Luister na ‘Baster’ deur Jan Vermeulen

Jan Vermeulen (Foto: Verskaf)

Toe Jan Vermeulen een oggend die koerant oopvou en ʼn berig oor onwettige hondegevegte raaklees, het hy byna onmiddellik geweet dit is die tema van sy volgende boek. Die feit dat so baie jongmense betrokke is by dié gevegte en die steel van honde vir hierdie doeleinde, het ook ʼn groot rol in die skryf van Baster gespeel.

Eintlik maal die storie al sy hele lewe lank deur sy kop. Jan is self ʼn diereliefhebber en daarom het hy besluit om sy jongste jeugverhaal aan al die troeteldiere wat hy in sy lewe gehad het op te dra.

Baster is ʼn ode aan al my honde (ook aan al my ander troeteldiere) wat tot op hede my lewe met my gedeel het,” sê hy. “Ek wil lesers aanmoedig om hul dierevriende met liefde en respek te behandel. Ons kan so baie by diere leer.”

Baster was in 2019 een van die naaswenners in Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie. Jan het in 2015 en 2017 dié kompetisie onderskeidelik met Asem en Oopmond gewen. Maroela Media het by hom aangeklop om meer oor Baster te wete te kom.

In Baster kan die hoofkarakter Karel met honde praat. Het Jan toe hy jonger was soms gewens dat hy met honde kon praat of dat hulle sou terugantwoord? Watter gesprek sou hy graag met een van sy eie honde wou hê?

“Ja, as kind het ek baie gesprekke met my honde gehad. Ek glo tot vandag toe hulle het my verstaan en op hul eie manier geantwoord,” verklap Jan. “ʼn Mens moet net leer om te luister.”

Natuurlik sou Jan graag met al sy honde wat nie meer leef nie ʼn paar woorde wou wissel. Vir elkeen sal hy eerstens jammer wou sê: “Jammer, ek was nie daar toe jy sterf nie” of “Jammer, ek moes jou by my broer-hulle los toe ek en my ma na ʼn woonstel moes trek.”

En vir dié paar wat hul laaste asem in sy arms uitgeblaas het, sou hy sê: “Jammer, ek kon nie meer vir jou doen nie” of “Jammer, die tyd het so vinnig verbygegaan en ons het te min saamgedoen.”

Maar dit is nie al nie – Jan sou ook vir al sy dierekinders dankie wou sê. Vir al die vreugde, liefde, lojaliteit, beskerming en geduld wat elkeen vir hom gegee het.

Wat dink hy is die grootste fout wat beginnerskrywers van veral kinder- en jeugliteratuur maak?

Buiten al die tegniese skryftegnieke en -reëls wat skrywers mettertyd moet aanleer en toepas (of dan nou nie toepas nie), reken Jan dat daar heelwat slaggate is waarin beginnerskrywers van kinder- en jeugverhale kan trap.

“Van die grootste foute wat nuwelinge maak, is om jong lesers te onderskat, af te skryf na hulle of ʼn prekerige, voorskriftelike les te leer of te probeer afdwing,” sê Jan.

Hiermee saam maak sommige beginnerskrywers die fout om te hard te probeer om cool en with ’it te klink, meen hy.

Voltooi die volgende sin: “Wanneer ek hoor een van my boeke het ʼn prys gewen, dink ek altyd eerste aan …”

“… die voorreg om bekroon te word vir die uitleef van my lewenspassie.”

Hoe lyk Jan se ideale skryfruimte?

Jan sê hy hou nie daarvan om in algehele afsondering te skryf nie. Daarom is enige plek aan tafel, in die kamer of by ʼn lessenaar waar hy die huismense kan sien en hoor en tussendeur kan kommunikeer, ideaal vir hom.

Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Baster deur Jan Vermeulen.
  • Lees meer oor Baster hier op Maroela Media.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.