Uitdrukking:
Dis klaar met Kees
Betekenis:
Dis alles verby. Daar is niks meer aan te doen nie.
Waar kom dit vandaan?
Die aanneemlikste verklaring in Malherbe is dat dit ‘n persoon in ‘n ou rympie oor Kees Malbaar is en uit die Afrikaans van die laat 19de eeu kom:
Faarwel, faarwel, vriendinnetjie,
Di afskijd neem ons nou.
Of gaan mar liwer tog mar mé
Dan kan ons net nou trou.
Dog as jij peuter, dan faarwel!
Faarwel fer seuwe jaar.
Dan sal dit fer ons altwé kwel,
Net soos ver Kees Malbaar.
Dat ons mekaar al twé bemin,
Dit weet ek allermees;
Mar nou wil jij net hê jou sin:
Faarwel, dis klaar met Kees.
Daar is ‘n Nederlandse uitdrukking wat lui “klaar is Kees”. Dit dra dieselfde betekenis as die Afrikaanse “klaar met Kees”. Ek sou nie verbaas wees as “klaar met Kees” en “klaar is Kees” uit oorsprong met mekaar verband hou nie.