Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Jou nougesette buik volbring sy taak:
die kinderliggaam wat hy vervolmaak
verlos hy sonder om hom nog te steur
aan hoe sy vrug die eensaamheid trotseer.
Jou hande wat hom steun en voed en stuur
word steeds bedrewener maar op die duur
tog ook oorbodig, jou beperkte oë
moet sy ál verder voortdwaal blind gedoë.
En as hy eendag met ʼn frons pyn
jou aankyk het die towerwoord verdwyn
waarmee jou mond sy eerste angs kon troef.
ʼn Nuwe trots laat sy gelaat verstroef
en vrugloos swoeg jou hartspier wat die swaar
geboortekramp naboots en niks kan baar.