Luister: Marita se ‘Laaste kans’ ʼn ode aan vriendskap

Marita van der Vyver kuier by Maroela Media.

“Die gulheid waarmee ek met elke besoek in Suid-Afrika ontvang word, laat my opnuut besef waarom ek sal aanhou om in Afrikaans te skryf.”

Dit is die woorde van Marita van der Vyver wat onlangs weer ʼn draai in haar geboorteland gemaak het om haar jongste boek, Laaste kans, bekend te stel.

“Daar is lang tye wat ek alleen by my huis in Frankryk sit en skryf, en ek is meestal ver van my lesers af. Ek wonder in die alleentye dikwels waarom ek dit doen, maar wanneer ek tuiskom in Suid-Afrika, is dit regtig die moeite werd.

“Lesers verwelkom my met ope arms, ek ontmoet soveel lesers en boonop mense wat al my boeke besit. Dit is werklik ʼn riem onder die hart.”

Marita het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor die waarde van samesyn, vriendskappe, toekomstige skryfplanne, haar kreatiewe proses en karakters in Laaste kans.

Laaste kans volg op Wegkomkans, wat in 1999 die eerste keer verskyn het met heruitgawes in 2006 en 2018.

Wegkomkans speel oor ʼn tydperk van 10 jaar af en dit is teen die agtergrond van politieke onstuimighede in die laat tagtigs en die oorgang na ʼn demokratiese regering in die vroeë negentigs.

Die storie gaan oor ʼn groep vriende – Yvette, Paul, Mila, Emma, Adriaan, Liane, Max, Bobby, Ralph en Philip – wat te midde van ʼn veranderende wêreld vir mekaar die konstante van samesyn, goeie kos en humorsin bied.

Bykans 25 jaar later stof Marita dié storie af, deels omdat sy self nuuskierig was oor waar die karakters hulle vandag bevind en ook omdat lesers haar gereeld daaroor gepols het.

“Oor die jare, wanneer ek ʼn nuwe boek bekendstel, was daar altyd lesers wat kom vra het wat van Wegkomkans se karakters geword het. Dit is van al my boeke die een wat die meeste herlees word.”

In Laaste kans kom dié vriendekring die eerste keer in 25 jaar bymekaar. Hierdie keer is dit vir ʼn naweek waartydens Adriaan se 70ste verjaarsdag gevier word. Die vriende het intussen getrou, afskeid van geliefdes geneem, kinders gekry en kleinkinders ryker geword.

“Ek dink hierdie boek is soos ʼn ode aan vriendskap, veral aan jarelange vriendskappe wat die toets van tyd deurstaan. Hegte vriendskappe is in my eie lewe ook baie belangrik. Die ding dat jy saam met ou vriende, wat jy soms 10 jaar of langer nie gesien het nie, bymekaar kan kom en kuier asof julle mekaar gister gesien het.”

Marita van der Vyver kuier by Maroela Media.

Marita is reeds besig om te dink aan haar volgende boek. Sy sê dit is wat sy nodig het om aan te beweeg en afskeid van haar boeke te neem.

“Ek kan nie afskeid neem van ʼn boek of wegkom van die skeidingsangs en vrees wat ʼn mens tog het as ʼn boek uit jou hande uit gaan, as ek nie ten minste ʼn goeie idee vir ʼn volgende boek nie.

“Daar is reeds ʼn idee vir ʼn volgende boek wat in my gedagtes begin vorm aanneem, maar ek wil in hierdie stadium nog te veel daaroor verklap nie.”

Laaste kans kos R330 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan na die volledige onderhoud met Marita van der Vyver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.