë loopbaan te skryf,” vertel Jansen. “Ek het ingestem en vir Coetzee gevra om as medeskrywer aan die projek te werk.”

Ten tye van Britz se dood op 30 November 2018 was Jansen en Coetzee reeds kniediep in die navorsing oor Britz se luisterryke loopbaan.

Genl.maj. Karel “Suiker” Britz en sy vrou, Annetjie (Foto: Facebook)

“Met Britz se voortydige dood is ons gesprekke egter kortgeknip voordat ʼn volledige prentjie van die speurbaas gevorm kon word,” vertel Jansen. “Die boek oor Britz is ʼn poging om aan dié legendariese en omstrede speurder ʼn stem te gee.”

Die skrywers raai lesers aan om dié gegewe in ag te neem wanneer die boek gelees word. “Dit is ʼn dossier met stukke inligting wat saamgestel is om ʼn idee te vorm van wie Suiker Britz werklik was.”

Jansen onthou dat dit op velerlei vlakke ʼn uitdaging was aangesien Britz reeds baie siek was toe sy en Coetzee aan die boek begin werk het. Die skrywers kon die boek voltooi danksy Britz se argief van plakboeke, fotoboeke en persoonlike aantekeninge oor die sake waarby hy betrokke was.

“Baie van die sake was interessant omdat ʼn mens insig in die werkswyse en die vasberadenheid van speurders, asook in hul jaagtog om moordenaars vas te trek, kry,” vertel die skrywers. “Natuurlik is dit soms wrede inhoud, maar ʼn mens wil dit in ʼn formaat verwerk wat lesers kan bereik.” Daar is één hoofstuk wat Jansen uitsonder wat ʼn geweldige effek op haar gehad het.

“Die moeilikste hoofstuk was waarskynlik die moorde op die Niemann-gesin in die openingshoofstuk,” vertel sy. “Dit was regtig hartverskeurend om polisiefoto’s van die moorde te bestudeer, om sodoende ʼn beskrywing daarvan in die boek te vervat.”

Anemari Jansen, een van die skrywers van Suiker Britz: Dossier van ‘n speurbaas (Foto: Oupa Coetzee)

Wanneer die inhoud haar onderkry ontvlug sy saam met familie en vriende, óf sy bespreek dit met Coetzee en ander vertrouelinge. Jansen erken ook dat ʼn verandering in werksruimte die beste ontvlugting is.

“Dit help om soms op ʼn ander plek as jou studeerkamer te skryf en vars lug en sonskyn in ʼn natuurreservaat te gaan opsoek.” Aktiwiteite soos stap, reis of selfs tuinwerk is ook ʼn bron van inspirasie en energie wat help om met nuwe oë na die teks te kyk.

Oor die vraag of Jansen al voorheen dreigemente ontvang het, antwoord sy laggend, “O, nee genade! Darem nog nie.” Hoewel Jansen in standerd agt vir haarself ʼn dramatiese skuilnaam uitgedink het, was dit nooit ʼn opsie om dit te gebruik nie, al skryf sy oor swaarwigtige onderwerpe soos moord en roof.

“Die geheim is seker maar om jou huiswerk deeglik te doen,” meen sy.

Die skrywers erken dat die navorsingsproses dikwels uitmergelend is, maar gee te kenne dat dit ewe bevredigend is wanneer die eindproduk voltooi is, amper soos om ʼn legkaart klaar te bou.

“Wanneer die stukke van die legkaart inmekaar begin pas en die rou teks begin vorm aanneem, is daar ʼn diep gevoel van bevrediging.”

Van die sake wat in die boek belig word sluit in Die Kerkstraat-bomontploffing, Gert van Rooyen se pornografiese misdade en Joey Haarhoff se aandeel in die verdwyning van jong meisies, asook die sluipmoord op Fabio en Florence Ribeiro. Sensitiewe lesers word gewaarsku dat moorde wat in die boek beskryf word, dikwels grusaam en skokkend is.

Oor die outeurs:

Anemari Jansen het ʼn meestersgraad in Afrikaans-letterkunde. Haar debuutroman Glipstroom is in 2014 deur Human & Rousseau gepubliseer. In 2015 het Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat in Afrikaans en Engels verskyn. Jansen is passievol oor die versoenende rol wat persoonlike narratiewe kan speel in die huidige diskoers in Suid-Afrika. Sy het drie kinders, Rohan, Christian en Carina, en woon in Alberton.

Stefaans Coetzee is ʼn aktivis vir versoening, geregtigheid en restitusie. Sy merkwaardige verhaal van hoe hy as tiener deur regses gebreinspoel is om aan ʼn terreuraanval deel te neem, word vertel in Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding. Coetzee het al die Comrades voltooi en hy woon saam met sy kat, Pablo, op Klerksdorp.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

sproetjies ·

Suiker se boek is ‘n moet lees.
Het hom persoonlik geken en hy was een van ons bestes

Jaco ·

Ek het oom Suiker as n reguit plat op die aarde mens leer ken. Hy het nie geskroom om die kind op die naam te noem nie. Solank as wat jy met hom eerlik was was jy in sy goeie boekies. Glo die boek oor hom sal net so interessant wees soos oom Suiker self.

siebie ·

Insiggewende leesstof……..dit lig die sluier oor ‘n heel ander wereld. Welgedaan aan die outeurs!!!

Alki ·

Ek het saam met Genl Britz gewerk, nog by EGM vroeg in 2000. Sy das het eenkeer in die snippermasjien beland, hy kon hom darem uitkry, hy het daardie gesnipperde das laat raam en dit in sy kantoor laat hang. Hy het ook altyd Vrydae om en by 12:00 vir ons dames gevra of ons nie huise het nie, wat maak ons dan nog op kantoor, hy gee ons dames middag af, my hart is baie seer oor sy skierlike dood, ek verjaar 30 November en dit was nie lekker toe ek verlede jaar die middag om 14:00 die watssap kry van sy dood nie, sal dit nou elke jaar onthou. Gaan beslis daardie boek aanskaf.

Wonder ·

Suiker Britz het ook die sluipmoord op Johan Heyns ondersoek, maar te verstane het hy nie die skuldige gevang nie. Dit was polities van aard. Die Van Rooyen-saak is ook een van sy onopgeloste dossiere. Maak egter ook sin, gegewe die rol van politici in die verdwyning van die meisies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.