Student vier mondigwording met bekendes se wyshede

Thembalethu Seyisi (Foto: Verskaf)

Thembalethu Seyisi, ʼn derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het verskeie redes gehad om op 2 Desember fees te vier. Buiten dat hy op dié dag 21 geword het, het Seyisi ook uitgevind dat hy al sy eksamens geslaag het én hy het die eerste eksemplaar van sy boek 21 Life Lessons @ 21 ontvang.

Seyisi het egter nie ʼn groot partytjie gehou nie. Hy het vroeër vanjaar reeds besluit om ter viering van sy mondigwording eerder terug te ploeg in die gemeenskap.

“Ek het besef ná die moeilike jaar wat ons almal weens die Covid-19-pandemie beleef het, sou ʼn gewone verjaardagpartytjie nie deug nie,” sê Seyisi.

Daarom het hy sowat vier maande gelede begin dink aan meer kreatiewe en sinvolle maniere om dit te vier. Seyisi het eindelik daarop besluit om ʼn boek met lewenslesse saam te stel wat jong mense sal inspireer en bemagtig.

“Ek was die afgelope paar jaar baie bevoorreg om soveel te baat by wonderlike rolmodelle in my lewe. Ek is innig dankbaar vir die unieke geleenthede wat ek gekry het, soos die beurs van die Stella-stigting wat my in staat stel om regte by Maties te studeer. Ek wil hê ander jong mense moet ook deel in die omgee, liefde en inspirasie wat ek self ervaar het,” verduidelik Seyisi.

Hy het toe 21 suksesvolle mense genader, sommige bekende rolmodelle asook persoonlike helde en gesinslede, om ʼn les of insig te deel wat hulle wens hulle op 21 geweet het.

Die eindresultaat is ʼn wonderlike versameling stories deur inspirerende Suid-Afrikaners soos regter Edwin Cameron, prof. Thuli Madonsela, Sello Hatang, Sandra Prinsloo, prof. Kgethi Phakeng, Khaya Sithole en Zelda la Grange.

Die medewerkers van Thembalethu Seyisi se boek ’21 Life Lessons @ 21′ (Foto: Verskaf)

“Ek hoop die pêrels van wysheid in 21 Life Lessons @ 21 sal elke jong mens wat dit lees, inspireer om struikelblokke te oorkom en te besef dat dit moontlik is om uit te styg bo terugslae en armoede,” sê Seyisi.

Die wins uit verkope sal aan drie inisiatiewe wat Seyisi na aan die hart lê, geskenk word. Sy eerste prioriteit is om ʼn skoolvriendin, Natasha Chigamba, te help. Chigamba het pas as mondhigiënis aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gekwalifiseer, maar sy het nog heelwat studieskuld wat betaal moet word.

Seyisi wil ook ander studente wat met soortgelyke probleme worstel help. Daarom het hy besluit om ʼn deel van die wins aan die #Action4Inclusion-inisiatief te skenk. Dit is ʼn geldinsamelingsprojek wat deur die Universiteit Stellenbosch se studenteraad en prof. Thuli Madonsela bestuur word. Madonsela beklee tans die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid aan die Regsfakulteit van die US. #Action4Inclusion poog om akademiese inklusiwiteit te bevorder en verdienstelike studente te help om hul studieskuld te vereffen.

Themba het ook besluit om ʼn bedrag te skenk aan die #ALSgaanOKwees-fonds. Dit is ʼn liefdadigheidsprojek ten bate van Hannelie Booyens, ʼn voormalige Huisgenoot-joernalis by wie motorneuronsiekte in 2019 gediagnoseer is. Met dié inisiatief samel Booyens se vriende vir haar geld in om toerusting te koop soos ʼn elektriese rolstoel en kommunikasietoerusting vir wanneer sy nie meer onafhanklik kan lewe of praat nie.

Themba glo 21 Life Lessons @ 21 sal inspirasie bied vir jonk en oud. “Die boek se stories van hoop en deursettingsvermoë is die perfekte geskenk vir vriende en familie om 2021 op ʼn positiewe noot aan te pak.”

21 Life Lessons @ 21 kos R250 (Prys onderworpe aan verandering) en is aanlyn beskikbaar by www.21lifelessons.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.