Gedig: In die Hoëveld

Argieffoto. (Foto: Dapo Oni/Unsplash)

Toon van den Heever (1894 – 1956)

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ‘n jaar of tien,
Waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
Ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.