Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Seisoene later weer dieselfde paadjie
wat bos-in wegbuig tussen oewerriete
in ysblakers geplant. Die lug skulpglad,
subtiel agter geëtste boomdendriete.
Wreefdiep beweeg ons deur ou blarewrongel
tot jou wit greep die swart versperring toets:
styf en verbeeldingloos in sondagroes
halveer ‘n ysterhek die berketonnel.
Agter die tralies wat ons bedding keer
staan die verlate bank wydsbeen: toneel
van blindelingse uitval en pareer
twee jaar gelede plotseling afgespeel.
O asemloos en warmtewasend
word ons deur sagter aandrang van die bloed
nou tot ʼn vergelyk op staande voet
genoop om nuwe omweë te vind.
Hou my hart! Wie kan ons lieflike taal nog so gebruik soos sy? Heerlik om te lees!