Nog ’n Skryfnet-deelnemer behaal sukses

Riaan Grobler (Foto verskaf)

Deur Annelien van Basten

Die bekende radio-omroeper, akteur en musikant, Riaan Grobler, kan nou ook skrywer by sy reeds indrukwekkende lys prestasies voeg met die publikasie van sy eerste vollengte roman, Geheime op Philadelphia.

Hierdie verhaal, wat geïnspireer is deur sy musiektoere en reise deur die land oor die afgelope twee dekades, gaan oor die gewilde sanger Reghardt du Toit en hoe sy lewe verander nadat ’n ongeluk sy gehoor aantas. Wanneer hy homself op ’n klein dorpie in die Wes-Kaap vestig om sy lewe te probeer herbou, is daar mense en gebeure wat ’n reuse-impak op sy lewe het.

Volgens Grobler, wat tans in Kilnerpark in die Pretoriase Moot woon, is dié boek glad nie gebaseer op sy eie lewe nie. “Ek wou iets skep wat lekker lees, maar ook met die hart praat,” verduidelik hy. “Dit was nooit my plan om ’n boek te skryf nie, alhoewel dit altyd iets is wat ek baie geniet het. Die idee het eers ontstaan nadat ek ’n paar kortverhale op Facebook geplaas en mense my aangemoedig het om ’n boek te skryf.”

Toe hy dus Skryfnet se advertensie op Maroela Media sien vir ’n inleidende skryfkursus, het hy besluit dis iets wat hy net moet doen om die proses aan die gang te kry.

“Ek het nie geweet wáár om te begin om ’n storie te skryf nie en die kursus het gelyk na die oplossing. Dit het my die basiese van skryfkuns geleer en ek het dit gesien as ’n goeie wegspringblok,” gesels hy entoesiasties oor die eerste tree wat hy geneem het om sy droom te verwesenlik. “Dié kursus het die saadjie by my geplant om verder te wil skryf en skielik het die onmoontlike idee om eendag ’n boek te publiseer meer bereikbaar gelyk. Ek het die basiese geleer en dit was net genoeg om my verder te motiveer om te skryf.”

Buiten daarvoor om ’n skryfkursus te doen, is sy raad vir opkomende skrywers om nie moed op te gee nie en aan te hou skryf totdat hulle eerste boek op die rak is.

Hy het nog baie planne en drome vir die toekoms en glo dat niks onmoontlik is as jy bereid is om hard daarvoor te werk nie.

Geheime op Philadelphia is nou beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land, asook aanlyn by www.graffitiboeke.co.za. Besoek www.lapa.co.za of Amazon om die e-boek aan te skaf.

Meer oor Skryfnet

2024 kan ook die jaar wees waarin jy jou skryfdrome waar maak.

Skryfnet het lekker kursusse en werkswinkels waarna jy in die eerste kwartaal van die jaar kan uitsien:

Bespreek nou jou plek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.