Resensie: Inboekeling: lekkerleesstorie én stof tot nadenke

inboekelingHans du Plessis
So ses jaar nadat families soos die Coetzees en die Oppermans, ná hul trek die binneland in, nesgeskrop het teen ʼn reeks rante in die waai van ʼn rivier, word ʼn inkommer met ʼn riem om die nek op die werf aangesleep.

Japie se onverwagse aankoms op Hier skop ʼn reeks gebeure af in dié geslote gemeenskappie waar daar selde iets buitengewoons gebeur. Dis nou buiten die alledaagse, soos strafekspedisies teen plaaslike stamme wat vee steel en handeldrywing met dié stamme se kinders. Swart ivoor, is dié kinders genoem.

Wanneer ʼn meisie van die gemeenskap aangeval word, is die nuweling die primêre verdagte. Maar wat van Niklaas, die bullebak van die gemeenskap, of Tarentaal, die opstandige inboekeling-slaaf?

Inboekeling speel af teen die agtergrond van ʼn stuk geskiedenis kort ná die Groot Trek waaroor bitter min bekend is. Dié boek is die derde deur Hans du Plessis wat die Groot Trek as agtergrond gebruik. Die pad na Skuilhoek het in 2011 verskyn en speel in 1836 af; As die wind kom draai, wat ʼn paar jaar later die lig gesien het, speel af in 1844. Inboekeling skuif die fokus na die intriges van ʼn gemeenskap wat hulle diep die binneland in gevestig het ná die Groot Trek.

Die ruimte waarteen die verhaal afspeel, word vroeg in die boek reeds in detail geskets. Dit stel die leser in staat om die gebeure wat volg, te plaas teen die ruimte wat enersyds ontvanklik en vrugbaar geskets word, maar andersyds ongenaakbaar en hard. Du Plessis, wat as voormalige dosent in skryfkuns ʼn voorstander is daarvan dat die ruimte ʼn karakter in eie reg is, slaag daarin om met sy beskrywings van ruimte in die verhaal ʼn karakter te skep wat ʼn wesenlike bydrae tot die storie maak. Een so ʼn ruimtelike beskrywing is op bl. 60: Die son dam soos taai sweet op in die oksels van die kliprant; die hitte hang ʼn jakkalsvelkaros oor die skouers van Hier se warm werwe.

Nog sulke kontrasterende temas kom dwarsdeur die boek voor: goed en sleg, liefde en haat, oorlog en vrede word teen mekaar afgespeel. Op bl. 151, nadat ʼn strafekspedisie deur die mans van die gemeenskap skeefloop as gevolg van ʼn donderstorm, skryf die verteller: “Vrede, vermoed ek lankal, is ʼn vreemde ding. Dit is waarvoor ons veg, maar sonder ʼn oorlog is vrede soos droë meel in ʼn keel. Dit sluk nie lekker nie.” (bl. 151.) Universele temas soos hierdie maak dit vir die lesers moontlik om met die verhaal en karakters uit ʼn ander, grootliks onbekende werklikheid te identifiseer.

Die boek se titel, Inboekeling, is enersyds ook so ʼn universele tema, en is andersyds een van die belangrikste simbole in die boek. Hoewel daar “amptelike” inboekelinge soos Tarentaal in die verhaal is, is elke karakter as ‘t ware ʼn inboekeling of slaaf van iéts: van die liefde, van trots, van ʼn patriargale stelsel, van ʼn duister verlede. En die leser begin kort voor lank ondersoek instel na dit waarvan hy sélf ʼn inboekeling is.

Hoewel die verhaal op die oog af lig geskryf is en maklik lees, is die simboliek goed verskuil, en bied dit die leser stof tot nadenke. Die gebruik van plekname soos “Hier” en “Elders”, ʼn van soos “Niemand”, en “Meester” wat die verhaal skryf, bied aan die leser wat meer soek, méér as net ʼn lekkerlees-storie.

Die inslag van ʼn skrywer wat veral vir sy digkuns bekend is, vind neerslag in die poëtiese ritme wat ʼn mens plek-plek verras:

Die reën van laas nag blink soos druppels glas op die gras, die dag breek ʼn geelperske oor die rante oop, en die oggend ruik na seep. (bl. 120.)

Terselfdertyd sorg fyn humor in die skryfwerk dat die leser darem ook nie té diep dink nie, soos toe Engela vir Japie ʼn koekie boerseep leen:

Engela kom tot by Japie, staan langs hom en hou ʼn steentjie boerseep na hom toe uit.

“Onthou wat Pa altyd vir Ma gesê het,” vermaan Maria met ʼn effense glimlag. “Susanna, jy moet oppas, jy gaan nog eendag jou gat so staan en uitleen, en dan moet jy deur jou ribbes skyt.”

“Sies,” sê Engela.

“Dis Pa, nie ek nie.”

“Jy hoef nie alles oor te sê wat jou oorlede pa gesê het nie.” Die weduwee staan op.

Japie Niemand het al klaar koffie gedrink en hy was al terug in die winkel toe skud sy skouers nog van die ingehoue lag agter sy hand.

Hoe sal dit nou lyk as jy deur jou ribbes skyt? (bl. 70)

Inboekeling sal genot verskaf vir die leser wat wil lees vir die lekker, en heelwat stof tot nadenke vir dié wat ʼn tweede en derde keer wil lees.

Inboekeling
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae