Die wysheid tref oom Sopie

ou-hande-drankie

Foto: Pinterest.com

Ludwig Visser

“Tja, dat die wysgeit ’n mens nou so op hierdie laat dae van jou lewe moet kom staan en tref.”

Toe oom Sopie so met ’n sug en ’n lang slurwe aan sy vieruur-koffie hierdie woorde net so in die lug los, het ons ander daar in die skaduwee op die voorstoep geweet: Nou het dit stilbly-tyd geword. Oom Sopie het ’n ding op die hart.

En as oom Sopie ’n ding op die hart het, is dit gewoonlik ’n gewigtige ding, want hy is nie sommer ’n van-hier-rond-oom nie, hy is ’n man wat diep dinge loop en dink. Mens moenie hom te vlak takseer net omdat sy bynaam Sopie is nie. Hy is nie daardie soort mens nie, nie eens ’n sopie-mens nie; hy is sommer ’n tweevingerdop-mens, maar dan ’n tweevinger-dop van wysheid en diepsinnigheid.

Die naam Sopie het niks te doen met sy drinkgewoontes nie, dit kom buitendien uit sy kinderdae, van die eerste keer toe hy toegelaat is om saam met sy ouers nagmaal toe te gaan. Hy het nooit geweet wat nagmaal alles behels nie, maar toe hy sien hier word nou glasies wyn uitgedeel, so word daar vertel, het hy so aan sy pa gepomp en hard genoeg gefluister sodat die hele gemeente dit kon hoor: “Pa, moet ’n mens nou hier ’n sopie drink?”

Van toe af was hy Sopie en Sopie sal hy doodgaan. Tewens, min van ons weet selfs wat oom Sopie se doopnaam is.

“Tja,” laat oom Sopie weer hoor nadat hy weer die koffie so bietjie skrikgemaak het, “mens hoor ook van al dié goeters en jy lees in die koerant daarvan en jy hoor dit oor die draadloos, maar dis eers wanneer jy die ding vir jouself staan en kleinmaak het dat jy hom mooi verstaan.”

Dis nogal waar, kon ons ander beaam. Want hier in die Boesmanland, waar die wêreld nog baie woes en leeg en droog is, kry ons nie alte dikwels mense wat goed vir jou kom staan en verduidelik nie. Hier moet ’n man sélf jou dinke dink, want niemand anders gaan dit vír jou kom doen nie.

Hier het duidelik ’n groot verstaan van iéts in oom Sopie se lewe gebeur, en ons ander het so stilweg onder mekaar besluit dat ons nou nie die hoor van hierdie groot wysgeit wil loop staan en verongeluk met ’n pratery nie. As ons wil weet wat laat dit is, moet ons net doodstil sit en luister.

Oom Sopie sal hom maar só met ’n draai loop haal, só asof hy ’n weerbarstige hamel moet gaan voorhardloop om hom weer by die trop aanjaag-skaap te kry. Só ken ons maar sulke wegholgedagtes. Dis duidelik dat oom Sopie hierdie een in sy eie tyd ingehol het en ons ander wat sit en luister, gaan die voordeel daarvan hê dat ons ook die wysgeit sal kan deel sónder dat ons die holwerk self hoef te gedoen het.

“Julle het mos seker ook al gehoor van die ge-inflasie voor en ge-inflasie agter waarvan die mense gedurig praat. Dis mos ál wat ’n mens heeldag hoor. Maar dis nou een ding wat ek nooit kan geverstaan het nie, want hy het my nooit hier op my eie werf kom pla nie.”

Toe het die weghol-hamel skielik vir ons ander daar op die stoep begin lyf kry, na skaap begin lyk, maar ons kon nog nie mooi sien watter sóórt skaap hy dan nou is nie.

“Dis van ve-môre tot ve-naand dat jy net hoor van inflasie dié en inflasie daai, maar presies wat dié dooi ding nou eintlik is, het niemand my nog ooit kon sê nie. Dié of dáárdie is dan bygesleep, kamtig om te verduidelik wat dan nou die inflasie veroorsaak het, maar dit het my net verder gekonfoes. Selfs die prys van pêtril en diesel is bygesleep.”

Ons ander het voor ons geestesoog gesien hoe oom Sopie moes gesukkel het om daai weghol-hamel voorgekeer te kry, want ons kon nie mooi vooruitsien waarheen die oompie mik nie. Maar gekeer het hy hom duidelik gekeer, want het hy dan nie heel in die begin gesê die wysgeit het hom getref nie?

“Dié storie oor die pêtril en die diesel wat dan nou so duur word, het ek ook nie mooi geverstaan nie,” swenk oom Sopie so half op ’n syspoor weg, net om bietjie te verduidelik as ons dalk nie so lekker bygehou het nie. “Vir my het dit nog nooit saak gemaak, al het hulle ook gepraat van allerhande stygings. Ek het nog steeds op die dorp by die keraats stilgehou en dan het Martiens se jongetjie vir my kom ingooi. En as ek hom gesê het ek wil tien rand s’n hê, het hy vir my tien rand s’n ingegooi, en as ek twintig rand s’n gevra het, het hy twintig rand s’n ingegooi. Op waffer manier dit dan nou inflasie aangejaag het, het ek nie mooi geverstaan nie.”

Hy het weer so bietjie stilgeraak, seker net sodat ons ander die diepte van sy woorde kon snap. Só, sonder dat ons dit onder mekaar bespreek het, het ons maar besluit om niks hierop te sê nie, want netnou kom ons nie by oom Sopie se nuwe wysgeit uit nie.

“Maar nou die dag, so drie weke gelede,” gaan die oom voort, “het die wysgeit my mos so half  bekruip, ka’ jy maar sê. Ek en die tante ry mos toe Pofadder toe, vroe’môre al. So ’n goeie ent van die huis af, voel ek dis nou tyd om bietjie ontslae te raak van daai vroe’môre-koffie. Julle weet mos, ná daardie hartkastyding van my, moet ek mos elke oggend so ’n ou wit pilletjie drink wat ’n mansmens baie meer as gewoonlik ’n ou stil staanplekkie laat opsoek.”

Weer so ’n stiltetjie, asof hy wil hê ons ander moet net die gewigtigheid van die oomblik by ons sigselwers laat insink. Oom Sopie se hartkastyding was ’n wafferse gedoente, die hele Boesmanland het gehoor toe hy so ’n jaar of wat gelede haastig hier moes weg Kaap toe vir ’n hartomleiding. Glo die vet skaapvleis se skuld. Dié woord was bietjie lank en omslagtig vir oom Sopie, en met die terugkomslag het hy haarfyn kom vertel van die hartkastyding wat hy in die Kaap ondergaan het.

“Ewen’twil, ek soek toe so ’n ou stilhouplekkie om vir Klein Sopie die groot wêreld te gaan wys, want ’n mens doen sulke dinge mos nou nie ten aanskoue van die hele Boesmanland nie. Ek sien toe so ’n lekker staanplekkie onderkant ’n walletjie waar die pad so effens opgebou is, en ek gaan staan my staan. Toe ek klaar is, beur ek weer teen die walletjie uit pad toe. Ek sê vir julle, net daar besluit die klomp los kaiingklippe wat nog daar langs die pad lê hulle begin rol hier onder my velskoene, en ek slaan rûens agteroor teen die wal neer en gly nog so ’n ent verder.

“Ek sê julle, ek val my self disnis daar teen die klippe, skoon deurmekruis, en hier langs my op die klippe, toe ek weer my oë oopmaak, is dit net bloed waar jy kyk.”

Ons luister met verskuldigde eerbied, want ons het reeds gehoor dat oom Sopie so ’n ongelukkigheidjie gehad het, maar ons het nog nie al die besonderhede uit die arme slagoffer se eie mond gehoor nie. Hier is nou ons kans.

Oom Sopie laat ons eers weer ’n rukkie wag voor hy verder vertel, seker om die dramatiese trefslag van die oomblik by ons te laat insink.

Toe ek uiteindelik by die bakkietjie kom, is ek besmeer van de bloed, ek het drie gate in my kop en die tante skrik haar spierwit. Maar, om nou ’n lang storie kort te maak, ek is dokter toe en dié dag toe die oompie se breintjie het dalk in die slag gebly, daar moet nou plate gevat word. Verder hospitaal toe, ’n ander dokter toe, en die plate is gevat, en uiteindelik besluit hulle die ou breintjie is net bietjie losgeklits, ek moet net gaan rus, dan sal hy ook weer sy lêplek kry.”

Dit moet ’n groot val gewees het, besluit ons ander in die stilligheid, want ’n val wat iets in daardie Boesmanlandse kop wil losklits, sal ’n meneer van ’n val moet gewees het.

“Nou,’n week lank gaan dit so dronkerig deur die lewe,” gaan oom Sopie voort, “byna soos ’n  plaasjong waar die dopstelsel nog geld. En dit raak al hoe erger, die narigheid en die dronkerigheid in die kop en die lyfseer.”

Dis nou al ’n baie wye draai weg van daardie wysgeit wat oom Sopie heel in die begin genoem het, en nog verder van inflasie af, of ten minste, so het dit gelyk, maar ons ander byt vas, want iewers vorentoe sal oom Sopie nog daardie weghol-hamel voorkeer.

“Terug dokter toe, dié keer Kaap toe, want sê nou daar is iewers in die harspan ’n bietjie bloeding ná die vallery, dan moet daar mos nou werk van gemaak word. Hulle kan dit glo aftap soos wat ek gereeld my ou Lister se olietjies bietjie aftap net om seker te maak dat ons elke aand lig op die plaas sal hê. En daar trek ons toe Kaap toe. Maar dis als puur verniet. G’n stuk bloeding wat hulle met hulle se mesiene kan sien nie, dis net ’n knou wat ek met die vallery in die oor gekry het wat die dronk geneuk in die kop veroorsaak, ek kan maar huis toe gaan. Net rustig bly, nie gaan skaap aanjaag nie, nie teen ’n windpomp uitklouter nie, nie met die bakkietjie ry nie, dan sal alles weer  regkom.”

Nóú moet hy seker terug agter daardie hamel aan, het ons begin dink. Hier moet nou ’n draai kom, maak nie saak waffer kant toe nie, na die wysgeit se kant toe of na die inflasie se kant toe, maar iewers moet hy nou die kloutjie by die oor bring.

“So agt dae later begin die rekeninge toe kom,” gaan oom Sopie voort. “Vyfhonderd rand vir dié, seshonderd rand vir daai, duisend rand vir die eerste klomp plate, veertienhonderd rand vir die tweede klomp.

“En dis toe ek agterna hier onder by Floors se pomp die dag staan en pomp werk dat ek skielik so ’n wysgeit kry. Skielik het ek verstaan wat dié inflasie is waarvan ons al so baie gehoor en gelees het en waarvan ek g’n snars verstaan het nie.”

Weer ’n stiltetjie. Weer ’n koffietjie. Oom Sopie gaan nou-nou daardie weghol-hamel aan die agterbeen beetkry.

“Ek het dié dag onthou dat ’n mens jongtyd se dae as jy op die dorp iewers tussen mense was, ’n pennie moes betaal om ’n draai ta kan loop as die nood druk. Hier skielik moet ek nou ’n paar duisend rand  betaal  omdat ek ook net presies ’n draai wou gaan loop. Toe het die wysgeit my getref en tóé het ek geweet wat inflasie is. ’n  Ding wat vroeër se dae ’n pennie gekos het, dieselle ding kos jou nou al ’n paar duisend rand. Dieselle ding, sê ek julle.”

En skielik was oom Sopie se weghol-hamel terug by die aanjaagtrop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Cornelia ·

Lekker humoristiese storie.! Kan gerus meer van die vir ons lesers gee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.