Uitdrukking: Dit hotagter kry

(Foto: RyanMcGuire/Pixabay)

Uitdrukking:
Dit hotagter kry.

Betekenis:
“Dit hotagter kry” beteken dat dit in die algemeen moeilik of swaar met jou gaan. Dit kan ook verwys na uitdagende werk wat verrig word of om in ʼn moeilike posisie te wees. Byvoorbeeld:

  • Met al die ekstra werk en min hulp, kry ek dit regtig hotagter op kantoor hierdie week.
  • Sedert die droogte begin het, kry die boere in die streek dit hotagter om hulle gewasse te red.
  • Met die eksamen om die draai en soveel leerwerk wat nog gedoen moet word, kry ek dit hotagter om die werk betyds te memoriseer.

Waar kom dit vandaan?
Hierdie uitdrukking is afgelei van die posisie van die trekdier in ʼn span wat aan die linkerkant heel agter loop. Dit staan teenoor haaragter, die agterste posisie aan die regterkant.

Tydens ploegwerk, veral om draaie, ondervind die trekdier wat hotagter ingespan is die meeste druk en het dus ʼn swaarder taak as die res van die span. Vandaar die betekenis en verwysing na iemand wat onder moeilike omstandighede werk of sukkel.

Bronne: Spreekwoorde en ander segswyses, Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.