Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Bekyk haar goed – die strak gesig
wat stip sy blik na buite rig
stel mens gerus, want geen portret
vlei meer as dié van die skelet
wat alle weekheid laat verdwyn
en elke deug presies omlyn:
die oog is weifelloos, die mond
word nooit verleë of verwond;
die skouers flink, horisontaal
– jukstang van ʼn aptekerskaal –,
die hele blink struktuur van been
met weefsel skemerig daaromheen
is keurig inmekaar gepas,
en, deur die tyd onaangetas,
soos elke ware kunstenaarswerk
tot die essensie ingeperk.
Die res, wat blote bysaak is,
dryf omtrekloos deur ʼn dun mis:
die hart, met sy vertakkings, hang
dof agter traliewerk gevang;
kanale – bloed en limf en klier
en ingewande – wieg soos wier
en dié wat drif en droombeeld huis
swem wasig bo die bekkensluis
wat onintiem sy naaktheid toon
en soetheid van geslag verloën…
Al die verdriet en vreugde en vrees
was dus ʼn hersenskim gewees?
Meesterlike omgang met woorde. Kan Maroela eger nie ‘n aparte hofie (miskien as onderafdeling van Taaltoffie?) vir gedigte he nie? Mens moet so SOEK en as jy nie op een gedig klik kry jy nie die ander. Sal regtig ‘n aparte “leesplek” vir gedigte wou he!