C Louis Leipoldt (1880 – 1947)
Wys my die plek waar ons saam gestaan het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn, soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.
Wys my die plek waar ons saam gekniel het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,
Lag soos voorheen op my en op jou;
Dit skitter nog altyd ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.
Wys my die plek waar ons saam geloop het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het – of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?
- Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.