Joan Hambidge (Geb. 1956)
Die pot koffie trek stadig maar seker;
die moer herinner aan ander kombuise,
ander liefdes.
Daar was ʼn tyd toe ek moes rissies
kap. Toe oë voltyds traan van uie
en verraad. En skinderknoffel
stinkend aan my hande agterbly.
Met jou is dit anders. Dit is asof
ek al die vorige messe skerp
mag ophang. Die ou bekers breek
vanself. Mislikhede word stadig
maar seker opgesuig. Voetjie
voetjie word ek heel.
Die skottelgoedmasjien reinig
aanklagte, verraad, verlies, dwaashede.
Die vloerteëls is witter, ja witter as Omo…
die stoof kook vele nuwe bredies
met die oond ʼn knipperende oog.
Net soms, net soms sien
ek weer die moer wat sak.
Dankie Joan…dankie Maroela