‘Ons eie Kleuterbybel’: Jesus gaan hemel toe

Johann Strauss se illustrasie van Jesus se hemelvaart wat in ‘Ons eie Kleuterbybel’ verskyn. (Illustrasie: Verskaf deur Lux Verbi)

Hier volg die verhaal van Jesus se hemelvaart, soos wat dit in Handelinge 1:1-11 opgeteken is. Die verhaal verskyn in Ons eie Kleuterbybel.

Jesus is die Seun van God. Hy is almagtig. Satan kon Hom nie oorwin nie. Die dood kon Hom nie in die graf hou nie. Hy het uit die graf opgestaan.

Die dissipels was baie bly om Jesus weer te sien. Hy het baie met hulle gepraat. Hy het vir hulle van die liefde van God die Vader vertel.

Op ʼn dag sê Hy vir hulle: “Nou moet Ek na my Vader teruggaan. Maar julle sal nie alleen wees nie. Die Heilige Gees sal in julle kom bly. Hy sal julle leer wat om te sê en wat om te doen. Maar julle moet eers ʼn rukkie in Jerusalem wag. God sal die Heilige Gees na julle toe stuur. Dan moet julle vir die mense vertel Ek is die Verlosser van sonde.”

Nadat Jesus dit gesê het, gaan Hy en sy dissipels na die Olyfberg. Op die berg gaan hulle staan. Jesus kyk vriendelik na sy dissipels en sê: “Dit is nou tyd vir My om hemel toe te gaan.”

Net toe Jesus dit gesê het, kom daar ʼn wolk en Jesus gaan daarin hemel toe. Die dissipels kyk en kyk. Hulle kan Jesus glad nie meer sien nie.

Skielik kom daar twee engele. Hulle sê vir die dissipels: “Waarom staan julle so en kyk? Jesus het na die hemel gegaan. Maar eendag sal Hy weer kom.”

Nou is die dissipels nie meer so hartseer nie. Hulle sê: “Kom ons gaan wag in Jerusalem en bid. Jesus het mos belowe God sal die Heilige Gees stuur. Dan sal ons nie alleen wees nie. Jesus het ook gesê die Heilige Gees sal ons kom troos.”

Toe gaan hulle Jerusalem toe om vir die Heilige Gees te wag.

Gebed

Here Jesus, dankie dat ek met U kan praat en dat U my hoor, al is U in die hemel. Amen.

***

Die verhaal is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Ons eie Kleuterbybel by Graffiti Boeke aan te skaf. Die boek kos R350 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Hoe onsettend trots is ek nou Godsdiens in die media en in Afrikaans. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.