Gedig: Die vliegenier

Argieffoto (Foto: gustavmelin0, Pixabay)

Argieffoto (Foto: gustavmelin0, Pixabay)

Ernst van Heerden (1916 – 1997)

Hy ken die wolke bo die wêreldsome
en die bane van die môrewind;
hy ken die dun draad van die glans-riviere
wat vlak en verte fyn verbind.

In sterlose kuile van die dag sal nou
sy helder dobber duik en sink,
waar wyd die strandloos-ongekaarte see
van hemel en steeds hemel blink.

Die dieplood flits en bewe in die ruim
waar blou die wind se golwe slaan;
en op dié yle branderrug gehef,
bly hy ʼn oomblik roerloos staan.

O watter ewewig van aarde en lug,
en watter son se wit magneet,
hou hom in wonderstraling vasgevang
en laat hom van gʼn ruspunt weet?

Nou roer hy traag en kantel loom,
maar elke wenteling sal droef
en sneller wees, want al hoe wilder sing
ʼn donker vrese in sy skroef.

En plotseling weet hy van ʼn groter mag
as wind en drukking, staal en vonk;
die sekerheid van storting en van dood
wat êrens in sy motor ronk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eliza-beth ·

Dis so mooi, ek voel my ek is deel van die wonderlike vlug in ons bloue blou lug.

Dina van Niekerk ·

Dis nie dat Ernst vHeerden baie gehou het van vliegtuie nie – hy het, soos die meeste van ons wonderlike digters, ‘n baie fyn waarnemingsvermoe gehad. In die Rapport-Weekliks was daar verlede naweek ‘n pragtige artikel oor Ernst en die verlies van sy bene (of was dit nou in die By van Beeld?). Hy het ook gedig oor Die Gewigopteller, Die Hardloper, Die Bokser en vele meer!
Het jy nog jou Martriek Groot Verseboek – soek dit op! Kos vir jou gees … Dina

nig ·

Dina, ek stem, maar mens sal altyd vreemde kommentare oor alles kry… sela.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.