Luister: ‘Binnelanders’-akteur vertel oor genesing na sy ma se dood

David Viviers se debuutroman, ‘Mirage’, het vroeër vanjaar verskyn. (Foto: Verskaf)

David Viviers, wat tans die rol van dr. Liam Vorster in Binnelanders speel, sê hy het halfpad deur die skryf van sy debuutroman besef hy is eintlik nog besig om die verlies van sy ma se dood te verwerk.

“My ma is aan borskanker dood toe ek drie was. Omdat ek haar op ʼn jong ouderdom verloor het, is die gevolg dat ek nou net vae herinneringe van my ma oor het,” vertel die 30-jarige David aan Maroela Media.

“Daar was intussen kleiner verliese, maar ek dink dit herinner jou aan die groter verliese, soos die dood van ʼn ouer. Ek dink dit het beslis nog steeds ʼn groot invloed op ʼn mens se lewe, al is jy nie deurentyd daarvan bewus nie.”

Sy boek, Mirage, gaan oor ʼn eeueoue kis wat naby die spoorwegdorpie, Sterfontein, opgegrawe word. Die verlore joernaal van die Victoriaanse skrywer, Elizabet Tenant, en wat blyk die oorskot van ʼn kind is, word in hierdie kis ontdek.

Een van Elizabeth se joernaalinskrywings oor ʼn skarlakenrooi gordyn wat bo die woestyn waai en die ingang na ʼn ander wêreld bedek, prikkel Michael, ʼn universiteitstudent met ʼn gebroke hart, se belangstelling. Hy word verder geboei deur ʼn beskrywing in die joernaal wat hom en sy kosmoloog-ma verbind.

Michael besluit dan om die hotel in die Karoo waar Elizabeth haar roman, Mirage, honderde jare gelede geskryf het, te besoek in ʼn poging om die joernaal se geheime te ontrafel.

David Viviers. (Foto: Verskaf)

Hoewel die wonderskone Karoolandskap en sy flora, sterrekunde, mitologie en geskiedenis onmisbare elemente in die boek is, is die tema van verlies volgens David ʼn belangrike deel van die storie.

“Vir my gaan dit meer oor die hoofkarakter, Michael, se persoonlike ervaring en die reis om sin van sy eie verlede en leefwêreld te probeer maak.

Mirage is eintlik ʼn verkenning van hoe ons sin van verlies maak, en hoe ons die gebeure van ons lewens in iets sinvols probeer rangskik, soos die manier waarop ons sterre in ʼn konstellasie plaas,” brei David uit.

Dit is net ʼn bietjie meer as ʼn jaar sedert David van die Kaap af Johannesburg toe getrek het om by die kykNET-sepie, Binnelanders, aan te sluit. Hy sê dit is ʼn wonderlike ervaring, al sukkel hy soms nog met Afrikaans. Te danke aan sy mede-akteurs en ander spanlede, kom David goed met die taal reg.

Maude Sandham, Mila Guy en David Viviers agter die skerms van ‘Binnelanders’. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Die mense, crew en akteurs, is wat dit regtig vir my lekker maak. Dit is ʼn moeilike medium, omdat die pas geweldig vinnig is. Ek leer nog steeds baie en ek vind beslis nog my voete.”

Oor sy rol as dr. Liam, vertel David dat die karakter kykers aan die begin goed omgeëllie het, maar dit lyk of hulle nou meer van hom hou.

“Ek dink Liam is besig om kykers se harte te wen, maar daar lê ʼn storielyn voor wat ek dink mense weer so bietjie gaan kwaad maak,” verklap hy.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met David Viviers oor sy debuutroman, Mirage. Hy gesels ook vlugtig oor sy rol by Binnelanders die afgelope jaar.
  • Mirage kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JvR ·

Ek glo nie n mens kan ooit die dood van n ma of kind verwerk nie. Want n gedeelte van jou gaan saam dood.

Chantel ·

My pa is 14 jaar reeds oorlede, ek glo mens kan dit verwerk, maar dit verg wilskrag. En natuurlik verskil dit van mens tot mens. Vandag praat ek met net mooi herinnering van hom en weet hy sou baie trots gewees het op my.

Maryna ·

Ek het my ma aan die dood afgestaan net so oor die 2 jaar gelede, en voel soms of ek steeds net kan bel, tot ek besef ek kan nie, droom ook nog gereeld oor haar dan is dit asof sy net weg was vir ‘n tydjie en weer terug is. Dis baie swaar om iemand so na aan jou te verloor, ek wil nie eers myself probeer indink hoe so ‘n jong kind deur die lewe moet gaan sonder ‘n mamma nie. Sterkte David

SwartBees ·

Presies dieselfde met my maar net met my Pa. Hy is ook 2 jaar terug na die hiernamaals maar ek droom nog baie oor hom en word dan wakker met dieselfde hartseer van realiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.