Gedig: Aanbrandsel

Argieffoto

Argieffoto

George Weideman (1947 – 2008)

Met die ouerword meet jy jouself
soms aan ʼn voorsaat: jy wil weet
oor Grootjie met sy Kaspaasbaard:
Hoe het hy gesoen? Hoe’t hy pap geëet?

Ouma Baai is bokke toe terwyl
die sterre nog suikerblink
in die hemelkom lê. Oor haar
boermeelpap kom bokmelk en heuning.

Ma het, sekerlik onwys, klonte
vet of kaiings by ons pap geroer;
self het sy die aanbrandsel –
donker en bitter soos koffiemoer –

met smaak geëet. En jy, jou baard
gefatsoeneer, eet dun snytjies roosterbrood
of kitspap met afgeroomde melk,
soen jou vrou en gaan ook dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae