Luister: ‘My geliefde is in ʼn kultus: Wat nou?’

Jana Marx, skrywer van ‘Kultusse in Suid-Afrika’. (Foto: Kevin Mark Pass)

Hier volg ʼn uittreksel uit Jana Marx se boek, Kultusse in Suid-Afrika.

Wat staan my te doen as iemand wat ek ken in ʼn kultus vasgevang is? Forster beveel aan dat jy kontak met die persoon moet behou. Deur kontak te behou, verhoed jy dat daardie persoon geïsoleer en verder ingetrek word by die kultus. Hy beveel ook aan dat jy soveel moontlik navorsing doen oor die spesifieke groep, soos Magda gedoen het met haar seun wat by Christ in Me betrokke is. “Kennis is mag. Doen veral navorsing oor die kleiner kerkgemeenskappe. Die grotes sal jy op die Internet kan kry,” sê Forster. Raadpleeg ook mense wat kennis het oor sielkundige manipulasie.

Wat jy ook al doen, moenie daardie persoon los nie. “Behou kontak. Wees ondersteunend en waardeer die mens sonder om hul dade en bedrywighede goed te praat. Dink na oor hoe jy dit kan bestuur. Moenie redeneer of mense probeer oortuig nie, want dan maak jy hulle net kwaad. Probeer ook verstaan waarom die persoon deur so ʼn groep opgeslurp word en kyk of daar nie ʼn alternatief is nie. Het hulle ʼn behoefte om te behoort? Is daar fisieke behoeftes, soos behuising en kos?” sê Forster.

Verder sê hy dat ingryping soms nodig is. Omdat mense wat in ʼn kultus vasgevang is, gewoonlik nie besef dat hulle hul in ʼn kultus bevind nie, kan dit soms help as mense wat die persoon vertrou, bymekaarkom en op ʼn mooi manier vir die persoon sê: “Dit is wat ons, wat buite staan, sien gebeur. Ons het gesien hoe jy jou verhouding, jou werk, jou kinders, jou geld verloor …” En dié mense moet familie en vriende wees, sê hy. “Moenie dadelik die dominee laat kom nie.”

Dit help ook om genoeg navorsing bymekaar te hou, soos nuusberigte of memoires deur vorige kultuslede. “Videogetuienisse van vorige kultuslede kan verál help met oorreding,” het prof Janja Lalich, wat voorheen lid was van die radikale Marxist-Leninist-groep, aan The New York Times gesê. Sy verduidelik dat kultuslede byna ʼn soort boekrak in hul agterkop het waar hulle al hul twyfel en onbeantwoorde vrae stoor. “In ʼn stadium word daardie dinge te swaar en dis dan wanneer hulle besef hulle moet uitkom. Dit is jou werk om meer en meer dinge op hul rakke te laai,” sê sy.

Bid, sê Forster. “Gebed is belangrik en nodig. Bid op verskillende maniere. Bid vir ingryping. Bid dat daardie persoon die oordeelsvermoë sal ontwikkel om dinge duideliker te sien, of bid dat die kultusleiers hulleself openbaar vir wie hulle werklik is. Bid dat die Here jou sal wys wat jy moet en nie moet doen nie. Bid dat die Bose nie jou woorde verdraai nie en dat die ander persoon jou opregte bedoelings daarin sal sien.”

Tog sal jy ook moet weet waar om die streep te trek, sê Forster. As iemand deur die kultus mishandel word of ander mishandel, of misdaad pleeg, kan jy ingryp deur middel van hofaksie. Sulke drastiese dade kan ook by die polisie aangemeld word. Hierdie stappe is veral nodig waar kinders, ouer mense en mense met geestestoestande betrokke is, of om te verseker dat mense veilig is en hul bankrekeninge en eiendom beveilig word. “Kry ʼn interdik of ʼn hofbevel om hulle na ʼn plek van veiligheid te neem. Dit gaan nie die persoon terugwen nie, maar dit sal beskerming bied tot tyd en wyl.”

Moet egter nie so drasties optree as jy nie doodseker is dit is wat jy wil doen nie. In die 1960’s tot 1980’s het families so ver gegaan as om “deprogrammeerders” te huur om kultuslede te ontvoer en teen hul wil aan te hou. Vandag se verkose metode is “exit counseling” wat gepaardgaan met pastorale beraders, kliniese sielkundiges, prokureurs, familie en vriende.

En wanneer die persoon eers uit is, wees geduldig. “Dit kan tot vyf jaar neem voordat daardie persoon weer weet wie hy of sy is. Wees sag met hulle,” sê prof Lalich. Ons is vinnig om bande te verbreek met mense wat “vreemd” begin optree, veral as hulle jou laat voel asof jy die een is wat geestelik ondergeskik is omdat jy nie deel is van hul groep nie. Maar dit is juis wat ons nié moet doen nie. Hanteer die mense steeds met liefde.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf. Klik hier om Kultusse in Suid-Afrika by Graffiti Boeke aan te skaf. Die boek kos R280 (prys onderworpe aan verandering).

  • Hoe weet ʼn mens die groep of kerk waaraan jy behoort, is nie dalk ʼn kultus nie? En wat maak jy wanneer ʼn geliefde of vriend by so iets betrokke raak? Die joernalis Jana Marx van Devilsdorp-faam, het in Maroela Media se ateljee antwoorde op ʼn paar van hierdie vrae gegee. Luister boaan na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.