Luister: Spoegwolf se Danie nou ook digter

Danie du Toit (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Deur: Janie Monsieur

Danie du Toit is bekend daarvoor dat hy met woorde kan toor in talle bekende Spoegwolf-liedjies soos “Lenie Blou”, “Geel” en “Bittermaan”, maar nou stel Danie, oftewel Reënwolf, ook ʼn digbundel genaamd Warmer voor die Tuimeldroër bekend.

Hy het al sy hele lewe lank gedigte saam met sy pa geskryf. Danie het gewoonlik jaarliks digbundels vir sy nabye familie en vriende uitgedruk met sketse in, wat hy self geteken het.

Vanjaar wou hy meer met dié tradisie doen deur dit vir sy aanhangers ook beskikbaar te maak.

Danie sê sy digbundel se naam kom van ʼn spesiale herinnering wat hy as kind het, toe hy in die Paarl grootgeword het.

“Toe ek klein was, het ek altyd kaalvoet rugby gespeel – en dit reën daar in die winter. En as kind het ek gereeld op ʼn Saterdagoggend by die huis aangekom, vol modder, en dan het my ma vir my ʼn bad getap. Dit was so koud daar in die winter en die enigste plek waar dit warm was in die huis, was voor die tuimeldroër, so dit is waar ek gesit het om warm te word,” vertel hy.

Danie vertel liefde is een van die groot temas in die digbundel, juis omdat hy só graag oor die liefde skryf.

“Dit fokus maar op die dinge waaroor mens wonder, die dinge waaroor jy dink. Soos liefde. Ons almal probeer iets bewys, ek probeer bewys dat die liefde alles bedek. Dis vir my die belangrikste ding om te sê en ek probeer dit seker maar net oor en oor sê.”

Danie en Marguerite (Foto: Instagram)

Danie en sy vriendin, die Fynskrif-aktrise Marguerite van Eeden, het twee weke voor Warmer voor die Tuimeldroër gedruk moes word, die pad gevat sodat Danie die bundel kon voltooi.

“Ons het net in die kar geklim en al langs die kus af gery, sowat ʼn week lank. Ons het langs die see in die reën gekamp. Ek het dit [die digbundel] daar klaar geskryf,” vertel hy.

Tussendeur die skryf van Warmer voor die Tuimeldroër, het Danie saam met sy musiekgroep Spoegwolf ook ʼn album voltooi wat op 14 Februarie bekendgestel gaan word. Die eerste enkelsnit op dié album, “Seile”, is reeds hoog op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 gelys.

Danie sê die groep is opgewonde oor die nuwe album en dat hulle reeds werk aan hul volgende album, Swart, wat volgende jaar op dieselfde dag bekendgestel sal word.

Warmer voor die Tuimeldroër deur Danie du Toit (foto: Facebook)

“Hierdie album is verreweg die hardste album wat ons nog ooit uitgebring het. ‘Seile’ is die enigste liedjie wat soort van nie jou luidspreker sal laat breek nie, maar die res is lekker hard,” skerts hy.

Warmer voor die Tuimeldroër word op 5 en 7 Februarie by die Atterbury Teater in Pretoria bekendgestel en albei vertonings is reeds uitverkoop.

Danie sê hy is angstig, maar opgewonde om sy digbundel met mense te deel. Hy hoop dat dié geleentheid iets spesiaals is.

“Ek wil maar net saam met die mense weer ʼn keer iets van die magic beleef van dinge soos die liefde. Ek wil net opnuut weer bewys dat daar mooi dinge is,” sê hy.

Vir meer inligting besoek Danie se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.