Luister: ‘Prinses Charlene se beste jare lê nog voor’

Prinses Charlene tydens ‘n Rooi Kruis-geleentheid in Monte Carlo. (Foto: Valery Hache/ AFP)

Toe Jonathan Ball-uitgewers besluit dat dit hoog tyd was vir ʼn Suid-Afrikaner om ʼn boek oor Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene van Monaco te skryf, het Arlene Prinsloo se naam eerste opgeduik.

Dié veteraanjoernalis het gedurende haar merkwaardige loopbaan, wat oor drie dekades strek, vir Netwerk24, Rapport, Die Burger en Beeld gewerk en ook koninklike nuus as blogger vir Sarie en Netwerk24 gedek.

Sy was self ook tussen die Britse skare vir groot koninklike gebeure, onder meer prinses Diana en koningin Elizabeth II se begrafnisse, asook prins Harry en prins William se troudae.

Arlene Prinsloo. (Foto: Verskaf)

Nou poog Prinsloo om koninklike feite van fopnuus te skei in haar eerste boek,  ʼn nuwe onthullende ongemagtigde biografie getiteld Charlene, In Search of a Princess.

In dié boek skryf Prinsloo oor Charlene se lewe en loopbaan vanaf haar grootwordjare as ʼn plaaskind in Zimbabwe, tot haar gesin se emigrasie na Suid-Afrika waar haar indrukwekkende swemloopbaan afgeskop het, en uiteindelik haar ontmoeting en huwelik met prins Albert van Monaco en geboorte van haar skattige tweeling.

Dié gesoute joernalis en selferkende koninklike fanatikus het in ʼn podsending met Maroela Media gesels oor die uitmergelende navorsingsproses wat só ʼn boek verg ten einde die talle vrae en valshede wat dikwels aan die Monegaskiese prinses vaskleef, te takel.

Wou sy vlug voor haar troudag? Is sy vasgevang in ʼn ongelukkige huwelik? Was haar vreemde gesondheidsterugslag ʼn media-foefie?

“Ek hoop dat mense nie na die voorblad sal kyk en dink dis net nóg ʼn koninklike sage nie. Die doel is eerder om die storie te vertel van ʼn plaaskind wat deur ʼn puik swemloopbaan die liefde van haar lewe ontmoet het en nou haar eie pad en stem te midde van byna onbillike media-aandag moet vind,” het Prinsloo via Zoom vanuit Kaapstad vertel.

Sy bespreek ook hoe Charlene haar noue bande met haar tuisland lewendig hou en hoekom sy van mening is dat dié prinses se Olimpiese swemloopbaan vir haar die nodige dissipline en deursettingsvermoë geleer het om verder in haar koninklike rol te groei.

“Ek dink niemand kan werklik voorberei word om só ʼn rol in te neem nie, maar ek voel dat Charlene nou wel daarin groei omdat sy uiteindelik die ruimte gegun word om dit te doen.”

Prinsloo deel ook hoe haar belangstelling in koninklikes as dogtertjie geprikkel is en verklap wat sy vir Charlene heel eerste wil vra, sou sy eendag die geleentheid kry om haar self in lewende lywe te ontmoet.

“Ek dink Charlene is werklik ʼn rolmodel wat haar platform gebruik om die kollig op belangrike kwessies te plaas en ons het sulke mense nodig, veral in Suid-Afrika. Ek glo dat haar beste jare nog vir haar voorlê.”

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud.
  • Charlene, In Search of a Princess kos R265 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.