‘The Promise’ stem tot nadenke

Jane de Wet en Rob van Vuuren in die teaterverwerking van ‘The Promise’. (Foto: Verskaf)

ʼn Aangrypende teateraanbieding van Damon Galgut se roman The Promise wat in 2021 met die gesogte Booker-prys bekroon is, het die afgelope week in die Markteater in Johannesburg geopen.

The Promise gaan oor ʼn wit gesin, die Swarts, wat op ʼn stuk grond buite Pretoria woon.

Die verhaal draai om ʼn vrou en ma se wens op haar sterfbed – in die 1980’s – teenoor haar man, die patriarg van die Swart-gesin, dat ʼn gedeelte van die grond, met ʼn klein huisie daarop, aan Salome, die Sotho-vrou wat haar hele lewe lank vir die gesin werk, gegee word.

Die storie strek oor etlike dekades, verby die oorgangsjare rondom 1994 en vroeg die 2000’s in, en steeds is die ma se wens nie vervul nie. Amor, die jongste van die drie Swart-kinders, was die enigste ooggetuie van haar ma en pa se mondelinge ooreenkoms. Die feit dat sy die oomblik onthou en haar gesin voortdurend aan die belofte herinner, lei tot die ontrafeling van gebeure.

Die teaterverwerking van Damon Galgut se ‘The Promise’ wys tans by die Markteater in Johannesburg. (Foto: Claude Barnardo)

Of jy nou die boek vooraf gelees het of nie (soos ek), Galgut en Sylvaine Strike – wat ook die regisseur is – se teksverwerking sorg vir ʼn teaterproduksie wat ʼn mens vir twee uur en veertig minute aan die lippe van sommige van ons land se voorste akteurs hou.

Ek het my voorberei op ʼn stuk wat swaar en wroegend gaan wees, maar dit was onnodig.

Dit was wel aanvanklik effens oorweldigend om kop te hou met die sprong tussen verskillende tonele, ruimtes en die karakters se onderskeie storielyne. Dit is egter nie moeilik om, selfs as iemand wat nie bekend is met die storie nie, die verhaal te volg nie.

Frank Opperman in die teaterverwerking van ‘The Promise’. (Foto: Claude Barnardo)

Die rolverdeling bestaan uit Rob van Vuuren as Anton, Kate Normington in die rolle van Ma en Maman, Frank Opperman in die rolle van Pa, Rabbi en Moti, Chuma Sopotela as Salome, Cintaine Schutte in die rolle van Tannie Marina en Desiree, Jenny Stead as Astrid, Albert Pretorius in die rolle van Dominee Simms, Ockie, Dean, Jake en Pa Batty, Sanda Shandu in die rolle van Lukas, Bob en Politikus, en Jane de Wet as Amor.

Charl-Johan Lingenfelder is verantwoordelik vir die klankontwerp en oorspronklike musiekkomposisie, Josh Lindberg vir stel- en beligtingsontwerp, Penny Simpson vir kostuumontwerp en Natalie Fischer vir die choreografie.

Die verhaal word op ʼn besondere kreatiewe wyse visueel op die verhoog aangebied.

Die stel bestaan uit ʼn houtplatform met ʼn verskeidenheid hellings, hoeke en funksionele dele. Met die eerste oogopslag lyk dit soos die dek van ʼn skip, maar mettertyd ontsluit dit visueel ʼn verskeidenheid ruimtes in die verhaal. Soms is dit ʼn koppie waarop Amor sit en vanuit die hoogte doer onder na die plaashuis tuur, ander kere is dit weer die binnekant van ʼn slaapkamer waar Anton en Desiree se huwelik besig is om te kantel. Dit word ook die Swarts se eetkamer en ʼn inkopiesentrum waar Astrid haar kooplus probeer bevredig.

Albert Pretorius en Jane de Wet in die teaterverwerking van ‘The Promise’. (Foto: Claude Barnardo)

Dit dra daartoe by dat die stel as’t ware ʼn lewe van sy eie kry en een van die karakters in die storie word wat ook bepaalde eise aan akteurs stel en waarop hulle moet reageer.

The Promise is ʼn teaterervaring wat ʼn mens opnuut aan die kuns van teater herinner. Aan die absolute vernuf wat dit van ʼn akteur verg om nie net emosioneel by ʼn storie betrokke te raak nie, maar ook om aan die fisieke eise wat karakters aan hulle stel te voldoen.

The Promise is tot 5 November in die Markteater se John Kani-verhoog in Johannesburg te sien. Kaartjies kos R120 tot R300 en kan by Webtickets bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Hoop dit kom na teaters in Pretoria, ons oues gaan nie graag saans na Egoli toe nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.