Boetie gaan (Afrikaanse) fliek toe

hollywood-in-my-huis-posterAfrikaanse films het selfs vóór die amptelike erkenning van Afrikaans al verskyn, en beeld die taal se ontwikkeling en uitdagings uit. Die eerste Afrikaanse rolprent is die stilrolprent De Voortrekkers wat in 1916 verfilm is, terwyl Sarie Marais en Moedertjie (1931) die eerste vollengte Afrikaanse rolprente was. In die 20’s, 30’s en 40’s was Afrikaanse rolprente maar skraps – dis te verstane, in ag genome gebeure in die plaaslike en internasionale geskiedenis in dié tyd. Die enkele films uit dié era handel dan ook grootliks oor die Afrikaner se sosio-ekonomiese uitdagings. In 1946 stel Pierre de Wet, wat later as die vader van die Suid-Afrikaanse filmbedryf beskou sou word, sy eerste rolprent genaamd Geboortegrond vry. Verskeie rolprente deur De Wet volg hierop. Die eerste Afrikaanse musiekblyspel Kom saam, vanaand is in 1949 uitgereik en was De Wet se grootste treffer.

In die 50’s volg ’n paar rolprente wat die ouer garde nog met groot nostalgie in herinnering kan roep: films soos Daar doer in die Bosveld (1951; SA se eerste kleurfilm, en regisseur Jamie Uys se debuutrolprent), Daar doer in die stad (1954; Jamie Uys), Vadertjie Langbeen (1955; Pierre de Wet) en Rip van Wyk (1960; Jamie Uys).

In die 60’s en 70’s ontgroei die Afrikaanse rolprentbedryf sy kinderskoene, en ’n lang rits films sien die lig. Bekendes uit dié twee dekades was Doodkry is min, Die professor en die prikkelpop, Die kandidaat, Die geheim van Nantes, Die wildtemmer, Snip en rissiepit, Siener in die suburbs, Tant Ralie se losieshuis en ʼn Seder val in Waterkloof.

In die 80’s en 90’s, te midde van politieke onstuimigheid in die land, is die Afrikaanse rolprentbedryf maar stil. Heelwat lawwe komedies word vervaardig en films soos Kiepie en Kandas en Boetie gaan border toe is vandag nog bekend onder Afrikaanse rolprentgeesdriftiges. ’n Paar uitstekende Afrikaanse rolprente soos Die storie van Klara Viljee, Fiela se kind en Paljas word ook in dié tyd vervaardig.

In die eerste paar jaar van die 21ste eeu is die Afrikaanse rolprentbedryf ook stil, met hoofsaaklik komedies wat die lig sien. Eers in 2011 laat Paul Eilers Afrikaanse fliekvlooie weer regop sit met die aangrypende drama Roepman. In 2012 volg ’n uiteenlopende verskeidenheid films soos die spookasem-musiekblyspel Pretville, die spanningsdrama Wolwedans in die skemer en die roerende Die Wonderwerker, wat handel oor die skrywer Eugène Marais. Hierna is dit asof daar geen keer is aan die Afrikaanse filmbedryf nie, en in 2013/2014 word daar geëksperimenteer met allerlei genres en nuwighede – sommige suksesvol, ander minder suksesvol. Films soos Semi-soet, Stuur groete aan Mannetjies Roux, Die spook van Uniondale, Verraaiers, Die laaste tango, Klein Karoo, Knysna, Leading Lady, Suurlemoen, Lien se lankstaanskoene, Pad na jou hart, Faan se trein, Liefling, en As jy sing laat Afrikaanssprekendes weer teaters toe stroom, soveel so dat hulle selfs kieskeurig raak oor watter Afrikaanse flieks hul ondersteuning verdien.

Sover in 2015 het ’n hele paar Afrikaanse rolprente reeds gedraai, en nog ʼn lang rits word tans vervaardig. Die mees omstrede film van die jaar is waarskynlik Treurgrond, met plaasmoorde as tema. Sink, Dis ek, Anna en Seun is meer eksperimentele dramarolprente wat op ’n ernstiger fliekmark gerig is, terwyl films soos French Toast, Mooirivier en Hollywood in my huis vir heerlike vermaak sorg. Die groot Afrikaanse film van die jaar, wat ʼn baie hoë standaard stel vir die res van die Afrikaanse filmbedryf, is egter Ballade vir ’n enkeling, geskryf deur Leon van Nierop en geregisseer deur Quentin Krog.

Kom Fliekpiekniek saam! Maroela Media hou in September vanjaar ’n Afrikaanse fliekpiekniek, waar fliekvlooie by ’n buitelugpiekniek na uitgesoekte Afrikaanse films kan kyk. Hou Maroela Media se webwerf dop by maroelamedia.co.za om betyds jou kaartjies te koop!

  • Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Pretoria FM se Vasbyt-tydskrif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

marie ·

Dis goed en wel om afrikaanse flieks te maak, ek stem saam dit is nodig, maar is dit goed vir die om die fliekse as gesin te kyk omdat daar soveel gevloekery gedurende dit fliek is, ons het vreeslik uitgesien om die nuwe Ballade vir n Enkeling te kyk, ons het die vorige reeks gevolg en dit baie geniet, maar wat n teleurstelling, daar is soveel kere gevloek en dan ook die gedeelte waar hulle op die dak gesit het in hul onderklere, ek dink Leon kon definitief beter smaak aan die dag gele het, dit laat ons afrikaanse flieks maar baie swak vertoon. Ons het naderhand opgestaan en uitgestap want dit was nou glad nie lekker om te kyk hoe hulle ons taal bespotlik maak nie, Leon probeer om die oorsese flieke na te maak deur onsmaaklikhede in die flieks in te skryf. Leon dit wys dat jy baie swak smaak aan die dag le en geen respek vir ons Afrikaners het nie.

Elzeth Neethling ·

Die fliekpiekniek klink na ‘n uitstekende idee. Ek hoop daar gaan ook ‘n fliekpiekniek in Amanzimtoti – area gehou word. Laat weet asb wat is die reëlings.

Piet Pompies ·

Ons gesin is mal Afrikaans, of is dit nou Afrikaans mal, ons geniet die taal en kultuur en so ook die vlaag nuwe afrikaanse flieks, die wat in ons smaak val hou ons baie van, die ander is net so lekker om na te kyk. Goeie akteurs, nuwe akteurs en die waaghalsigheid, beeld kwaliteit en rolspel is goed, ons hoef nie vir buiteland terug te staan. Gaan so voort….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.