Skrywer van Hougaard-boek het nog hoop vir Derick

(Foto: Verskaf)

Derick Hougaard, eens bekend as die Liefling van Loftus, het beslis nie vrede gemaak met die einde van sy rugbyloopbaan nie, sê Brenden Nel, skrywer van ʼn boek oor die eertydse rugbyheld. Die boek, Derick Hougaard: Die ware storie van die Liefling van Loftus, wat sonder Derick se samewerking geskryf is, is reeds ʼn topverkoper.

“ʼn Rugbyloopbaan hou gewoonlik 5 tot 10 jaar. Die ouens mis daarna die roem, die glans, die applous en die skares. ʼn Mens moet dus iets hê om op terug te val,” sê Nel.

Derick het op die bloedjong ouderdom van 19 die Curriebeker vir die Blou Bulle verower en selfs die eindstryd-punterekord van die skopkoning, Naas Botha, verbeter.

Die wêreld was aan sy voete.

Nel skryf daarna het die dobbelstene egter vir hom verkeerd begin val. Harsingskudding, Kamp Staaldraad, beserings, angs en depressie, drank en ʼn allesverterend pilverslawing het hom laat steier.

Sy sprokieshuwelik met die sangeres Karlien van Jaarsveld – hulle is die nuwe Joost en Amor genoem – het op die rotse beland. Sy beroepslewe en geldsake was in ʼn warboel. Karlien het boonop ʼn miskraam gehad en hul babadogtertjie verloor. Derick wou nog altyd ʼn dogtertjie gehad het.

Sy aanhangers was geruk toe hy onlangs in ʼn koma in ʼn staatshospitaal opgeneem is waar hy vir sy lewe moes veg.

In ʼn gesprek met Nel vertel hy dat mense ontsettend lief is vir Derick. Soveel mense wou hom ook met rehabilitasie help.

“Hy is ʼn dierbare mens maar hy het brûe agter hom verbrand, onbetroubaar geword, nie vir afsprake opgedaag nie en sommer net by tye ‘verdwyn’.”

Nel, ʼn gerekende en bekroonde sportjoernalis, loop al ʼn lang pad met Derick.

“Ek ken hom van 2000 af en het altyd ʼn goeie verhouding met hom gehad. Ek het uiteraard kontak met hom verloor toe hy oorsee gegaan het.”

Nel sê toe hy die boek begin skryf het, was hy onseker of hier werklik ʼn boek is, “want die Derick wat ek ken is die baie skaam rugbyseuntjie”.

“Nadat ek ʼn bietjie ondersoek ingestel het, het ek besef hier is beslis ʼn storie wat vertel moet word. Ek het hom een aand gebel nadat Carla Coetzee van Tafelberg my oor die boek genader het. Hy was aanvanklik baie geesdriftig. Altans, dit was die indruk wat ek gekry het.

“Hy het toe gesê dat ek met sy bestuurder, Dean van Coller, moet praat van wie ek later gehoor het dat hy sy lyfwag is. Ek het gedink dis ʼn bietjie eienaardig.”

Toe verdwyn Derick nadat hulle hom meer as ʼn maand lank in die hande probeer kry het. Uiteindelik moes hulle  ʼn besluit maak of die boek moet voortgaan of nie.

“Teen daardie tyd het ek al redelik navorsing gedoen oor die boek en ek en Carla het besluit ons gaan maar voort sonder hom, maar laat die deur oop sodat hy enige tyd kan terugkom en deel van die boek word. Dit was altyd ons hoop.

“Hy het egter gekies om ʼn dokumentêre reeks met Rian van Heerden te doen. Ek respekteer sy besluit.”

Nel sê Derick het hom daarna probeer blok en het ook vir sy familie gesê hulle moenie met hom praat of enige inligting met hom deel nie.

“Karlien en haar familie wou nie regtig betrokke wees nie. Ek respekteer dit ook, want hulle het gesê dit is ʼn hoofstuk wat afgesluit is.”

Oor die feit dat ʼn baie positiewe beeld oor Karlien in die boek geskep is, sê hy, hy het begrip vir haar besluite. “Sy het nooit in die openbaar sleg van Derick gepraat nie en wou steeds gehad het hy moet ʼn heldefiguur vir hul tweelingseuntjies wees. Dit sê baie oor haar.”

Nel vertel dat hy positiewe terugvoer oor die boek van Derick se pelle gekry het. Van hulle het gesê hulle hoop dis ʼn wekroep vir Derick.

Hy sê voorts oor die ontvangs van die boek dat Karlien niks teen die boek in Rapport gesê het nie.

“Mense in rugbygeledere en oud-kollegas is tot dusver ook redelik positief oor die boek. Baie van hulle was ʼn bietjie geskok oor die omvang van Derick se verslawing en hoe diep dit gaan.

“Die enigste negatiewe kommentaar wat ek gekry het, was van Nádine. Sy het ʼn boodskap op my Facebookblad gelos waar sy gesê het Derick was nie betrokke by die boek nie. Sy wou weet hoekom ek hom “getag” het toe die boek geland het.

“Wel dis omdat ek Derick belowe het ek hou hom op hoogte van die boek. Nádine was nie ten gunste van die boek nie. Derick se ma was ietwat ontsteld, maar sy was nie aggressief nie. Sy het dit net benadruk dat hulle nie met my gepraat het nie.

“Wat oorweldigend was vir mense wat die boek gelees het, was dat hulle nooit geweet het dit gaan so sleg met hom nie.”

Dan is daar die “slagoffermentaliteit” wat deur sy vriende en spanmaats genoem is. Mense wat hom probeer help het.

“Hy hou nie daarvan dat hulle hom konfronteer nie. Baie keer neem hy nie verantwoordelikheid vir sy eie optrede nie. Ek het self ʼn wipplank van emosies beleef toe ek die boek geskryf het, want Derick is ʼn baie gawe mens. As jy hom ontmoet – hy is ʼn dierbare persoon.

“Ek het regtig ʼn baie sagte plekkie vir hom. Met hom wissel jou emosies van simpatie tot irritasie oor die besluite wat hy geneem het wat hom weer ʼn terugslag gegee het.”

Nel skryf in die boek dat Derick tot tien pynpille en vyf slaappille op ʼn keer sou neem.

Hy was al ʼn hele paar keer in rehabilitasiesentrums maar val dan daarna weer in ʼn gat. Dis ongelukkig ʼn siklus wat homself herhaal.

Brenden Nel, skrywer van ʼn boek oor die eertydse rugbyheld (Foto: Verskaf)

Nel benadruk dit weer: “Die meeste mense met wie ek onderhoude vir die boek gevoer het, is ongelooflik lief vir Derick. Hulle het baie tyd vir hom en wou hom help, maar baie het die punt bereik waar hulle tou op gegooi het. Baie van sy spanmaats het al herhaaldelik probeer help, maar sonder sukses. Talle het gesê hulle sal oor rugby praat maar nie oor sy persoonlike lewe nie.

“Die feit dat nie een rugbyspeler by die hospitaal opgedaag het toe hy onlangs in ʼn koma opgeneem is nie, het vir my baie gesê. Dit was vir my baie sleg want die rugbygemeenskap – ʼn mens kan dit met Hannes Strydom se onlangse dood sien – staan bymekaar.”

Die enigste ou wat opgedaag het, was die omstrede diamantsmous Louis Liebenberg. Toegegee, Derick was in die waakeenheid wat besoeke beperk het.

Oor hoe Derick in die boek uitgebeeld word, hoop Nel dat hy ʼn regverdige weergawe gegee het.

Nel is baie uitgesproke oor die berugte Kamp Staaldraad waaraan die spelers destyds blootgestel is.

Kamp Staaldraad word in grusame besonderhede in die boek beskryf. Dit was veronderstel om ʼn soort militêre kamp te wees. Hulle moes byvoorbeeld poedelnakend in die middel van ʼn bos staan “want dan val al jou voorwendsels weg”. Die filosofie was “breek hulle af en bou hulle weer op.” Vernederend meen hy.

“Dit was malligheid dat die spelers ʼn paar weke voor die Wêreldbeker so behandel is. Almal was bang dat hulle nie Wêreldbeker toe sou gaan as hulle nie deelneem nie. Ek dink sielkundig het dit Derick werklik geknak. Dit het ook net die probleme wat hy reeds gehad het, vererger. Ek dink nie hy was ooit regtig daarna die selfversekerde speler van ouds nie.”

Nel meen Hougaard het egter op die oomblik ietwat van ʼn reputasie as iemand wat nie die werk kan deursien nie.

“Hy sal daardie reputasie moet herbou. Ek glo dat hy steeds ʼn held vir mense is en dat hy steeds ʼn rol het om te vertolk. Ook om ʼn goeie pa vir sy kinders wees.

“As hy kan opstaan en sy eie probleme oorwin, kan hy eintlik ʼn getuienis vir ander mense wees. Baie mense sukkel met verslawing. As hy met sy naam ʼn bietjie hoop vir ander mense kan gee, kan hy ʼn groot rol vertolk.

“Ek dink egter die groot probleem is dat hy gewoond is daaraan om bo te wees, maar hy sal weer onder moet begin.”

Nel sê sy hoop is dat Derick weer beheer oor sy lewe kan kry en vir ander iets kan beteken.

Al het Derick vir hom oor die boek gesê: “Jy grawe diep, my vriend”. En al het Derick hom daarvan beskuldig dat hy hom “onder die bus gegooi het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ore ·

Ek het die reeks oor Derick gevolg. Die samelewing is wreed. Negatiewe kommentaar was natuurlik eie aan ons afrikaners. Ek het net besef in watter donkerte hy weggesak het. Indien jyself nog nie depressie ervaar het nie, kan niemand met jou omstandighede vereenselwig nie. Ek kry hom bitter jammer en daarmee saam wil ek Rian van Heerden ‘n klop op die skouer gee. Hy het voorwaar hierdie jong man probeer help waar hy kon. Sterkte Derick.

Augusto ·

Ek dink die die druk van roem en sukses in enige veld is n’ bietjie moelik om te dra.
Dit gebeur met baie atlete uit versikillende dissipliness. Hulle moet sielkundig beskerm word om hierdie uitdaging te bied

Elmarie ·

In my opinie is dit gemeen wat die uitgewers en skrywer van die boek gedoen het. Om voort te gaan om ñ boek uit te gee sonder toestemming van Derick, dit kan nie aanvaarbaar wees nie. Gaan als net oor geld vir hulle ten koste van iemand wat reeds soveel deurgemaak het? Ek het die dokumentêre reeks op TV gevolg.

kragaap ·

Dalk moet hy sy jammer jannie houding laat staan en die pilletjies en voggies los, begin werk en ‘n bydrae maak tot die samelewing. Die slagoffer mentaliteit van die TV reeks was om van naar te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.