Die WAT vier T – maar dis nog lank nie tatta nie

V.l.n.r. Naomi Bruwer, Alet Cloete, Phillip Louw en André du Plessis tydens die gesprek by die Woordfees in Stellenbosch (Foto: Maroela Media)

Sedert die eerste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal in Mei 1951 verskyn het, is daar steeds geen keer aan dié span wat poog om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang te dokumenteer nie.

Die span het pas die letter T afgehandel en dié letter het slegs aanlyn verskyn.

Die WAT se mikpunt is om in 2028 klaar te wees met deel Z, maar dit is nog lank nie die einde van dié leksikografiese produk nie.

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, Alet Cloete, senior mederedakteur en André du Plessis, mederedakteur, het Donderdag by die Woordfees in Stellenbosch met Naomi Bruwer, ook ʼn mederedakteur, gesels oor watter die toekoms inhou vir dié yslike werkstuk.

Louw sê dit is bemoedigend hoe die taalgemeenskap eienaarskap geneem het van die WAT en die sukses van die onderneming toegeskryf aan die aanpasbaarheid van dinamiese personeel.

Die besluit om voortaan die nuwe dele slegs aanlyn te publiseer, was ʼn netelige besluit in ʼn digitale wêreld, verduidelik Du Plessis. Hy sê dit is nie net die drukkoste wat die WAT in ag moes neem nie, maar ook die menslikehulpbronnekapasiteit wat dit verg, die uitleg, die set van die boek en die lees van die proewe voor dit uiteindelik gedruk kan word. “In dié tyd staan vordering stil.”

Du Plessis beskryf dit nie as ʼn woordeboek nie, maar eerder as ʼn leksikografiese produk wat deurlopend besig is om te verander.

Deur die uitgawes slegs aanlyn uit te gee, sluit die WAT aan by sy eweknieë soos die Oxford English Dictionary wat reeds sedert sy derde weergawe slegs aanlyn beskikbaar is.

“Dit was die regte besluit, alhoewel dit nie ʼn lekker of maklike besluit was nie,” voeg Du Plessis by. “Soos ons weet is ʼn gedrukte boek reeds oud sodra hy verskyn. Met ʼn aanlyn weergawe kan die leksikografiese produk maklik bygewerk word. Dit vergemaklik ook soektogte vir die gebruiker, en dit maak datasifting baie maklik. Indien ons terugvoer kry van gebruikers, kan ons ook dadelik aanpassings maak.”

Volgens Cloete is 14 885 afsonderlike beskrywings aangeteken vir die letter T; altesaam 30 664 semantiese definisies met gebruikervoorbeelde (met behulp van aanhalings uit ander bronne) en 1 102 vaste uitdrukkings.

Cloete sê woorde soos taf (“tough”), têkkel (“tackle), tender (vir moeilikheid), toetentaal (geheel en al) en tjok-en-blok (volgepak) is ook in T aangeteken. “Dit is interessant dat die ‘blok’ uit ‘tjok-en-blok’ bekom is van die blok wat voor ʼn vliegtuig se wiel geplaas word om seker te maak dit kan nie beweeg nie – dit verwys dus na iets wat propvol of dig opmekaar is.”

Geselstaalwoorde sluit in tabernakel (sitvlak), telegraafpaal (iemand wat baie lank is), tollenaar (belastinginvorderaar), trappers (voete), troon (toilet) en tropsluiter (laatlammetjie).

Dan is daar ook die deftige woorde soos tabberd (rok vir spesiale geleenthede) en telg (kind). Daar is ook woorde soos tiekiewawiel (vir ʼn penny-farthing waar “tiekie” na die klein wieletjie agteraan die fiets verwys wat soos ʼn klein muntstuk lyk) en leenwoorde soos tjaila (ophou met werk uit Xhosa of Zulu) en Teriyake, ʼn Japannese dis van vis of vleis wat in sojasous gaargemaak is.

Cloete geniet ook uitdrukkings soos “trane bymekaar maak” (iemand wat hom self bejammer), “iemand se tabak is te sterk” (iemand is dronk), “ta’ Dorie skud haar rokkie” (die wind waai sterk), “in tinktinkie se kerk getroud” (paartjie wat saambly sonder dat hulle wettiglik in die eg verbind is) of “iemand se (garing)tolletjie is afgerol” (iemand het sy invloed verloor of is oorlede).

“Nuwe” woorde wat ingesluit is, is onder andere tegnofoob (iemand met ʼn irrasionele vrees vir tegnologie), tuisknoppie (die knoppie waarop jy klik om na die tuisblad van ʼn webwerf terug te keer) en twiet/twiete (vir plasings op Twitter). Sedert Elon Musk egter dié platform se naam in 2023 na X verander het, sal die aanlyn WAT maklik bygewerk kan word indien daar nie meer na ʼn plasing op X as ʼn twiet verwys word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.